Suurdeeg

18 July, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Suurdeeg

Matteus 16:1-12

VIDEO | OUDIO

Suurdeeg is ‘n wonderlike ding. Kyk nou maar net hoe kan hy toor met ‘n sakkie meelblom! Een van die groot lekkertes van ‘n kuiertjie in die Bos, is natuurlik daardie siel-salige uitstrek by ‘n hardekoolvuurtjie, en die klanke en geure van die veld indrink. Om te sit en staar na die vlammetjies wat bokspring en dans en huppel en allerhande prentjies optower. En dit natuurlik terwyl jou vleisie rustig op die kole lê en lekker raak en daardie vingerleklekker geur van die smeulende hout soos ‘n spons indrink. Maar sekerlik die belangrikste is jou potbroodjie wat daar eenkant op ‘n paar rustige kooltjies staan en stoom!

Maar om daardie potbroodjie so goudbruin en donsig-sag te kry, het jy ‘n paar dinge nodig. Natuurlik meelblom en sout en sommer ’n bietjie kruie vir die smaak, maar sonder die pakkie suurdeeg sal hy soos ‘n baksteen smaak. Dis harde werk om die suurdeeg behoorlik deur te knie. Maar dan begin die wonderwerk as die wit deeg hier voor jou oë begin rys en rys, totdat hy naderhand oor die skottel se rand probeer ontsnap! Wonderlik hoe ‘n ou klein bietjie suurdeeg ‘n hele skottel deeg in ‘n heerlike, geurige, stomende, watertand broodjie kan verander. As jy na ‘n uur se bak die pot se deksel lig, dan weerklink dit om die vuur: “Aaaaah!” van pure verwondering. Dit is dán dat jy selfs skoon kan vergeet van die peperduur biefstuk op die kole!

Hoe werk suurdeeg? Ek weet nie, maar wat ek wél weet, is dat dit alles waarmee dit in aanraking kom, affekteer. Gooi jy ‘n teelepeltjie vol in ‘n bak meel, dan begin dit naderhand borrel en blaas en dit raak ‘n lewende organisme. Gooi ‘n bietjie suurdeeg in ‘n emmer vol water en suiker met ‘n bietjie gemmer en ‘n handjievol rosyntjies, en netnou raak daardie ‘n heksebrousel wat borrel en kook en stoom en gis. Die eindproduk is dikwels ‘n ding met ‘n liederlike skop as hy lank genoeg laat staan word! Die suurdeeg maak van die rustige watertjie ‘n baie kwaai brousel.

Ek het al ‘n slag of wat maroelabier gemaak in die Laeveld. Dit maak nogal ‘n heerlike verfrissende drankie. Per geleentheid het ek ‘n bietjie suurdeeg bygegooi en laat hom sommer lekker lank staan, nét om te sien wat gebeur. Na ‘n week het daar vir jou ‘n klankie uitgekom wat skrik vir niks! Half huiwerig het ek vir my ‘n glasie geskink. Daardie borrelende brousel het ‘n skop gehad soos ‘n muil! Giftig! En boonop totaal ondrinkbaar.

Dalk is dit juis hierdie soort invloed wat die Jode suurdeeg in ‘n negatiewe lig laat sien het. Hulle het geglo dat suurdeeg eintlik in ‘n sekere sin agteruitgang veroorsaak. Gedurende Paasfees was alle suurdeeg dan ook uit die huis gesmyt as ‘n simboliese aksie, en die brood wat gebak word is sonder suurdeeg gebak. Ek kan my indink hoe onsmaaklik sulke ongesuurde brood moes smaak! In die Nuwe Testament word suurdeeg dan gewoonlik ook, met slegs een of twee uitsonderings in ‘n negatiewe sin gebruik. In Matteus 16:6 waarsku Jesus byvoorbeeld Sy dissipels teen “die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs”.

Net soos wat ‘n klein bietjie suurdeeg ‘n groot invloed het, het een enkele persoon dikwels ‘n invloed op baie mense. Hitler was ‘n kragtige “suurdeeg” wat miljoene mense beïnvloed het. Net so kan ‘n enkele negatiewe persoon ‘n hele gemeente versuur. Ek onthou die Sondag toe ‘n gemeentelid opgestaan het tydens die Erediens en aangekondig het dat hy nie langer na die dominee se “snert” sou luister nie. Dit het die ganse erediens totaal geruïneer! Een persoon se negatiewe houding kan ‘n hele gemeente saamsleep op sy donker pad.

Maar suurdeeg kan ook in ‘n positiewe lig gesien word, soos in Matteus 13:33 beskryf word. Dink maar aan daardie geurige potbrood. Een enkele persoon kan ‘n hele gemeente positief beïnvloed met byvoorbeeld liefde wat uitstraal of blydskap of entoesiasme. Toets dit maar: stap in ‘n vertrek in waar ‘n klomp teneergedrukte mense sit. Begin om vrolik en hartlik die mense te groet met blydskap wat uit jou hart kom en binne minute verander die ganse stemming van daardie groep. Mense wat totaal afsydig is, sal selfs met mekaar begin gesels. Dit is hoe goeie suurdeeg werk.

Die wonderlike van suurdeeg is dat dit ‘n lewende organisme is. Dit is nie soos byvoorbeeld bakpoeier wat slegs vir een baksel die deeg kan laat rys nie. Suurdeeg kan aangaan en aangaan. As jy ‘n bietjie van die deeg wat ingesuur is bêre, kan jy more en oormore en volgende maand nog steeds deeg daarmee laat rys. Net so is ‘n gelowige se positiewe suurdeeg ook nie maar ‘n eenmalige ding nie, maar dit moet ‘n lewenswyse wees van positiewe inspirasie en blydskap wat aangaan en aangaan sonder ophou, selfs deur swaar tye. Op hierdie wyse gee jy dan ook vir ander mense moed en veral belangrik: hoop!

Die belangrike om egter te onthou, is dat niemand dit kan doen uit eie krag nie. Die Heilige Gees alleen kan jou die krag gee om vol te hou daarmee om goeie suurdeeg te wees en geurige “potbrode” te bak. Maar ewe belangrik is, dat jy aan elkeen wat geraak word deur jou suurdeeg, dit sal duidelik maak waarvandaan jou krag kom.

Gebed:

Here, maak my asseblief ‘n goeie suurdeeg in U Koninkryk, en gee my die krag om dit uit te leef tot U eer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026