Swaar Tye Lê Voor

28 October, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Swaar Tye Lê Voor

Handelinge 11:27-12:2

VIDEO | OUDIO

In die tyd van die nuwe kerk was daar nog nie ‘n Bybel soos wat ons dit vandag ken nie. Die enigste geskrif wat toeganklik was vir meeste mense was die Septauginta, die Griekse vertaling van die Ou Testament. Die Nuwe Testament het eers driehonderd jaar later tot stand gekom. Paulus se sendingbriewe was die eerste geskrifte in hierdie tydperk. Die evangelies het eers baie jare later gekom. Profete het dus ‘n baie belangrike rol gespeel om die wil van God aan die gemeente oor te dra. Vandag is ons natuurlik wonderlik bevoorreg om die wil van God in die Bybel te kan lees. Profete se taak was nie om die toekoms te voorspel nie maar bloot om onder die inspirasie van die Heilige Gees God se wil aan die gemeente bekend te maak oor die onmiddellike toekoms.

So het dit gekom dat ‘n man met die naam Agabus vir die gemeente kom vertel het dat ‘n groot hongersnood die wêreld sou tref. In die jare 46-48nC word dit waar en ‘n verskriklike hongersnood tref veral die gebied in Judea. Wat die saak vererger het, was dat dit ‘n sabbatsjaar was wat beteken het dat die Israeliete verbied was om te ploeg of plant vir die volle jaar.

Die gemeente in Antiogië het hulle geldjies bymekaargesit en vir Saulus en Barnabas daarmee na Jerusalem gestuur om die sukkelende gemeente daar te gaan help. Wat ‘n pragtige voorbeeld is hierdie nie vir ons vandag nie! In Suid Afrika is hier skatryk gemeentes met paleis-kerke van baie miljoene rande. Hier is egter ook sukkelende gemeentes wat skaars aan die lewe kan bly deur omstandighede buite hulle beheer. ‘n Voorbeeld is die NG Gemeente in Durban se middestad. Hierdie was eens ‘n florerende gemeente wat verarm het tot een wat hoofsaaklik bestaan het uit 'n handjievol brandarm oumense wat skaars geld gehad het vir kos. Hulle kon nie eers hulle leraar betaal vir sy dienste nie en hy het sonder vergoeding aangehou om hulle te bedien! O, daar is talle gemeentes soos hierdie, wat sukkel om kop bo water te hou. Wat het van ons Christelike liefde geword? Gelukkig het die ander gemeentes van die Durban omgewing dit raakgesien en ingegryp om die Metropool Trust te stig. Vandag blom daardie eens-sukkelende gemeente! Vanuit hulle kerkgebou word die evangelie vandag uitgedra aan duisende mense in die strate van Durban, in verskeie tale, selfs Frans!

Armoede binne die kerk móét net eenvoudig aangepak word. Ons as gelowiges kan nie maar net verbystap en die kop wegdraai terwyl ander gelowiges honger ly of swaarkry nie. Ons eerste prioriteit is in ons eie gemeenskap, maar dit geld natuurlik ook vir ander dele van ons land en selfs in ander lande. Die afgelope paar jaar het ons dit telkemale beleef toe rampe verskeie dele van die land getref het en gemeentes sonder versuim ingespring het met hulp! Die gelowiges in Antiogië het die voorbeeld gestel en gelowiges gaan help wat baie ver van hulle af gewoon het.

Lukas vertel nou van ‘n dramatiese nuwe vervolging wat die kerk getref het. Herodus Agrippa I was die kleinseun van Herodus die Grote, daardie wreedaard wat verantwoordelik was vir die baba-moord tydens Jesus se geboorte. Agrippa was op ‘n jong ouderdom na Rome gestuur, waar hy bevriend geraak het met twee van die latere keisers, Gaius en Tiberius. Die gevolg was dat hy eers as koning van die noordelike deel van Israel aangestel was en later ook oor Judea. Hy het hard probeer om die guns van die Jode en veral die Fariseërs te wen.

Oorspronklik was die gelowiges slegs deur die Joodse Raad vervolg, want polities het hierdie gelowiges vir niemand ‘n bedreiging ingehou nie. Die Jode was suur omdat die gelowiges ‘n prediking aanhang wat volgens hulle “Godslasterlik” was en boonop omdat hulle geneig het om die wet van Moses as minder belangrik te ag. Die vervolging kry egter nou ‘n politieke kleur want Herodus se politieke status was op die spel en as hy dalk ‘n paar Christene sou vervolg, sou hy die guns van die Joodse Raad kon wen. Vir hom was dit dus van uiterse belang!

Toe hy begin om die Christene te vervolg, het hy gou gesien hoe breed die Fariseërs glimlag en dit was vir hom soos vet in die vuur! Die eerste apostel wat moes betaal vir Herodus se magsbeheptheid, was Jakobus, die broer van Johannes, een van die seuns van Sebedeus. Die arme man was met die swaard tereggestel, suiwer omdat hy ‘n gelowige was! Jakobus was maar een van talle wat oor die volgende jare onskuldig sou moes betaal vir iemand se politieke aspirasies. Ons weet hoe die keiser Nero byvoorbeeld bloeddorstig die gelowiges op strepe laat doodmaak het op die wreedaardigste wyses denkbaar.

Die Fariseërs was natuurlik in die wolke oor Jakobus, want een van die groot leiers van hierdie “sekte” het gesneuwel! Natuurlik het Herodus die vibrasies opgetel en toe spoor dit hom aan om die “groot kanon”, Petrus in die hande te kry. Maar hierdie is ‘n héél ander storie vir ‘n ander dag, want in hierdie verhaal sien ons die wonderlike almag van God en hoe Hy kan ingryp, selfs in die totaal onmoontlike situasies!

Gebed:

Here, ons weet dat talle gelowiges vandag nog sterf en wreed vervolg word vir hulle geloof. Ons gebed vanoggend is dat U hulle die genade sal gee om hierdie vervolging met blydskap en vreugde te aanvaar!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026