Skewa se Sewe Seuns

8 June, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Skewa se Sewe Seuns

Handelinge 19:11-20

VIDEO | SPOTIFY

Paulus is algemeen bekend as die grootste sendeling van alle tye. Hy was 'n kookwater prediker en redenaar, en hy was die instrument om talle mense na Jesus te lei. Boonop was hy ook 'n bekwame skrywer wat talle boeke die lig laat sien het. Hierdie feite is algemeen bekend.

Dink ons egter aan wonderwerke, dan is Petrus die man wat dadelik in jou gedagtes opkom, want hy was mos die man wat die verlamde man by die tempel laat opspring en ronddans het en ook die vrou uit die dood opgewek het.

Maar iets waaroor daar min geskryf is, is die wonderwerke wat deur Paulus plaasgevind het. Lukas noem net so terloops in Handelinge 19:11 dat God wonderbaarlike dinge deur Paulus gedoen het. Dikwels was hy nie eers persoonlik daar wanneer die dinge gebeur het nie. Lukas vertel byvoorbeeld dat mense doeke of voorskote na Paulus gebring het, en dat hy net daaraan moes raak. Dan is hierdie stuk materiaal na 'n sieke geneem en op hom neergesit. Dit was genoeg om sy siekte soos mis voor die son te laat verdwyn. Selfs bose geeste het die hasepad gekies as so 'n kledingstuk op die besete persoon gelê is!

Dis egter baie belangrik dat ons mooi lees presies wat Lukas hier skryf. Hy stel dit duidelik dat dit God is wat die wonderwerke deur Paulus gedoen het en nie Paulus wat hulle gedoen het nie. Hy was slegs die instrument. Ons maak dikwels die fout om iemand op te hemel as 'n "wonderwerker". Die persoon sou al só baie mense genees het deur sy wonderlike geloof of genesende krag!

Nou wat beteken dit dan as iemand 'n spesifieke geestesgawe ontvang het? Beteken dit dan dat hy die mag het om byvoorbeeld mense te kan genees? Nee, beslis nie! Al wat dit beteken is dat die Here die persoon gebruik as 'n kanaal om Sy wonderwerke te laat gebeur. Presies dieselfde geld vir al die ander sogenaamde Geestesgawes. Iemand met die gawe van prediking, word deur die Here gebruik bloot as 'n spreekbuis om Sy boodskap oor te dra.

Daar rus 'n groot verantwoordelikheid op so 'n persoon, want hy moet sorg dat daardie spreekbuis in die beste moontlike toestand bly. Dit is sy plig om die boodskap suiwer oor te dra, en hy moet oefen om dit foutloos en glad voor te dra. Dit kos dus baie ure se voorbereiding om die boodskap aan mense te lewer!

Dieselfde geld vir al die ander gawes. Jy moet sorg dat jy die beste moontlike kanaal is vir die Here se werk.

Maar terug by ons verhaal. Paulus was 'n kanaal vir verskeie wonderwerke van God. En baie mense het hom begin bewonder oor hierdie dinge. Hy is gesien as 'n “heilige man” wat oor besonderse bonatuurlike magte beskik. En sy reputasie het hom ver vooruitgeloop.

In die antieke wêreld is feitlik alle onverklaarbare fisiese en veral psigiese toestande gesien as die werk en besetting van bose geeste. En daar was mense wat dit misbruik het en opgetree het as “uitdrywers”, natuurlik teen 'n fooi. Hulle het allerhande hulpmiddels soos armbandjies, doepa en towerspreuke gebruik hiervoor. Dit is veral die Joodse bosebesweerders wat baie gewild was, want die mense het geglo dat Jode oor baie spesiale magte beskik. En as hulle boonop die Naam van die Here gebruik het, dan het hulle aansien sommer met rasse skrede gestyg!

Só daag daar toe juis 'n groep jong Joodse manne in Korinte op, sewe broers, Skeva se seuns. Hulle maak aanspraak daarop dat hulle pa 'n hoëpriester was, en dan is almal gaande oor hulle. Hulle kom te hore van die wonderlike dinge wat Paulus doen, en dan besluit hulle dat dit maar net goed kan wees vir besigheid as hulle sy naam iewers inbring. En so begin hulle bose geeste uitdryf deur die geeste te besweer “in die Naam van Jesus wat deur Paulus verkondig word.”

En nét dáár draai die hele ding teen hulle. Hulle is nog besig om met 'n gees se gal te werk, toe kap die demoon terug: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?” Die arme manne skrik hulle spierwit. Maar dan begin dinge éérs lol: die besetene draai om en begin die sewe manne toetakel met bose mag. Hy slaan die kêrels pimpel en pers en skeur die klere van hulle lywe af, sodat hulle kaal en stukkend geslaan, al skreeuend straataf vlug!

'n Reuse oorwinning vir die Evangelie, want die mense wat hiervan te hore kom, word met vrees vervul, en talle mense kom tot geloof in Jesus. Baie van hulle het die een of ander toorkuns beoefen. Hulle stroom na Paulus om die dinge te bely. En talle mense bring hulle towerboeke om verbrand te word. Die waarde van die boeke word op 50'000 silwerstukke bereken. 'n Silwerstuk is 'n dag se loon, dus beloop dit minstens 5 miljoen rand!

Lukas skryf in Handelinge 19:20: “So het die woord van die Here kragtig bly groei en steeds sterker geword!

Bly weg van die okkulte dinge, hoé onskuldig dit ookal mag lyk. Dinge soos die sterre voorspel, geeste oproep, glasie-glasie speel, fortuinvertellery en nog baie soortgelyke dinge word dikwels selfs deur gelowiges beoefen. Dit is die dinge van die bose, en dit is bitter gevaarlik! Vra maar vir Skeva se seuns........

Gebed:

Here, bewaar my asseblief van die bose, en gee my die wysheid om weg te bly van alle okkulte dinge!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026