Sinnelose Argumente

7 May, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sinnelose Argumente

2 Timoteus 2:23-26

Moet jou nie met dwase en sinnelose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak.” (2 Tim 2:23). Die eerste woorde wat ek vanoggend lees, spring vir my uit die blaai van die Bybel uit, en onmiddellik dink ek aan ’n sinnelose debat in die natuurprogram 50/50 op TV so ‘n paar jaar gelede. Die wêreldberoemde Prof. Stephen Hawking wat nou onlangs dood is, het vir oud-minister Pik Botha gesê dat daar nie lewe na die dood is nie, en dat die mens soos ‘n rekenaar is wat afgeskakel word as jy sterf. Daar is net niks! Die debat het gegaan oor Hawking se vraag: is daar lewe na die dood? Vir my as gelowige is dit ‘n baie eenvoudige antwoord, maar die wetenskaplikes wat hierdie tameletjie probeer uitredeneer het, het hulleself net al dieper en dieper in die gemors ingeredeneer. Die enigste persoon wat sin gemaak het was ’n Ateïs, die voorsitter van die Skeptiese Vereniging. Sy redenasie, dat Christene die wetenskap totaal ignoreer, is gedeeltelik waar, want dikwels loop ons met oogklappe, en glo net wat tradisie ons geleer het, sonder om behóórlik die Woord te lees. Die Paleontoloog in daardie gesprek glo dat ‘n mens net ‘n hoop bene is! Dit is immers al wat hy ooit opgrawe! Uiteindelik het die debat gedraai by evolusie en die ouderdom van die aarde.

En toe kom die Christene met die vreemdste redenasies, en hulle praat in sirkels, soveel só dat g’n mens uiteindelik enigiets kon uitmaak van wat hulle werklik glo nie. Met al hulle slim redenasies het hulle die persone wat na die program gekyk het en vrae oor die onderwerp gehad het, totaal in die war gebring. Die enigste persoon wat by hierdie debat gebaat het, was die Ateïs, want na dese was daar baie meer mense wat skepties was!

Vra jy my wat ek glo oor hierdie vraag? Ek glo met my hele hart dat daar lewe na die dood is. Die Bybel leer my immers so! Klaar! Evolusie en hoe oud die aarde dan nou eintlik is, het hiermee absoluut niks te doene nie.

Paulus lê klem daarop: Moenie betrokke raak by kantlynsake waaroor die Bybel nie duidelik uitspraak gee nie, veral nie as jy ‘n geestelike leier is nie, want jy kan dalk net baie meer kwaad veroorsaak as goed. Kyk, gee my ‘n halwe kans, en ek kan met baie mooi redenasies kom oor die skepping en evolusie. Oor hierdie dinge het ek my gedagtes opgemaak, ek het my eie teorieë hieroor. Let wel: dit is slegs teorieë, want nie die Bybel nie en ook nie die wetenskap gee oor hierdie dinge ‘n honderd persent klaarheid nie! Die probleem is egter, dat as ek vanoggend hier skryf wat ek daaroor glo, gaan die helfte van die lesers met my saamstem en die ander helfte gaan sê dat ek nonsens praat. Wat het ek gewen? Absoluut niks! Maar ek het die helfte van die lesers verloor! Dit sal tragies wees......

Paulus vermaan dat in plaas van redenasies en kwaad word as iemand kwetsende aantygings maak teenoor jou, moet jy dit eerder antwoord met vriendelikheid. Ek moet bieg dat ek al dikwels warm onder die boordjie geraak het as iemand my knaend aanval en vertel hoe verkeerd my geloof dan nou werklik is, en dat hierdie geloof van my nooit, ooit vir my in die hemel gaan bring nie, en dat ek almal aan wie ek e-posse stuur om die bos lei en saam met my laat dwaal.

As jy 'n gelowige is, en veral as jy in ‘n leiersposisie is, durf jy nie toelaat dat sulke aanmerkings maak dat jy uitvaar teen die persoon en hom sy fortuin vertel nie. Jy moet steeds vriendelik bly en liewer jou mond hou. As die Bybel egter ‘n duidelike uitspraak gee oor die saak, durf jy ook nie daaroor stilbly nie, en moet jy toegerus wees om ‘n toepaslike antwoord te kan gee. Dit moet egter steeds met vriendelikheid gebeur, sodat jy nie in ‘n argument betrokke raak en dalk daardie persoon totaal verloor nie.

n Mens moet ook te alle tye onthou dat dit nie mý goeie kennis van die Skrif of mý goeie redenasievermoë of selfs mý vriendelikheid is wat mense se harte verander nie. Dit is slegs God wat mense kan bekeer en tot kennis van die waarheid bring. Dit staan duidelik so uitgespel in 2 Tim 2:25. Talle mense het my al gevra hoe jy ‘n Christen word, en ek het al aan baie mense ‘n mooi uitleg in my beste taal en skryfstyl gestuur, wat verduidelik presies hoe dit werk. As die Heilige Gees egter nie daardie persone tot bekering bring nie, is al my mooi woorde totaal verniet. Terloops, by bit.ly/dsEboeke kan jy 'n boekie aflaai wat jou kan help om die Evangelie eenvoudig aan iemand te verduidelik. Die titel: Hoe vertel ek iemand van Jesus?

n Mens se vriendelikheid beteken natuurlik nooit dat jy maar gelate aanvaar as iemand dwaalleer verkondig nie. Dwaalleer is iets wat teenstrydig is met alles wat die heilige Woord van God verkondig, en daaroor het Paulus hom verskeie kere al baie heftig uitgespreek. Sulke dinge durf jy nie duld nie. Ongelukkig is dit dikwels met ‘n dwaallering soos dronkenskap, en dat jy nie nugter daaroor kan dink solank jy daarin vasgevang is nie. Weereens sal heftige redenasies iemand wat daarmee deurmekaar is net verder aanvuur. Ek het dit sélf al pynlik agtergekom in my redenasies met Jehovah’s Getuies. Al my argumente het absoluut niks opgelewer nie. Dit is slegs God wat hulle siening sal kan verander.

Gebed:

Here, gee my asseblief ‘n oorvloed van vriendelikheid en kalmte en nugterheid wanneer ek gebombardeer word met sinnelose argumente.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026