1 Timoteus 6:17-21
In die vorige dagstukkie het ons geraak aan die punt van gierigheid en rykdom en dan in teenstelling hiermee, Bybelse tevredenheid. Die vraag is, of ‘n Christen-gelowige dan nie ook ryk kan wees nie? Gaan kyk ons na die ou grotes in die Bybel, dan sien ons telkemale baie ryk mense wat tere kinders van God was. Die eerste klassieke voorbeeld is Job, en dan natuurlik Abraham, wat ‘n baie ryk man was. Salomo het nie die einde van sy skatte (en sy vroue!) geken nie. Om darem ‘n duisend vrouens te onderhou (én gelukkig te hou), het aan ‘n man se sak gevat! Josef was nog 'n goeie voorbeeld. Hy het gevorder van slaaf na die tweede in bevel oor Egipte. Skatryk!
Nou moet ek darem sê, dat daar meer as net een soort rykdom is. In James Stevenson-Hamilton se boek, “An African Eden,” vertel hy van ‘n rykdom wat nie in geld gemeet kan word nie. Dit was die beginjare van die Kruger Wildtuin, en hierdie nuwe wildreservaat was die Aspoestertjie van Suid-Afrika. Die Anglo-Boere Oorlog was pas verby, en daar was nie geld om hierdie droom te verwesenlik nie. Daar was geen paaie nie, net die wilde, dikwels ondeurdringbare bos. Hamilton het ôk nie ‘n 4x4 besit nie, en met perde, osse en donkies is die onbegaanbare bosse deurkruis. Die ergste van alles is dat daar nie eers diere was nie, want hulle was almal uitgejag.
Hamilton, Harry Wolhuter en die ander wildbewaarders moes oorleef op ‘n bitter klein toelaag van die regering. Daar was nie eers geld om vir hulle huise te bou nie! Eers ‘n hele paar jaar later is daar vir hulle enkele sinkhuisies gebou om in te bly. Sommige van die wildbewaarders moes maar tevrede wees om vir jare in modderhutte te oorleef. Hulle spyskaart het bestaan uit mieliepap, tee, soms ‘n bietjie Boeliebief en groente wat hulle self moes kweek. Nogtans vertel Hamilton van die ongelooflike rykdom wat hy ervaar het, en die luukse van ‘n ongerepte, onbesoedelde wildernis waar jy vry soos ’n arend is en die suiwer, skoon lug kan inasem. Een van die wildbewaarders het elke maand sy hele salaris weggegee aan die plaaslike bevolking, bloot omdat hy geen nut vir geld gehad het nie. Sy rykdom was die veld waarin hy gebly het.
Paulus waarsku teen rykdom, want daar is allerhande gevare aan gekoppel. In die eerste plek is daar die onsekerheid wat saam met rykdom gaan. Ek onthou, 'n klompie jare gelede het die aandelemark skielik ingetuimel. Daar was mense wat skatryk geword het uit aandele, en skielik was al hulle "rykdom" niks werd nie. Mense wat stinkryk was het skielik met absoluut niks gesit, en mense wat in paleise gewoon het, het op straat beland. Dit was chaos!
Die gevaar kom in waar iemand sy rykdom sien as ‘n produk van sy eie goedheid, en dat hy daardeur ‘n grootkop kry. ’n Mens moet elke oomblik van die dag besef dat niks wat jy besit deur jou eie toedoen is nie, maar dat absoluut alles uit suiwer genade aan jou geleen is deur die Een aan Wie alles behoort. Die vraag wat ons onsself moet afvra, is of ons sonder al ons besittings steeds op God sal vertrou? Hy het gegee - as Hy nou weer wegneem, sal ons steeds tevrede wees? Onthou jy nog die verhaal van die ryk jongman wat met Jesus kom gesels het? In Matt 19 lees ons dat hy bereid was om alles te doen vir Jesus, maar toe dit by sy besittings kom, steier hy terug, want nou vat dit aan die dinge wat hy liefhet.
Rykdom is ‘n gawe wat God ons gee, maar as ons dit kry dan bring dit vir ons ‘n baie groot verantwoordelikheid saam, ‘n verantwoordelikheid wat van jou vra om jou aardse skatte hemelse skatte te maak. Vrygewigheid, mededeelsaamheid en goeie dade is ‘n paar van die maniere waarop jy jou skatte in hemelse skatte kan verander. Die wonderlike is dat jy nie ryk hoef te wees om hierdie soort van beleggings te maak nie. Nog beter nuus is dat jy nie hoef bang te wees dat ‘n skielike ekonomiese insinking jou belegging kan kelder nie. God gee aan my en jou die wonderlikste beleggingsgeleenthede! Gryp hulle aan, en jy sal nooit, ooit spyt wees nie! Gaan lees maar wat Jesus in Matt 6:19-20 gesê het oor sulke beleggings.
Ons het gekom aan die einde van hierdie eerste inspirerende brief van Paulus aan Timoteus, en uiteraard ook aan elke Christenleier. Ten slotte vertel Paulus dat God ‘n deposito in jou belê het. Hierdie deposito is die geloof, kennis en gawes wat aan jou toevertrou is. Hierdie dinge behoort nie aan jou nie, dit is steeds God se eiendom! Hy het dit slegs aan jou toevertrou omdat Hy weet dat jy dit baie suksesvol en winsgewend kan gebruik. Soos in die gelykenis van die muntstukke waarvan Jesus in Matt 25:14-30 vertel het, sal God ook eendag rekenskap vra van Sy deposito. Die vraag is of ek en jy daardie deposito sal kan teruggee met groot wins, of gaan ons dit maar veilig begrawe omdat ons bang of lui is om daarmee te gaan woeker? As ons werklik ernstig is oor ons geloof, sal ons wegbly van al die sinlose leierskapspraktyke. God se genade is vir Christenleiers beskikbaar in alle oorvloed. Gryp dit aan en stel ‘n geloofsvoorbeeld wat elke gelowige sal wil navolg!
Gebed:
Here, dankie vir die groot rykdom wat U uit genade vir my gegee het - leer my asseblief om dit volgens U wil te gebruik.