Skeva se Sewe Seuns

19 November, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Skeva se Sewe Seuns

Handelinge 19:11-20

VIDEO | OUDIO

Die vraag wat baie gelowiges dikwels met groot huiwering vra, is of daar werklik sulke goed soos bose geeste of magte is? Kan hulle jou lewe oorneem of beset? Is dit nie dalk net pure snert nie? Ek het sélf ook al 'n paar dinge gesien wat my nekhare laat regop staan het! So woon ek jare gelede ‘n Hindoe fees by waar ek totaal onverklaarbare dinge aanskou het! 'n Jong man wat voor my oë verander het van 'n bedremmelde figuur na ‘n vreeslose dier-mens. Hulle het dik breinaalde deur sy tong en wange gesteek totdat hy later soos ‘n ystervark gelyk het sonder ‘n druppeltjie bloed. Groot vishoeke is deur sy rugvel gehaak sonder dat hy dit voel! En hy was nie die enigste nie.....

Daar is maar min geskryf oor die wonderwerke wat deur Paulus plaasgevind het. Lukas noem net so terloops in Handelinge 19:11 dat God wonderbaarlike dinge deur Paulus gedoen het. Dikwels was hy nie eers persoonlik daar wanneer die dinge gebeur het nie. Lukas vertel byvoorbeeld dat mense doeke of voorskote na Paulus gebring het en dat hy net daaraan moes raak. Dan is hierdie stuk materiaal na 'n sieke geneem en op hom neergesit en dit was genoeg om sy siekte soos mis voor die son te laat verdwyn. Selfs bose geeste het die loop geneem as so 'n kledingstuk op die besete persoon gelê is!

Dis egter baie belangrik dat ons mooi lees presies wat Lukas hier skryf. Hy stel dit duidelik dat dit God is wat die wonderwerke deur Paulus gedoen het. Paulus was slegs die instrument, hy het nie die wonders gedoen nie! Ons maak dikwels die fout om iemand op te hemel as 'n "wonderwerker". Die persoon sou al só baie mense genees het deur sy wonderlike geloof of genesende krag.

Nou wat beteken dit dan as iemand 'n spesifieke geestesgawe ontvang het? Beteken dit dan dat hy die mag het om byvoorbeeld mense te kan genees? Nee, beslis nie! Al wat dit beteken is dat die Here die persoon gebruik as 'n kanaal om Sy wonderwerke te laat gebeur. Presies dieselfde geld vir al die ander gawes soos byvoorbeeld prediking waar die persoon bloot 'n spreekbuis is om Sy boodskap oor te dra. Daar rus 'n groot verantwoordelikheid op so iemand want hy moet sorg dat daardie spreekbuis in die beste moontlike toestand is om die boodskap suiwer oor te dra en dus kos dit baie ure se voorbereiding om die boodskap aan mense te kan lewer.

Jy moet sorg dat jy die beste moontlike kanaal is vir die Here se werk. Paulus was so 'n kanaal vir verskeie wonderwerke van God en baie mense het hom begin bewonder oor hierdie dinge. Hy is gesien as 'n “heilige man” wat oor besonderse bonatuurlike magte beskik.

In die antieke wêreld is feitlik elke onverklaarbare fisiese en veral psigiese toestande gesien as die werk en besetting van bose geeste. En daar was mense wat dit misbruik het en opgetree het as “uitdrywers”, natuurlik teen 'n fooi. Hulle het allerhande hulpmiddels soos armbandjies, doepa en towerspreuke gebruik hiervoor. Veral die Joodse bosebesweerders was baie gewild want die mense het geglo dat Jode oor baie spesiale magte beskik het. En veral wanneer hulle die Naam van die Here gebruik het, het hulle aansien sommer baie gestyg!

En só daag die sewe broers, die seuns van Skeva in Korinte op. Hulle maak aanspraak daarop dat hulle pa 'n Joodse hoëpriester was en natuurlik is almal gaande oor hulle. Hulle kom te hore van die wonderlike dinge wat Paulus doen en dan besluit hulle dat dit maar net goed kan wees vir besigheid as hulle sy naam iewers inbring. En so begin hulle bose geeste uitdryf deur die geeste te besweer “in die Naam van Jesus wat deur Paulus verkondig word.”

En nét dáár draai die hele ding teen hulle. Hulle was nog besig om met 'n gees se gal te werk, toe kap die demoon terug: “Jesus ken ek en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?” Die arme manne skrik hulle spierwit. Maar dan begin dinge éérs lol want die besetene draai om en begin die sewe manne toetakel met bose mag. Hy slaan die kêrels pimpel en pers en skeur die klere van hulle lywe af sodat hulle kaal en stukkend geslaan, al skreeuend vlug vir hulle lewens!

'n Reuse oorwinning vir die Evangelie want die mense wat hiervan te hore kom, word met vrees en ontsag gevul en talle mense kom tot geloof in Jesus. Baie van hulle het die een of ander toorkuns beoefen en hulle stroom na Paulus om die dinge te bely. Talle mense het hulle towerboeke gebring om verbrand te word. Die waarde van die boeke word op 50'000 silwerstukke bereken. 'n Silwerstuk is 'n dag se loon, dus beloop dit in vandag se terme minstens 5 miljoen Rand!

Lukas skryf: “So het die Woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei.” (Hand 19:20).

O ja, Jesus bied vandag steeds bevryding van alle magte wat ‘n mens gevange kan hou. Om egter die duiwel aan te vat, moet jy weet presies waarvoor jy jou inlaat. Dit kan baie gevaarlik wees as jy nie daarvoor opgewasse is nie, soos die Skeva-seuns op die harde manier ontdek het! Vir 'n gelowige is dit in elkgeval nie nodig om die duiwel "aan te vat" nie want Jesus het reeds die oorwinning oor hom behaal en ons bevry! Moet ook nie probeer om die Evangelie tot jou eie voordeel aan te wend nie - dit loop elke keer op ‘n ramp uit.

Daar is egter ook ‘n ander waarheid wat ons uit die vertelling leer, dat bekering ‘n hoë prys het. Dit vra dat ons ‘n radikale breuk moet maak met ou sondige praktyke. Jy kan nie ‘n Christengelowige wees en terselfdertyd voortgaan met ‘n sondige leefstyl nie! Jy kan nie tegelyk vir God én Mammon dien nie!

Gebed:

Here, ek besef vanoggend dat die bose soos ‘n brullende leeu is, daarom vra ek dat U my sal bewaar van sy aanslae en my sal staande hou en paraat maak!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026