Terug Huistoe

12 May, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Terug Huistoe

Handelinge 14:21-28

VIDEO | SPOTIFY

Vroeg die oggend vertrek Paulus en Barnabas op die laaste been van hulle sendinguitreik. Derbe is sowat 200km oos van Listra, vier dae se reis per voet. Wanneer hulle daar aankom gebruik Paulus en Barnabas weer hulle gewone resep om te preek en die Evangelie eers aan die Jode te bring en daarna aan al die ander mense. In Derbe gebeur daar niks opwindend nie.

Het ek miskien gesê dat niks opwindend gebeur het nie? Dan was ek báie verkeerd, want in een enkele sinnetjie skryf Lukas: “Baie mense het daar gelowig geword.” Is dit nie opwindend nie? Wow! Dikwels preek 'n leraar elke Sondag vir 'n jaar lank en dan raak daar moontlik een of twee mense gelowig. Paulus-hulle preek vir 'n baie kort tydjie en daar word sommer baie mense gelowig!

Ek dink weer terug aan daardie dag tydens ons uitreik in Mosambiek, waar daar tydens een enkele preek 'n skare van mense gelowig geword het. En waar hulle geloof oor die afgelope paar maande só geblom het dat daar uiteindelik 'n volwaardige aan-die-brand gemeente ontstaan het!

Paulus en Barnabas se taak was afgehandel, en dan vertrek hulle terug na hulle tuisgemeente. Maar eers is daar 'n bietjie opvolgwerk om te doen, nét om doodseker te maak dat alles reg verloop het in die nuutgestigde gemeentes waar hulle so pas die blye boodskap verkondig het. Onverskrokke stap hulle terug in hulle eie voetspore, eers na die dorp waar Paulus so pas “doodgegooi” is met klippe, Listra. Daarna is hulle na Ikonium en Antiogië, die stad waar hulle só baie teenstand gekry het. En dit was ook juis die Jode van Antiogië wat vir hulle soveel hoofbrekens in die ander stede gegee het, want hulle wou maar net nié sien dat die geloof in Jesus deur die wêreld versprei nie!

Oral waar die twee sendelinge aandoen bemoedig hulle die gelowiges en berei hulle voor daarop dat hulle beslis baie teenstand moes verwag. Maar hulle moes vasbyt en getrou bly, want dit is júís verdrukking wat jou by die Koninkryk van God uitbring.

Maar daar was ook 'n ander taak wat die twee moes verrig: hulle moes strukture skep in hierdie nuwe gemeentes sodat hulle ordelik kon funksioneer. Daar is mense aangestel wat leiding moes neem in die gemeentes, ouderlinge. Anders as wat vandag dikwels die geval is, waar 'n ouderling gewoonlik maar net toesig hou oor sy wyk, het hierdie ouderlinge 'n groot taak gehad. Hulle moes die gemeente leer en oplei om ware dissipels te wees. Dit was hulle taak om te preek asook om die hele bestuur van die gemeente te behartig. Hulle moes sorg dat die leer van die Evangelie suiwer verkondig word.

Eintlik is dit vandag nog steeds dieselfde taak van die ouderlinge. Dit is nie die leraar se taak om al hierdie dinge te doen nie, maar die ouderlinge s'n. Ons skram weg van die ware taak waarvoor die Here ons bestem het, want dit is mos gerieflik om alles aan die dominee of pastoor oor te laat. En só dikwels gebeur dit dan dat die arme man uitbrand omdat daar te veel op sy skouers rus! Dan wonder ons waarom hy nie sy werk behoorlik doen nie, of waarom hy so moeg lyk?

Van Antiogië af gaan hulle terug na Perge, waar Johannes Markus hulle verlaat het. Toe hulle die eerste keer deur hierdie stad is, het hulle nie vertoef nie, maar reguit na Antiogië gegaan. Met hulle terugkoms besluit die twee dat die Evangelie ook dáár moes weerklink, en het hulle die Woord gaan verkondig aan die mense van Perge. Daarvandaan vertrek hulle na die hawestad Attalië waar hulle aan boord gaan op 'n skip wat hulle terugneem na hulle moedergemeente in Antiogië in Sirië.

Daar heers groot opgewondenheid in die gemeente wanneer die twee daar aanland, en die ganse gemeente is daar om te kom hoor wat alles gebeur het. Lukas skryf dit dalk nie in soveel woorde nie, maar ek kan my indink dat hulle tot laatnag aan Paulus en Barnabas se lippe gehang het en hulle bestook het met vrae. Hulle wou álles weet, elke klein detail. Dit was vir hulle baie, baie belangrik, want hulle was immers deel van hierdie uitreik. Hulle was in die gees dáár saam met die twee manne, elke tree van hulle sendingtog, al was hulle nie fisies by hulle nie. Hulle het die twee in gebed gedra deur elke moeilike situasie.

Wanneer ons gemeente iemand uitstuur op 'n sendinguitreik, is dit nog steeds nét so belangrik dat ons die sendelinge sal dra in gebed. Hulle gaan immers namens ons. Met die moderne tegnologie tot ons beskikking kan ons hulle gewoonlik ook maklik bereik met 'n WhatsApp. Versterk hulle deur gedurig in kontak te bly en hulle te laat weet dat jy hulle in gebed dra. Dit maak dat so 'n sendeling sy moeilike taak, dikwels onder baie moeilike en soms selfs gevaarlike toestande, met soveel meer vreugde en vrug kan uitvoer!

Gebed:

Here, vanoggend wil ek die sendelinge aan U opdra in gebed. Maak asseblief harte oop vir die nodige fondse om die uitreike moontlik te kan maak. En maak die harte van diegene wat hulle besoek vrugbare grond vir die Evangelie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026