Openbaring 9:1-12
Mosbolletjie gee ‘n gilletjie, en ek spring om haar te red van die groot gevaar wat haar bedreig. En daar sit Tá in die kombuis, pikswart en stert in die lug, angel dreigend!
‘n Skerpioen is een van die skrikwekkende dinge wat meeste mense koue rillings gee. Laat jy hom egter met rus, dan sal hy jou nie sommer bydam met sy pynlike angel nie. Nee, ek is nog nooit deur een van hierdie giftige gediertes gepiets nie, ten spyte daarvan dat ek hulle al dikwels teëgekom het. Ek het selfs ‘n groot bewondering vir hierdie pre-historiese gediertes.
Perdebye het my al dikwels gesteek, en dis ‘n steek wat jy onthou! Ons jongklomp gaan kamp een naweek op Oribi Gorge, en terwyl ons deur die veld stap, loop ek deur ‘n perdebynes in die lang gras, en hulle steek my dat ek nie weet hoe oud ek is nie. Net die volgende dag wil ek ‘n foto neem van my maters wat oorkant die kloof staan. Om ‘n beter posisie te kan kry vir die foto, moes ek afklim tot op ‘n nou rotslysie teen die krans van honderde meter hoog. En toe sê die perdebye: “Hoezit!” en hulle takel my van alkante af. Al wat ek op daardie oomblik aan kon dink, was om van die goed af weg te kom, en ek voer daar ‘n paar danspassies uit op die randjie van die dood, wat Michael Jackson na ‘n amateur sou laat lyk!
Nou-ja, ek weet presiés hoe ‘n perdeby se steek voel, en hulle sê dat ‘n skerpioen s’n tien keer so erg is. Gelukkig vlieg skerpioene nie! Wel, Johannes het ook so gedink, totdat hy daardie visoen gehad het van die “vlieënde skerpioene,” oftewel sprinkane met angels!
In die antieke tye is geglo dat die bose geeste ‘n blyplek onder die aarde het, en dat daar êrens ‘n skag is na hulle “nes” toe. Johannes sien hoedat die deur van die skag na die onderwêreld op dramatiese wyse oopgesluit word deur ‘n engel nadat die vyfde trompet weergalm het. Uit die rokende gat borrel daar ‘n reuse swerm sprinkane met skerpioen-angels wat oor die aarde versprei.
Die gesig laat jou nogal dink aan die vulkaan-uitbarsting destyds in Ysland, wat die ganse Europa tot stilstand gedwing het, toe sy swart wolk rook duisende kilometer ver die lug verduister het.
‘n Sprinkaanswerm is alreeds ‘n skrikwekkende gesig! Soos ‘n pikswart wolk verduister hulle die aarde, en vreet alles op wat voorkom. Hierdie sprinkane was egter anders, hulle het nie gevreet nie, maar mense aangeval en gesteek. Ek kan my die verskrikking voorstel as jy deur ‘n swerm skerpioen-sprinkane aangeval moet word. Die angswekkende, ondraaglike pyn wat jy moet verduur. So erg is die pyn dat jy smag daarna om dood te gaan, maar die genadige dood ontglip jou. Hierdie verskrikking duur ‘n volle vyf maande, die normale leeftyd van ‘n sprinkaan.
Tóg word nie almal getref nie. Die gelowiges word die verskriklike pyniging gespaar, en dis slegs die ongelowiges wat geraak word. Die bordjies is nou skielik verhang! Waar dit voorheen die gelowiges was wat moes ly onder die aanslae van die bose, is dit nou die goddeloses wat die spit moet afbyt. Hierdie dinge vind plaas onder God se opdrag.
Wanneer Johannes die sprinkane beskryf, dan maak dit byna nie sin nie, want hulle tree op soos skerpioene, lyk soos oorlogperde, dra goue krone en hulle het mensegesigte. Hulle het lang hare, tande soos leeus, borskaste soos ysterharnasse en sterte met angels soos skerpioene. Dit klink na iets uit ‘n Star Wars-fliek! Die samestelling van die sprinkane klink nie logies nie, maar dit beskryf hulle as vlugvoetig, pynigend, intelligent, lewenskragtig, verorberend (soos leeus), en onvernietigbaar. In een woord: afgryslik-skrikwekkend! Die naam wat aan hierdie monsters gegee word is Abaddon, wat Verwoester of Vernietiger beteken.
Die feit dat die goddeloses nie doodgemaak word nie, moet ons sien as genade van God, want hulle word nogeens ‘n kans gegun om tot bekering te kom. Hulle pyniging is nie alleen die fisiese pyn wat die steek van die gediertes se angels veroorsaak nie, maar ook geestelik, die angs wat hulle deurleef. Mooipraat het nie gehelp om hulle tot bekering te lei nie - moontlik sal hierdie foltering hulle beweeg om hulle toevlug tot God te neem!
En deur dit alles bly die gelowiges absoluut ongeskonde - hulle word deur God beskerm.
Hoe ver moet God nie gaan met sommige mense nie! Hy soebat hulle om hulle tot Hom te wend. Hy het die prys vir verlossing ten volle betaal - jy moet dit net aanvaar. Waarom is dit vir sommige mense so verskriklik moeilik om net die geskenk van die ewige lewe aan te neem?
Gebed:
Dankie, Here, dat U vir my ook die geskenk van die ewige lewe gegee het. Daar is egter so baie mense wat ek elke dag mee te doene kry wat weier om daardie geskenk te ontvang - werk asseblief ook in hulle harte sodat hulle kan sien dat U die enigste Verlosser is.