Stille Nag

21 May, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Stille Nag

1 Johannes 1:1 - Hy is die Woord, die Lewe!

VIDEO | OUDIO

Dis stil, dood, doodstil in die Bos - dit is nou Marloth Park se Bos, waar ons destyds ons boshuisie gehad het. Ver, baie ver dreun die groot krokodilrivier saggies. Die gesellige ou vuurtjie se vlammetjie maak allerhande patrone: feëtjies wat op ‘n stomp dans, ‘n erdvark met sy lang snoet en ‘n gloeiende rooi oog.......

Die nag is donker en skrikwekkend. Hugge-hugge brul-lag ‘n seekoei vulgêr en onbeskof. Die kolganse babbel onbedaarlik in Egipties en skel op mekaar oor die een die ander se persoonlike spasie binnedring. Buite die ligkring van die vuurtjie is dit stikdonker nag. Iets beweeg daar in die onsienbare, tasbare duisternis. 'n Takkie kraak. Dan stilte. Oorverdowende stilte! Ek en Mosbolletjie sit elkeen met ons eie gedagtes. ‘n Ongemaklikheid bly aan my binneste knaag. Oorkant die Groot Krokodil brul ‘n leeu innig, diep, saggies met groot gesag. ‘n Sagte, koel luggie stoot op vanuit die rivier. Dis asof ek die sagte stem van God daarin hoor: “Moenie bekommer nie - Ek is in beheer!” ‘n Groot rustigheid daal oor my gemoed. God ís inderdáád in beheer van alles!

Stille nag, bosveld nag;

alles rus, God hou wag.

Slegs ‘n leeu wat in eensaamheid brul.

Heel die veld is in duister gehul.

God se vrede oor alles;

Jesus se vrede oor ons.

Ek maak my dikgeslaapte oë oop, eers die een, dan moeisaam die ander een. ‘n Helder rooi bal loer tussen die blinkblaar wag-’n-bietjie se takke deur. Die oggendstond het mos goud in die mond, het hy nie?! Ek neem kennis, draai my om en slaap verder! 'n Volle uur later sleep ek myself met groot moeite uit die kooi en gaan sit op die stoep, vol afwagting vir wat die dag my gaan bied. Nou moet die voëls in hulle hordes op ons toesak. Maar helaas - nie eers 'n piepgeluidjie nie! Ons strooi mieliepitte en hang appels in die bome op om die veervolkies te lok, maar verniet: niemand wil byt aan die aas nie.

Skielik verskyn ‘n koedoekoei asof uit die niet, stap van boom tot boom en pluk al ons appels af. As hulle in 'n streep in haar keelgat af verdwyn het, kom staan sy hier reg voor my. Haar reuse weemoedige oë is soos diep, donker poele wat smeek vir nog ‘n ietsie om te eet. Sy probeer my skuldig laat voel sodat ek nog appels moet gaan haal. Haar soebat-gesig pleit: “Dis droog. Niks kos in die veld nie!”

‘n Plooigesig vlakvark met knoetse soos jong boomstompe op sy bakkies en ‘n stel formidabele slagtande kom tel die mieliepitte op wat vir die voëls bedoel was. Laatmiddag, as die maroela se skadus lank rek, bars daar ‘n verskriklike kakofonie los: die einde van die wêreld het aangebreek! ‘n Koor van doodsbenoude bobbejaanstemme vanuit die reuse ou Trosvy langs die rivier. Kleintjies gil, Pa dreig, Ma soebat. Leeu? Dalk luiperd? Ons kan maar net wonder.......

Oorverdowend val die rooi son tussen die doringbome in. Desperaat gryp-gryp sy strale na die dag wat verby is. Dan nag, pikdonker, skrikwekkend. Ek gooi haastig ‘n vuurtjie aanmekaar en die vlammetjies bring verligting. Koning Leeu se gesagwekkende brulle weergalm oor die stil bosveld. Ons ís mos veilig op die stoep, nie waar nie? Die Here is my Herder, al gaan ek ook deur ‘n dal van doodskaduwee, ek sal nie bang wees nie........ Die brulle tril deur die stilte en bly hang swaar in die donker nag.

Op die kole sis ‘n worsie: koedoewors! Ek voel half skuldig as ek terugdink aan die koedoekoei se smekende ogies vanoggend. ‘n Vrugtevlermuis fladder ‘n paar keer verby. Die bleek stokkiesbene van ‘n duikertjie neem vorm aan op die buiterand van die ligkring. 'n Nagapie bons soos 'n rubberbal deur die takke en kom land voor die stoep in die rooiboswilg. Duikertjie se maatjie staan ook nader terwyl nagapie se maatjies soos springmielies in ‘n warm pot rondspring. Die vrugtevlermuis maak weer grasieus sy buiging met deurskynende vlerke.

Dan stilte. Almal is weg. Ek en Mosbolletjie bly alleen oor met ons gedagtes. Alleen? Nee! Die Skepper van dit alles wat ons beleef het, is hier by my! Hoe asemrowend God se skeppingswerke! En hierdie dinge gee Hy vir my om my daaraan te herinner dat Hy groot en almagtig is en oneindig vol liefde, en dat Hy inderdáád die Woord en die Lewe is. Van Sy lof sal ek sing met my hele hart!

Stille nag, Bosveld nag.

Oor die veld, soet en sag,

klink die fluist’ring van God se gena’

veertjie-lig op die aandwind gedra.

God hou immer die wag,

God hóú immer die wag!

Gebed:

Majesteit, glansryke heerlikheid! Vanoggend wil ek Jesus, die Koning hulde bewys!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026