Stefanus se toespraak

11 October, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Stefanus se toespraak

Handelinge 7:1-53

VIDEO | OUDIO

Terwyl Stefanus voor die Joodse Raad staan, word allerhande beskuldigings na hom geslinger. So het ons gister gesien. Uiteindelik vra die hoëpriester vir Stefanus of die beskuldigings teen hom waar is? Stefanus gryp die kans aan met altwee hande. Nou kan hy sy saak behóórlik stel en sommer op die koop toe ‘n preek afsteek wat hierdie manne kan ruk! Dit is interessant dat die lengte van hierdie preek ‘n volle 5% van die hele Handelinge-boek beslaan.

In die Bybelse tyd het mense hulle huidige omstandighede gewoonlik probeer verstaan deur na die verlede te kyk. Ons moderne mense leef as’t ware met ons rug gekeer op die verlede en beplan jare vooruit in die toekoms in. In daardie tyd het hulle presies andersom geleef, met hulle gesig gedraai na die verlede en die rug gekeer op die toekoms. Op hierdie wyse het hulle die toekoms as't ware agteruit binnegestap. Dit is in daardie lig wat ons ook Stefanus se toespraak moet lees. Dit is ‘n lang relaas wat begin by Abraham, Isak, Jakob en Josef en daarna eindig met ‘n uitgebreide geskiedenis van Moses en sy verhouding met Israel. Dit is tog só ironies dat een van die hoof aanklagte júís was dat hy Moses se wette verwerp het. En hier haal hy nou juis vir Moses aan!

Met die eerste oogopslag lyk dit asof Stefanus slegs ‘n uitgebreide geskiedenisles gee aan ‘n klomp geleerdes wat in elk geval hierdie geskiedenis woord-vir-woord uit hulle koppe ken, maar as ons mooi gaan lees merk jy die subtiele konnotasie wat hy heg aan die huidige omstandighede uit die verlede. Dit is veral die openbarende ooreenkomste tussen die lewe van Moses en dié van Jesus wat Stefanus hier uitlig.

Ons lees vyf temas in Stefanus se toespraak:

God se beloftes aan Abraham

Die geskiedenis van Josef

Moses se roeping en sy optrede

Die bou van ‘n heiligdom vir God

Die Joodse Raad word verwyt omdat hulle Jesus vermoor het

In sy toespraak wys Stefanus die vinger reguit na die volk Israel. Alles het alreeds begin by Abraham, Isak en Jakob. Jakob se seuns, die stamvaders van die volk het hulle eie broer, Josef verwerp en hom verkoop as slaaf. Josef was natuurlik uiteindelik verhef as onderkoning in Egipte. Toe kom Moses aan die beurt. Nie alleen het hierdie einste volk die rug gedraai op hulle groot en gerespekteerde leier, Moses en hom verwerp nie, maar op dieselfde wyse het hulle ook uiteindelik vir Jesus, die beloofde Messias sélf ook verwerp! Trouens, die volk het telkemale die leiers wat God oor hulle aangestel het, verwerp! Nie alleen was die leiers verwerp nie maar die profete wat God aangestel het om die volk geestelik te rig, was links en regs vervolg en doodgemaak. Kyk maar hoe moes die arme Elia vlug vir sy lewe voor Agab en Isebel! En die laaste profeet, Johannes die Doper was op grusame wyse onthoof en sy bebloede kop tot groot vermaak van die gaste ten toon gestel op 'n skinkbord!

Daarom was dit vir Stefanus glad nie vreemd dat ook Jesus uiteindelik verwerp was nie. Inderdaad het die geskiedenis van Israel teen hulle getel, want al sou hulle sê dat hulle die volk van God is, het hulle nou nie juis daarin geslaag om die boodskappers van God te herken nie en beslis ook nie om hulle voorskrifte na te volg nie!

Boonop het Stefanus die Joodse Raad daarop gewys dat hulle God totaal verkeerd gedien het deur die tempel tot iets buitengewoon te probeer verhef! Om God te dien gaan nie oor die nakoming van kultiese rituele nie. God is immers nie afhanklik van ons heilige feeste en godsdienstige geboue nie, daarvoor is Hy gans te groot! Godsdiens gaan daaroor dat jy gehoorsaam is aan Jesus, die gestuurde van God.

Ek sou vanoggend graag hand-aan-hand met Stefanus saam met jou wou stap deur die bladsye van Israel se geskiedenis, maar hiervoor is die spasie van hierdie dagstukkie net eenvoudig te min. Lees dus gerus vanaand rustig Handelinge 7 deur en as jy dalk jou hand kan lê op Die Bybellennium Eenvolume Kommentaar, dan sal jy sien dat die uitleg wat aan hierdie gedeelte gegee word uiters insiggewend is!

Stefanus word as ‘n misdadiger voor die hof gebring. In sy toespraak is hy nou egter nie meer die aangeklaagde nie, maar die aanklaer. Die Joodse Raad weerstaan die Heilige Gees, maar hierteenoor neem Stefanus stelling in as iemand wat vol is van die Gees! Hy verwerdig hom nie eers om die vals beskuldigings wat teen hom ingebring word af te weer nie. Hy sien dit eerder as sy taak om die skynheilige praktyke van die volk en veral sy leiers te ontmasker.

Stefanus het ‘n baie belangrike waarheid ontdek en dit is dat God nie gedien kan word deur allerlei mensgemaakte tradisies nie, daarvoor is Hy te heilig. Voor die God van hemel en aarde kan ons maar net stilword en laag voor Hom neerbuig in aanbidding.

My gebed vir jou is dat die lig van God jou lewe vandag sal verlig, selfs al is jy fisies in die duister!

Gebed:

Here, leer my asseblief om U waarlik te kan dien soos U van my verlang!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026