Teenspoed is Loutering

26 February, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Teenspoed is Loutering

1 Tessalonisense 3:1-5

In die vorige dagstukkie het ons gesien hoe Paulus na die gemeente in Tessalonika verlang het. Dit was egter vir hom onmoontlik om daarheen terug te gaan om hulle te gaan sien. Hy het geweet dat hulle geestelike hulp nodig het, maar hoe nou gemaak? Toe stuur hy vir Timoteus in sy plek!

Daar is ’n belangrike aspek van ons geloofslewe waarmee ons moet rekening hou, en dit is die feit dat ons ook stormwater moet verwag wanneer ons geloofsbootjie oor die meer gly. Dan moet jy strategies beplan! Toe Paulus-hulle in Tessalonika die Evangelie verkondig het, het hulle in die moeilikheid beland. ‘n Paar Jode het onder hulle prediking tot geloof gekom, maar die res was baie skepties. Toe het die manne maar vir die Grieke begin preek, en ‘n groot aantal van hulle het tot bekering gekom. Dit het die Jode van die stad die harnas ingejaag, en hulle het begin kwaad stook. Hulle huur ‘n klomp leeglêers om ‘n betoging op tou te sit, en so bring hulle die hele stad in beroering.

Só erg was dit, dat Paulus en sy geselskap uit die stad moes sluip in die nag uit vrees vir hulle lewens. Die Gemeente het hulle na Berea toe geneem. Maar ook dáár het hulle in die moeilikheid gekom, want die jaloerse Jode van Tessalonika het gehoor dat hulle in Berea is, en dat hulle die Evangelie suksesvol daar verkondig. En toe doen hulle presies dieselfde ding, en stook ‘n opstand in Berea. En weereens moes Paulus vlug vir sy lewe, en is hy na Atene toe. Maar hierdie slag laat bly hy vir Timoteus en Silas in Berea agter om die werk stilletjies voort te sit. Timoteus is later teruggestuur na Tessalonika om die gelowiges te help, en deur briefwisseling kon Paulus met die gemeente kommunikeer en hulle so versterk.

Dikwels dink mense dat alle probleme aan sonde en kleingeloof toegeskryf moet word. Ons moet verwag dat daar teenspoed sal kom as ons ernstig is oor ons werk vir die Here, en ons moet voorbereid wees daarop. Beproewings en teenspoed is dikwels deel van God se plan met ons, en dit versterk jou geloof. Probleme maak dikwels vir jou nuwe deure oop! Moenie in sak en as gaan sit as dit jou tref nie, maar maak werk daarvan, en as dit moontlik is, laat die teenspoed vir jou werk!

Baie mense aanbid ‘n “gelukbringer-god.Hulle glo dat die Here alle vorms van teenspoed van hulle sal weghou. God belowe nie dat Hy nooit teenspoed oor jou lewe sal laat kom nie, maar wat Hy wél belowe is dat Hy jou sal beskerm en krag gee deur die teenspoed heen. Onthou wat Jesus gesê het in Mat. 5:11: “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel.

Ons moet dalk eerder teenspoed in die lewe van ‘n gelowige sien as ‘n smeltkroes. As ons kyk na die proses om goud te suiwer, dan weet ons dat gevaarlike chemikalieë gebruik word, soos chloor. Boonop moet die goud ook gesmelt word teen ‘n baie hoë temperatuur, meer as 1000 grade Celcius. Maar wanneer die goud deur hierdie proses is, dan is dit feitlik 100% suiwer, ‘n kosbare en baie gesogte metaal. In skrille teenstelling hiermee, is ‘n vullishoop. In Bybelse tye is vullis verbrand. Dit het die vullis totaal vernietig en in rook laat opgaan. Daar bly niks meer oor as waardelose stinkende as nie.

Dit is nie God se doel met die gelowige wanneer daar teenspoed oor jou lewe kom, dat jy soos vullis vernietig word nie, maar eerder dat jy soos goud gesuiwer word. Sodoende word jy meer bruikbaar vir God se Koninkryk, en terselfdertyd lewe jy nader aan Hom.

Ten slotte moet ons ook rekening hou met die duiwel, die verleier. Paulus was bekommerd dat die duiwel dalk sy sin sou kry in Tessalonika. Alhoewel Jesus reeds die duiwel oorwin het, probeer hy steeds om gelowiges van Jesus weg te rokkel. Ja, in Tessalonika het die duiwel sékerlik hard probeer om al Paulus se planne in die wiele te ry. Maar wat was die resultaat? Paulus moes na ‘n kort rukkie daar vlug en die gemeente aan hulle eie lot oorlaat. Het dit hulle vernietig? Nee, baie beslis nie. Dit het hierdie mense eerder geleer om op hulle eie voete te staan. As hulle wou oorleef, kon hulle nie wag totdat ‘n Dominee eers beroep is om hulle leiding te kom gee nie. Daar wás nie een om te beroep nie! Nee, hulle moes sélf die ding doen. En hulle het dit baie goed reggekry, want al wat nodig was, was dat Timoteus later net ‘n bietjie kom hand bysit vir ‘n rukkie, om hulle geloof te versterk en hulle moed in te praat.

Paulus se goeie raad in Efes. 6:11-17 is om die volle wapenrusting aan te trek om die duiwel se aanslae af te weer. Gebruik dan selfs die duiwel se aanslae om jou sterk te maak en te laat groei in die geloof.

Gebed:

Here, dankie dat ek ook dikwels beproef word, en vir die moeilike tye wat oor my lewe kom. Ek is dankbaar dat U my deur alles dra en my daardeur sterk maak vir U Koninkryk.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026