Tempel van God

18 July, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Tempel van God

1 Korintiërs 3:16-23

Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?” vra Paulus geskok! Dan waarsku hy ernstig: “As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.”

Harde woorde! Maar wat presies bedoel Paulus? Word hier spesifiek gepraat van jou liggaam? As ons ‘n bietjie verder lees, sien ons in 1 Kor 6:19 dat Paulus sê dat ons LIGGAAM ‘n tempel is van God, en dat ons dit nie durf besoedel met (byvoorbeeld) ‘n losbandige lewe nie.

Dit wil egter voorkom asof hier van twee verskillende dinge gepraat word. Paulus verwys na ‘n meervoud, en dus kan ons aanneem dat hy verwys na die kerk of gemeente as ‘n tempel van God sowel as die indiwidu. Dit plaas ‘n geweldige groot verantwoordelikheid op jou. Dit beteken dat jy baie wyer moet dink as net jouself. In die vorige perikoop het ons duidelik gesien hoe jou geestelike bouwerk moet lyk. Nou verduidelik Paulus juis waarom hierdie bouwerk so goed gedoen moet word. Omdat die Gees van God in daardie gebou van jou woon.

Dalk moet ons eers na die breër prentjie kyk. Hoe raak jou optrede die kerk of gemeente? Onsensitiewe optrede kan ‘n gemeente se beeld baie groot skade berokken. Dalk onthou jy nog van die dominee wat in sonde verval het, en die hele gemeente se naam krater gemaak het. Toe word die buurgemeente óók nog daarby betrek. ‘n Gelowige wat in sonde verval, word baie gou raakgesien deur veral die ongelowiges, en dan word daar vinger gewys, en gesê: “Dis hoe die KERK maak!” Van ‘n ongelowige verwag die wêreld dat hy dalk sal struikel. Die wêreld verwag egter dat ‘n gelowige staande moet bly, en almal wag net vir die dag dat hy óók tot ‘n val moet kom, nét sodat hulle kan sê: “Kyk hoe skynheilig is gelowiges!”

Dit gaan egter nie oor óns, en hoe óns beeld lyk nie, maar ons moet deeglik besef dat ons die beelddraers is van die kerk, Jesus se eiendom. Maar ook die beelddraers van Christus sélf! As ek my beeld dus beskadig deur sonde, dan beskadig ek die beeld van die kerk en van Christus. Daarom is dit so belangrik dat ons altyd moet onthou dat ons die tempel van God is.

Dit is egter nie net na buite wat ons kan skade aanrig as ons sondig nie, maar ook na binne. Daardie leraar wat in sonde verval het, het ook na binne bitter baie skade aan die gemeente gedoen. Die moreel van die gemeente moes sékerlik na daardie insident uiters laag gewees het, en dit sou baie lank neem voordat hulle weer optimaal kon funksioneer. Dit is veral wanneer dit in kerkleierskap gebeur as iemand struikel, dat dit ‘n groot invloed het op die hele gemeente. Gemeentelede wat nie baie sterk staan in die geloof nie, word die ergste geraak, en hulle verloor baie gou moed. Dit veroorsaak egter verder ook dat mense sondig, want dan begin hulle skinder en kwaadpraat, en dikwels word selfs onskuldige persone betrek. ‘n Bose kringloop!

Wees dus baie versigtig wat jy doen! En as begeertes jou wil oorweldig - dink aan die gevolge van jou aksies op ‘n baie wye front.

Daar is egter ook ‘n ander, baie belangrike sy van die saak. Jy moet jou liggaam beskou as ‘n tempel van God ter wille van jouself én jou persoonlike verhouding met God. As ons 1 Kor 6:16 in ag neem, kan ons nie anders nie as om te moet erken dat hier van jou eie liggaam gepraat word. Dit is dus jou verantwoordelikheid om jou liggaam op te pas. “Die tempel van God is heilig,” sê Paulus, en daarom durf ons nie hierdie tempel (liggaam) beskadig nie. Jou liggaam behoort nie aan jouself nie, maar aan God. Hy het dit immers geskep. “Julle behoort aan Christus,” sê Paulus in 1 Kor 3:23. Deur dit doelbewus af te kraak deur ongesond te lewe, is dus sonde. Hoe leef jy ongesond? Verkeerde gewoontes soos rook, dwelms, drankmisbruik, te veel eet, te min eet. Hierdie is alles dinge wat die liggaam wat Hy aan jou toevertrou het, vernietig.

Daar is ook ander maniere waarop jy hierdie tempel kan onteer: ‘n losbandige lewe is nie alleen walglik en ‘n oneer vir God nie, maar dit stel jou ook in die gevaar om gevaarlike siektes soos vigs op te doen. Nog erger is dat jy selfs hierdie siektes aan ander mense kan oordra.

Maar die Here sê nie net die hele tyd vir ons “Moenie, moenie” nie! Hy wil dat ons hierdie tempel van ons tot Sy eer gebruik. Leef gesond en straal ‘n positiewe beeld uit met jou liggaam. Straal ‘n beeld uit wat die Naam van God verheerlik. Die doel van ‘n tempel is immers dat jy God daarin sal sien, en dit is presies wat ons met hierdie tempel moet doen. Vriendelikheid, empatie en liefde moet só daaruit straal, dat elkeen God daarin sal herken.

Gebed:

Here, maak my asseblief elke oomblik bewus daarvan dat ek U tempel is, en dat ek daarom U liefde daarmee sal uitstraal.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026