Terug na Egipte

10 June, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Terug na Egipte

Eksodus 4:10-30

???? VIDEO | ???? OUDIO

Moses is stomgeslaan oor die wonderwerke wat so pas met hom gebeur het. Maar terselfdertyd is hy steeds bang. Ja, hy het gesien wat die Here kan doen, maar baie jare het al verbygegaan sedert hy uit Egipte is, en hy het totaal verleer om met mense - veral belangrike mense te kommunikeer. Hy is nie meer daai Egiptiese Prins nie, hy is nou ‘n doodgewone skaapwagter, ‘n woestynbewoner! Boonop was hy nog nooit rêrag wel ter tale nie. Dan kerm hy by God: “Ag Here, ek kan nie goed praat nie, ek kon nog nooit goed praat nie. Ek praat swaar en my tong sukkel.”

Is dit nie ironies nie, dat God iemand kies om allerhande onderhandelinge te gaan doen met die Egiptiese regering en die Farao, die gevreesde koning, asook met ‘n spul weerbarstige Israeliete. Maar die persoon wat God kies om al die praatwerk te doen kan nie praat nie! Dit maak nie sin nie!

Maar dan moet ons weet dat God nie alleen opdragte gee nie, maar Hy verskaf ook die nodige toerusting om daardie opdrag te kan uitvoer. Dink maar net byvoorbeeld hoe Jesus tydens Sy hemelvaart vir die dissipels opdrag gegee het om die Evangelie te gaan verkondig aan al die nasies. Kort tevore het hierdie klomp nog uitmekaar gespat van vrees! Hulle was totaal hulpeloos. Maar dan, op Pinksterdag gee God hulle ál die toerusting wat hulle nodig het om te sorg vir die grootste Evangelie-ontploffing van alle tye. Jesus se belofte: “Ek is by julle” het Hy beslis gestand gedoen!

God verwag nie van ons om dinge te doen wat bo ons vermoë is nie. Dit is óns wat dikwels dink dat ons nie kan nie. Maar wees verseker: as God ons roep, dan wéét hy dat ons die vermoë het om die taak te kan uitvoer. En wat meer is: Hy gee die toerusting!

Daarom verduidelik die Here vir Moses dat dit Hy is wat aan die mens ‘n mond gegee het om mee te kan praat. Hy sal vir Moses help en Hy sal hom voorsê wat om te sê. Maar steeds kerm Moses: “Asseblief tog Here, stuur liewer iemand anders!”

Moses is halsstarrig en dan word God vir hom kwaad. Moses is die persoon wat God wil hê vir die taak. Maar waarskynlik om Moses ‘n bietjie selfvertroue te gee, maak God ‘n toegewing: Moses se broer, Aäron sal hom kom help en sy segsman wees.

Is dit nie opvallend nie, dat God wél Moses se besware ernstig opneem? Hy ignoreer dit nie maar net nie. Dit teken iets van God se oneindige geduld met ons as mense. Ten spyte daarvan dat Moses se gekerm God kwaad gemaak het, kom God steeds in liefde en Hy gee hom ‘n tydelike oplossing vir die ding wat Moses sien as ‘n reuse, onoorbrugbare probleem in sy lewe. Nie alleen maak God ‘n toegewing nie, Hy stuur selfs vir Aäron na Moses toe om hom te kom ontmoet! Boonop berei die Here selfs vir Aäron voor, want Moses moet hoor dat sy broer baie bly is om hom te sien.

Ja, inderdaad word Aäron toe wél Moses se spreekbuis, maar ons sien deurentyd vir Moses as die “meesterbrein” - die een wat die opdragte gee. Maar Moses sou dit nog berou dat Hy so daar voor God gekerm het, want Aäron het soms vir Moses groot hoofbrekens besorg, maar toe sit hy met hom. Jy sal onthou dat dit inderdaad Aäron was wat die goue kalf gebou het daar by die Sinaiberg. Uiteindelik het Josua algaande Aäron se rol begin oorneem.

Maar nou lê daar eers ‘n ander berg voor Moses - sy skoonpa Jetro. Hoe sou die man reageer as hy moet hoor dat sy veewagter nou skielik moet vertrek? Sal Moses dalk eers ses maande kennis moet werk? En erger nog: Jetro gaan nou sy geliefde dogter verloor, want met Moses wat by hom bly is sy lieflingkind elke dag by hom.

Maar selfs hier voorsien die Here en Hy berei vir Jetro voor, want as Moses daardie moeilike ding vir sy skoonpa vertel van dat hy Egipte toe moet gaan, is Jetro se reaksie dadelik: “Gaan gerus!” En dan word een van Moses se groot vrese ook besweer as die Here hom gerusstel oor sy vervolgers: Al die mense wat hom wou doodmaak is reeds dood, dus kan hy met veiligheid terugkeer na Egipte!

En so begin Moses se terugtog na sy land van herkoms. Met vroulief Sippora en die kinders op ‘n donkie, durf hulle die lang pad aan na Egipte. Iewers op die pad besny Sippora hulle seunjie met ‘n klipmes. Só verkry sy gesin ook deel van die verbond van God met Abraham. Aäron was toe ook alreeds op pad en by die Sinaiberg, waar Moses die ontmoeting met God gehad het, kom die twee bymekaar.

Nou is die tafel gedek vir God se groot verlossingsplan. Baie jare later sou daar wéér ‘n groot verlossingsplan wees - een wat nog véél groter en baie meer asemrowend sou wees as hierdie reuse plan wat besig was om te ontvou. Drie-en-’n-half-miljoen Israeliete moes bevry word uit slawerny - ‘n menslik-onmoontlike taak! Maar dit sou lyk na ‘n kleinigheidjie in vergelyking met die tweede verlossingsplan.

Gebed:

Here, ek kan maar net my hande saamslaan in verwondering as ek dink aan die wyse waarop U mense bevry uit slawerny!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026