1 Timoteus 4:10-16
Wat ‘n wonderlike voorreg is dit om te kan dien as Christenleier! Nou die oggend kry ek ‘n kort notatjie met die eenvoudige vraag: “Hoe word ek ‘n Christen?” Dit is beslis nie die eerste briefie van hierdie aard wat ek kry nie, ek kry talle! Dit is seker die grootste vreugde wat jy ‘n Christenleier kan gee, om hom so ‘n vraag te vra. Want dit gee hom die geleentheid om die heerlike boodskap van Jesus se verlossing met daardie persoon te kan deel. Ek het my hoop ten volle op die lewende God gevestig, nie uit my eie krag nie, maar omdat Hy my genadig was en vir my daardie hoop gegee het. Nou het ek die voorreg en geleentheid om dit ook met ander te kan deel, want Paulus stel dit baie duidelik in vers 10 dat Jesus die Verlosser is van alle mense, en dit beteken ook van Moslems, Hindoes en selfs ateïste! Die voorwaarde is dat hulle eers in Jesus glo! “Van almal wat glo” sê Paulus (v.10).
My pleidooi by jou as Christenleier is vanoggend dan ook dat jy jou daarop sal toelê om in die héél eerste plek die wonderlike boodskap van verlossing met almal met wie jy in aanraking kom te deel. Die boodskap is eenvoudig en dit bring soveel borrelende vreugde, nie alleen vir die persoon met wie jy dit deel nie, maar ook vir jouself, jou medegelowiges en selfs die engele in die hemel!
Dalk is jou verweer vanoggend: “Nee, ek is te jonk / te onervare / te oud / te wat-ookal”. Timoteus was ook maar ‘n jong kêreltjie van iets in die dertig toe hy as leraar van Efese aangestel is. Vir daardie jare was dit ongehoord dat iemand so jonk leiding neem, wat staan nog om ‘n hele gemeente te lei. Vir hom om die vertroue van die gemeente te wen, was ‘n byna onbegonne taak. Vir séker sou die gemeentelede baie skepties gewees het of hierdie mannetjie ooit die mas sou opkom. Hoe maak ‘n mens om hulle vertroue te wen? Paulus se goeie raad aan Timoteus is om in ‘n toenemende mate daarop te konsentreer om ‘n voorbeeld te stel. Dit beteken nie dat hy só moes leef dat die ouer mense met hom tevrede moes wees nie, maar dat hy die voorbeeld van ’n gelowige se lewe moes uitleef. Nie volgens die verwagtinge van ander mense nie, maar met toewyding aan God. Deur in opregtheid jou geloof uit te leef, word jou persoonlike lewe mettertyd ook ’n voorbeeld vir wantrouige medegelowiges om na te volg.
As Christenleier (al is jy dalk baie jonk) kan jy die egtheid van jou geloof uitleef deur selfopoffering (liefde), vertroue op God (geloof) en ‘n lewe volgens die riglyne van die Bybel (reinheid) (v.12).
Die vraag ontstaan: Waarop moet ‘n Christenleier hom dan toelê? Wat is werklik belangrik?
‘n Mens kan ander se vertroue wen deur die aandag te verskuif van jou persoon na jou roeping. Dit is nie Timoteus waarvan die lidmate in Efese moet weet nie, maar hulle moet weet wie God is. Dit is nie Louis Nel wat belangrik is in hierdie dagstukkie nie, maar die boodskap wat die Here hierdeur gee. Timoteus word dus deur Paulus opgeroep om “voor te lees, te preek en onderrig te gee” (v.13). Hy was wel jonk, maar hy het die gawes daarvoor gehad, en dus moes hy dit gebruik. Ons het nie almal die gawes wat Timoteus gehad het nie, maar die Here vra van my en jou om die gawes wat Hy ons wél gegee het te gebruik tot Sy eer.
As die Here ons geroep het vir ‘n sekere leierskapstaak, dan kan ons ook vertrou dat Hy ons die nodige toerusting daarvoor sal gee. Toe Hy my geroep het vir die taak om dagstukkies te skryf, het ek viervoet vasgesteek: “Here, maar ek is mos nie ‘n skrywer nie!” Ek het alkante toe probeer uit hierdie tameletjie kom. Toe ek egter eers begin skryf, kon ek net nie ophou nie! Dis heerlik! Hy het my die toerusting gegee wat ek so bitter nodig gehad het. Kyk gerus ‘n bietjie na die gawes van kundigheid wat die Here vir jou gegee het. Gebruik jy dit tot Sy eer? Ek daag jou vandag uit: Lê jou daarop toe om daardie gawes voluit vir die Here te gebruik! Wanneer jy jou gawes gebruik, word hulle geslyp en gepoleer totdat hulle naderhand seepglad loop. Gebruik jy hulle nie, dan begin hulle kwyn totdat hulle naderhand totaal verdwyn. Iemand het nou die dag aangebied om een van my boeke in Engels te vertaal. 'n Andre persoon het een van my boeke in Zoeloe vertaal. So bereik die Evangelie baie meer mense.
Mense mag jou dalk wantrou, maar as jy volhard in ‘n Bybelse benadering, jou gawes gebruik, hard werk en jou bekwaamheid oefen, sal jy mense oortuig dat jy inderdaad tot hulle voordeel in God se diens staan.
Ten slotte kom Paulus weer by die primêre doel van die gemeente: om diensbaar te wees aan God se plan dat alle mense gered word (1 Tim 2:3,4). Maar ook die Christenleier moet hierdie doel najaag. In die eerste plek moet jy fokus op jou eie lewe, en natuurlik dat dit in ooreenstemming is met God se Woord, en vir Hom aanneemlik is. Jou loon is die wonderlike genade van Hom oor Wie alles gaan. Nie alleen kry jy redding nie, maar so ook almal wat jou boodskap van verlossing hoor en aanneem. Wat ‘n wonderlike voorreg is dit om te kan dien as Christenleier!
Gebed:
Dankie Here, dat U so wonderlik genadig was om my deel te maak van U span wat werk in U Koninkryk.