Só Bid Jy

15 February, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Só Bid Jy

Matteus 6:5-15

Johannes spits sy ore. Jesus raak nou ‘n onderwerp aan wat hom al baie gepla het: gebed! “As julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees wat so daarvan hou om in die sinagoges en op straathoeke te staan en bid sodat almal hulle kan sien nie.”

Johannes bars so amper-amper hardop uit van die lag. Hy ken die gesig maar ál te goed, van ‘n neus-in-die-lug Fariseër wat iewers op ‘n straathoek staan en bid dat die biesies bewe. Daardie hoogheilige manne dweep nou waarlik met hulle Godsdiens!

Johannes sit vorentoe, hy wil hoor presies wat Jesus sê oor gebed. Hy het al opgemerk dat Jesus vroegoggend wegglip, en dan gaan bid Hy daar iewers waar dit stil is. Wat is sy Meester se geheim oor gebed?

Gaan na jou binnekamer toe en maak die deur agter jou toe, en dan bid jy tot jou Vader. Hy sien wat binne in jou hart is.” Jesus glimlag vir die manne. Gebed is nie ‘n verskriklike formele ding soos meeste mense glo nie. Dit is ‘n persoonlike gesprek met die Vader.

En moenie bid soos die heidene nie,” verduidelik Jesus verder. Johannes het al gehoor hoe daardie ouens bid. Hulle bid aanmekaar dieselfde rympie oor en oor, so asof hulle god nie mooi kan hoor die eerste keer nie.

Kom Ek vertel julle hoe om te bid,” verduidelik Jesus, en Johannes spits sy ore. “Hou dit eenvoudig, die Vader hoor jou die eerste keer, en Hy weet in elkgeval alreeds wat jy nodig het nog voordat jy begin bid.”

Johannes het nooit so daaraan gedink nie!

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.”

So kort! So eenvoudig! Johannes het 'n lang, ingewikkelde gebed verwag.

Maar dan verduidelik Jesus verder, dat dit baie belangrik is dat jy weet wat jy bid, en dat jy elke woord daarvan ernstig bedoel. Jy bid byvoorbeeld dat die Here jou sondes sal vergewe. Maar daar is 'n stertjie by, want terselfdertyd moet jy ook bereid wees om dié ouens wat iets verkeerd teen jou gedoen het te vergewe. Anders is jou gebed betekenisloos!

Johannes het daardie besonderse gebed in sy hart bewaar. Eers het hy gedink dat jy die gebed woord-vir-woord elke keer so moet bid, totdat hy later besef het dat hierdie 'n wonderlike raamwerk is vir gebed.

Die aanhef van die gebed, “Ons Vader wat in die hemel is,” vertel vir ons van die nabyheid van God. Die feit dat Hy in die hemel is het niks met afstand te doen nie. Die hemel is nader aan ons as wat ons dink. Jesus het immers belowe dat Hy by ons sal wees tot met die voleinding! En Hy is in die hemel!

Dit het eintlik hier te doen met die Vader se almag en alomteenwoordigheid. Ons aanbid die Almagtige God, waarvoor niks, absoluut niks onmoontlik is nie. Hy is sékerlik groter as Sy skepping, die heelal. Ons wêreld kan Hy in die holte van Sy hand hou. As inwoner van die aarde kan ek dus gaan waar ek wil, maar ek is steeds baie naby aan God, rég in die holte van Sy hand.

Ons praat verder ook nie met ‘n onpersoonlike God nie. Jesus leer ons om Hom baie persoonlik op te neem. Hy is “ons Vader”. Dit wil vir ons sê dat dit ‘n baie persoonlike gesprek is met Iemand wat vir my omgee en wat my liefhet, net soos wat ‘n aardse vader sy eie seun sal liefhê. Dit beklemtoon die absolute nabyheid van God aan my wanneer ek bid. Dit is dus baie belangrik om deeglik te besef wanneer ons bid, hoe persoonlik hierdie gesprek eintlik is. Dit is egter ewe belangrik om ook die almag van God te besef, want as ons verder bid vir ons daaglikse behoeftes, moet ons weet dat dit binne God se mag is om te voorsien.

Die natuurlike uitvloeisel van ‘n gesprek met die Almagtige God sal wees om aan Hom eer te betoon, en vir Hom te wys hoeveel respek ek vir Hom het. Sê vir Hom dat jy Sy almag en grootheid eer, en dat Sy wonderlike Naam vir jou heilig is en hoe kosbaar Sy liefde vir jou is! Die blote aanhoor van die heilige Naam van God Almagtig moet ontsag en eer afdwing by my as nietige mensie. Natúúrlik gaan ek Sy Naam eer. Natúúrlik gaan ek by die blote aanhoor of aanroep van Sy Naam aan Hom al die respek en aanbidding gee wat Hom toekom, en ek gaan vir Hom vertel hoeveel Sy Naam vir my beteken.

(Word vervolg)

Gebed:

Ons Vader wat in die hemel is, U heilige Naam is vir my so groot dat ek dit met siddering op my lippe neem. Ek loof U, Here van die leërskare.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026