Slegs ‘n Nommer?

26 May, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Slegs ‘n Nommer?

Efesiërs 1:5-14

VIDEO * OUDIO

Dit is Januarie 1966 in Potchefstroom. Op die paradegrond staan ons manne ingeryg soos garnale aan ‘n sosatiestokkie. Garnale inderdaad, want die bloedige son het ons almal bloedrooi gebrand!

“Nommer 25087932, tree uit!” blaf die Sersant.

“Wat is my nommer nou weer?” Ek moet diep krap in my geheue om daardie belangrike nommer op te diep.

“Nommer 25087932, waar is jy? Waarom moet ek vir jou wag!?” Dan tref dit my dat dit mos mý nommer is daardie. Ek word in baie gekruide taal uitgevreet omdat ek nie vinnig genoeg reageer het nie. Ek was nog nooit goed met syfers nie! Hulle maak nie vir my sin nie. Woorde is prentjies - dit is iets met ‘n gesig en ‘n vorm. Maar syfers, hulle beteken absoluut niks!

Voel jy soms asof jy net ‘n niksseggende nommer is? Is alles ooit die moeite werd? Raak jy moedeloos omdat jy maar net ‘n ou spikkeltjie in die groot heelal is en dat niemand werklik in jou belangstel nie? Die boek Prediker begin met sulke moedelose woorde: “Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks. Wat kry die mens vir sy geswoeg, sy geswoeg in hierdie wêreld?”

Miskien is jy werklik eensaam. Moontlik het jy niemand wat waarlik vir jou omgee nie. Wees egter vandag verseker: jy is beslis nie maar net ‘n nommer nie! Efesiërs 1:11 laat jou baie gou besef dat jy beslis nie maar net ‘n stofdeeltjie in die groot heelal is nie. Jy is baie spesiaal vir God! Só spesiaal, dat Hy eenmaal lank, lank gelede, selfs nog voordat tyd daar was, alreeds besluit het om jou deel van Sy volk te laat wees. Ja, selfs nog meer: om jou Sy kind te maak! Hy het selfs so ver gegaan om Sy enigste Seun op te offer as losprys sodat jy deel van Sy gesin kon word. Ons is dus wáárlik kinders van God!

Eintlik is ons aangenome kinders, maar maak dit werklik saak dat ons aangeneem is en nie eie kinders nie? Jesus is God se Seun en in Jesus is ons God se “aangenome” kinders.

Volgens die Romeinse regstelsel het ‘n aangenome kind in daardie jare presies dieselfde regte en voorregte gekry as ‘n eie kind. Omdat God ons Sy “aangenome” kinders gemaak het, kry ons nou ook presies dieselfde regte en voorregte asof ons God se eie kinders is. In Galasiërs 4:5-7 skryf Paulus meer hieroor. Hy sê dat God ons vrygekoop het “sodat Hy dié onder die wet kon loskoop, sodat ons as sy kinders aangeneem kon word. En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun uitgestuur tot in ons harte, die Gees wat roep: “Abba, Vader!” Jy is dus nie meer slaaf nie, maar seun; en as jy seun is, is jy ook erfgenaam deur God.

Ek is dus nou gladnie meer daardie simpele nommer wat ek in my weermag dae was nie, maar ek het ‘n identiteit! Ek is iemand! Inderdaad iemand wat aan God behoort! Boonop is ek ook iemand wat persóónlik deur God nuutgemaak is. Totaal nuut!

Hierdie dinge het egter nie maar sommer so toevallig gebeur nie. Dit was deel van God se noukeurige beplanning, alreeds baie lank terug. Wat beteken dit? Dat God in totale beheer is! Nie alleen het Hy beplan nie, maar Sy plan het uitgewerk presies net soos Hy dit bepaal het. Ek en jy is nie maar uitgelewer aan slegte mense of bose magte nie. Nee, God is in beheer. En boonop is Hy ons Vader in die hemel wat vir ons omgee en sorg.

Paulus wil ons ook op ‘n wonderlike manier bemoedig met ‘n derde gedagte. In vers 13 en 14 lees ons dat God ons ‘n waarborg gegee het in die Heilige Gees. Hý is in werklikheid die Waarborg dat ons sal ontvang wat God ons belowe het. Wat het Hy belowe? Dat ons God se eiendom is, Sy kinders. Ons behoort volkome aan God en niemand kan ons uit Sy hand ruk nie. Hy het as’t ware die seël van die waarborg dat alles eg is op ons afgedruk.

Dit gebeur wél soms dat ‘n gelowige twyfel oor sy kindskap. Ek het al met menige gelowige gesels, wat sê dat hulle nie seker is of hulle werklik die ewige lewe het nie. Die duiwel is die opperste leuenaar en hy sal alles in sy vermoë doen om twyfel te saai by ‘n gelowige. Hy het dit alreeds daar in die tuin van Eden gedoen, toe hy vir Eva gevra het: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” Vandag vra hy: “Dink jy werklik dat jy gered kan word deur slegs in Jesus te glo?”

Het jy al ooit getwyfel? Of moontlik moet ek vra of daar iemand is wat nog nooit vir ‘n oomblik getwyfel het nie? As daar ooit sulke gedagtes by jou opkom, kan jy maar net weer Efesiërs 1:13 lees en dit diep in jou hart gaan bêre: “In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is.” Dit is finaal! Die stempel van egtheid is deur die Heilige Gees afgedruk sodat ons verséker, sonder enige twyfel kan weet: Ons is God se eiendom! Ons is God se kinders! Ons het dus die ewige lewe!

Gebed:

Here, dankie dat ek vandag verseker kan weet dat ek aan U behoort en dat ek U kind is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026