Storm op die See

30 August, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Storm op die See

Lukas 8:19-25

Hoe groot is die almag van God? Om net so ‘n klein kykie te kry is skeppingsmisterie en grootheid van God, kan ons weereens ons oë ophef na die sterre. In die baie bekende Orion-sterrebeeld is daar ‘n paar sterretjies wat baie helder uitstaan. Die een wat die regterskouer van die reus uitmaak trek dadelik jou aandag. Sy naam is Betelgeuse. Hierdie is ‘n baie besonderse ster, een van die sogenaamde “Super reuse”. Hy is 60’000 keer so helder as die son en het ‘n deursnee van 5,6 AE. ‘n AE (astronomiese eenheid) is die afstand van die son na die aarde. Dus, as hierdie ster in die plek van die son sou wees, dan sou sy buiterand byna 3 keer so ver as wat die aarde van die son af is, gestrek het. Betelgeuse is dus so groot dat hierdie enkele ster die helfte van ons hele sonnestelsel met al sy planete sou kon insluk! En steeds is dit maar slegs een van baie biljoene ander groot sterre, en slegs ‘n spikkeltjie in die heelal - God se skeppingswerk! Kom ons vra dan nou weer: hoe groot is die almag van God?

As ons hierdie beeld in die agterkop hou, en jy gaan lees die verhaaltjie wat Lukas skryf oor die gebeure in die boot, dan maak alles sin en jy begin so ‘n ietsie van Jesus se mag sien. Die probleem is egter dat ons eie probleme vir ons dikwels so groot lyk dat ons skoon toeslaan en gladnie die Here se almag kan raaksien nie!

Rondom die see van Galilea is daar etlike berge en klowe. Dikwels vorm daar sterk winde wat in hierdie klowe afstroom, amper soos deur ‘n tregter, en dan veroorsaak dit baie skielike en hewige storms op die meer. Jesus en die twaalftal was juis in ‘n vissersbootjie op pad na die oorkant van die meer, toe een van hierdie onvoorspelbare storms hulle tref. Jesus het gelê en slaap. Gn wonder nie, want Hy moes sekerlik uitgeput gewees het na maar net nóg ‘n marathon-dag van preek, siekes gesond maak, duiwels uitdryf en vertrap word deur duisende mense wat almal Sy persoonlike aandag wou hê.

Die manne was doodsbenoud, want hulle klein skuitjie het soos ‘n dobbertjie in die groot oseaan gevoel, en hulle het al gesien hoe hulle die dieptes insink. Hulle skud Jesus wakker. Hy het deur al die opgewondenheid steeds rustig gelê en slaap. “Ons sink! Ons vergaan!” skree hulle benoud. ‘n Enkele woordjie van Hom laat die woeste wind en golwe bedaar sodat daar skielik ‘n doodse stilte en kalmte kom.

Jesus verwyt die manne oor hulle ongeloof. Vir die afgelope tyd sien hulle elke dag die wonderwerke wat Hy doen. Hulle sien die mees asemrowende dinge gebeur. As dit egter hulle eie basse begin raak, dan begin hulle twyfel oor presies waartoe Jesus in staat is. Hulle het duidelik nog ‘n baie lang pad gehad om te loop voordat hulle gereed was om die leiding van die kerk oor te neem.

Wie is Hy tog?” vra hulle in ongeloof. Hulle het nog nie eers begin om te verstaan wie hierdie Jesus is wat al die wondere laat gebeur nie.

Die vraag is of ek en jy mooi verstaan presies wie Jesus werklik is? Ek dink dat, nes die twaalf manne van daardie tyd, dat ons nie aldag werklik besef met wie ons te doene het nie. In die eerste plek dink ek dat ons ou verstandjies net eenvoudig te klein is om ‘n begrip van Hom te kan kry, want Sy almag, alwetenheid en alomteenwoordigheid is baie groter as wat ons kan verwerk. ‘n Man sê eendag vir my dat hy nie aan God kan glo nie, want hoe is dit ooit moontlik vir iemand om tegelyk op baie verskillende plekke te wees? Ja, hy is reg! Ons verstand kan nie sulke dinge begryp nie, want dit pas nie in ons verwysingsraamwerk in nie.

Tóg is die bewyse oorweldigend. Dink maar aan die ster waarvan ons hier bo praat, Betelgeuse. Ons kan nie ‘n begrip vorm van hoe verskriklik groot daardie ster werklik is nie. Nogtans is hy ‘n werklikheid, bewys deur die sterrekundiges. Dit lyk absoluut onmoontlik vir iemand wat dodelik siek is om eensklaps blakend gesond te wees. Medies gesproke is dit nie moontlik nie! Nogtans gebeur dit, en dan moet die dokters dikwels net hulle koppe in ongeloof skud!

Al hierdie dinge moet ons net weereens onder die besef bring van die absolute grootheid en almag van die Here. Dit is nie nodig dat ons die wonderwerke ervaar en moet sien nie - al die bewyse is alreeds daar. Maar hierdie dinge moet ons aanspoor tot aanbidding van Hom wat oor alles heers en vir Wie niks onmoontlik is nie. Besef ons ooit nog wie God werklik is? Ons bring nie eers naastenby genoeg lof aan Hom nie, en ons praat van Hom asof Hy maar net nog ‘n deeltjie is van ons geloof. Kom ons raak vandag diep onder die besef van Wie ons aanbid, en ons gee Hom die lof en eer wat Hom toekom.

Gebed:

Here, vanoggend val ek voor U neer in aanbidding, want ek is maar net ‘n stoffie voor U groot almag.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026