Handelinge 6:8-15
“Het jy gehoor ….. ?” Dit is hoe die sappigste skinderstorie gewoonlik begin. Dikwels is dit die mense met ‘n hoë profiel wat deurloop en dan eindig so ‘n skinderstorie gewoonlik in ‘n tragedie!
Stefanus was die leier van die sewetal diakens en gister het ons genoem dat hy kragtig gepreek het en dat hy baie wonders gedoen het. Die gevolg was dat hy die slagoffer geword het van só ‘n skinderveldtog. Hy het baie aandag getrek in Jerusalem want dit was nie alleen die groot wonders wat deur hom gebeur het wat mense in vervoering gehad het nie maar ook die omstrede dinge wat hy soms gesê het. Vir die Jode was die tempel die heiligste plek op aarde en as jy iets onverskillig sou sê oor die tempel, was dit asof jy God sélf sou beledig. Stefanus het besef dat Jesus groter as hierdie blote gebou is en dat die offer wat Jesus aan die kruis gebring het ál die rituele wat daagliks in die tempel afspeel in totaliteit vervang het. Die ware God bly in elkgeval nie in ‘n mensgemaakte tempel nie! Na die uitstorting van die Heilige Gees, weet ons dat God deur sy Gees in die gelowiges, Sy kerk bly en dat elke gelowige dus ‘n lewende tempel van God is.
Stefanus het nie geskroom om hierdie dinge reguit aan te spreek nie, gevolglik het dit hom die gramskap van die Jode op die hals gehaal. Veral een spesifieke groep het hulle mes ingehad vir Stefanus, ‘n groep Griekssprekende Jode wat vroeër slawe was en intussen deur die Romeine vrygelaat was. Hulle het selfs hulle eie sinagoge gehad wat hulle “Die sinagoge van vrygelate slawe” genoem het. Hierdie klomp het lang debatte met Stefanus gevoer en hulle het alles in die stryd gewerp om hom te probeer verkeerd bewys. Stefanus se wysheid was egter een te veel vir hulle want die krag van die Heilige Gees in hom het hulle stomgeslaan!
As jy nie ‘n debat op ‘n mooi manier kan wen nie, dan is al genade om maar vuil te speel en dis presies nét wat hulle gedoen het! Uit pure frustrasie, omdat hulle nie kon hond haaraf maak nie het hulle toe vir Stefanus beskuldig dat hy Moses en God belaster het! Hiermee het hulle bedoel dat hy die geldigheid van die wet van Moses in twyfel sou trek en dat hy boonop die hart van hulle godsdiens, die tempel, se gesag ondermyn het deur die heiligheid van die tempel in twyfel te trek. Dit was niks minder as laster teen God self nie!
Natuurlik, soos dit elke goeie skinderstorie betaam, het hierdie skandaal soos ‘n veldbrand versprei deur die strate van Jerusalem! En verséker het dit langs die pad stertjies bygekry ook. Die Joodse Raad was natuurlik behóórlik ingelig oor die jongste stand van sake en gevolglik word Stefanus op die rooi tapyt gedaag voor die Raad. Wat begin het as ‘n gesprek oor Jesus se bevryding, het nou in allerhande vals beskuldigings en lasterlike uitsprake geëindig presies nét soos wat dit die geval was met Jesus se verhoor. So moes Stefanus nou aanhoor dat hy sou gesê het dat Jesus die tempel sou afbreek en ál Moses se voorskrifte tot niet sou maak. Dit was dieselde aanklag wat teen Jesus gehou was.
Die Joodse Raad was nou nie juis die vriendelikheid vanself nie en so het hulle hom aangegluur terwyl die een aanklag na die ander teen hom ingebring was. Stefanus aan die anderkant, was rustig en kalm oor die hele situasie. Om die waarheid te sê, was hy só vol van die Heilige Gees op daardie oomblik dat sy gesig gegloei het soos dié van ‘n engel. God was met Stefanus en vir hom het dit nie saakgemaak wat verder sou gebeur nie. Hy het sy volle vertroue op God alleen gestel!
Wat ‘n wonderlike verhaal van vertroue in God en totale onverskrokkenheid. Ons kan baie van Stefanus leer. Sy onverskrokke houding was nie omdat hy sterk of slim was nie. Dit was omdat hy ten volle op God vertrou het en boonop sy afhanklikheid van God terdeë besef het. Ek kan getuig daarvan, dat as jy jou vertroue op Hom stel dan sál Hy jou staande hou. Ek was al by verskeie geleenthede aangevat deur die Jehovah’s Getuies wat my van hulle standpunte probeer oortuig het. Hulle redenasies is dikwels só oortuigend dat dit baie maklik is om te swig voor hulle oortuigings. Die Here het my egter nog elke keer daardeur gedra en my die wysheid gegee om hulle te kon antwoord op hulle valse leerstellings!
Dat Stefanus uiteindelik met sy lewe moes betaal omdat hy vir die waarheid opgestaan het, is van minder belang. Hy het slegs één gedagte in sy kop gehad, dat die waarheid moes seëvier! Deur die krag van die Heilige Gees het hy dit dan ook reggekry. Dit geld ook vir my en jou, dat die moontlikheid van verwerping of vervolging ons nooit van stryk durf bring om op te staan vir die waarheid nie! Ons moet ook altyd in gedagte hou dat ons nooit, óóit alleen staan nie, maak nie saak hoe erg die situasie is nie. Jesus het immers tydens Sy hemelvaart belowe dat Hy altyd by ons sal wees. Hy sal ons bewaar en deur die donker klowe en selfs die "dal van doodskaduwee" dra. Terselfdertyd is die Heilige Gees altyd daar om ons die nodige wysheid en krag te gee om énige situasie te kan hanteer!
Gebed:
Here, so dikwels is ek bang om op te staan vir wat reg is. So dikwels huiwer ek om in te tree vir U heilige Naam. Gee my asseblief die moed, krag en wysheid om die waarheid uit te leef met my woorde sowel as my dade!