Lukas 3:23-4:4
‘n Geslagsregister kan maar ‘n vervelige ding wees wat jy liewer oorslaan. Maar tóg is die simboliek en orde van name dikwels belangrik. Lukas het ‘n ander benadering tot sy geslagsregister as Matteus. Syne begin by Adam, waar Matteus by Abraham begin. Matteus wou wys dat Jesus ‘n ware Jood was, ‘n afstammeling van die aardsvader Abraham. Lukas wou eerder aantoon dat Jesus uit ‘n eerbare familie kom met ‘n baie lang geslagslyn, reg tot aan die begin van die geskiedenis. Dit sou beteken dat Hy nie net bande met die Joodse volk het nie, maar met alle volke wêreldwyd.
Die tweede interessantheid wat ons opmerk, is dat Lukas aan die begin sê: “Hy is beskou as die seun van Josef.” Jesus was dus nie werklik die Seun van ‘n aardse vader nie, maar die seun van God, soos hy tereg sy lys afsluit. Op hierdie subtiele manier bring Lukas die begin en einde bymekaar deur dan te impliseer dat Jesus waarlik die ware Seun van God is.
Ons sien verder dat Lukas speel met getalle. Daar is altesaam 77 name wat in duidelike groepe van 7 elk ingedeel is. Nie alleen het die getal 7 ‘n baie diep geestelike betekenis gehad in die Bybelse tye nie, maar ons moet ook onthou dat hierdie boek geskryf is voor die gedrukte boek ‘n werklikheid was. Geskrifte is gememoriseer om dit so oor te dra. ‘n Lys van 77 name is onmoontlik om te onthou, maar bondeltjies van 7 name is nie so moeilik nie. Hierdie bondeltjies van sewe name het dikwels ook ‘n bekende naam aan die begin, soos Dawid, Abraham en Henog.
Die belangrikste boodskap van Lukas se geslagsregister, is om te sê dat Jesus onlosmaaklik van die mensdom deur die eeue is. Hy het ‘n menslike geslagsregister. Terselfdertyd is Hy die Seun van God. Hy het dus ‘n ewe sterk verhouding met God sowel as die mens.
Die geslagsregister is in ‘n sekere sin die inleiding tot die volgende perikoop, want as Seun van God word Sy ware Seunskap nou getoets waar Hy te staan kom teen die duiwel. Lukas wil vir ons weergee wat dit waarlik beteken om die Seun van God te wees, en terselfdertyd die valsheid van die duiwel daaroor aan die kaak te stel. Hierdie dramatiese gebeure skilder vir ons hoedat Jesus se gehoorsaamheid aan God en Sy baie besonderse verhouding met die Vader in uiterste omstandighede getoets word. As Hy hierdie toets sou faal, dan was Sy hele opdrag gedoem!
Ons moet onthou dat Jesus so pas die toerusting ontvang het om Hom te kon dra deur krisistye. Hy is bekragtig met die Heilige Gees by Sy doop. Dit beklee Hom met gesag, en dus is Hy ten volle gereed vir wat op Hom wag in die woestyn.
Dit is interessant dat ons dit dikwels lees dat profete ‘n tyd van afsondering in die woestyn deurgebring het as voorbereiding vir ‘n baie groot taak. Die jongste voorbeeld hiervan is Johannes die Doper. Nou word Jesus sélf ook deur die Heilige Gees gelei om 40 dae in die woestyn deur te bring en in daardie tyd te vas. Dit moes ‘n verskriklike toets gewees het! Hy was rasend van die honger toe die duiwel met sy eerste slinkse versoeking kom en Jesus se desperate situasie uitbuit!
Jesus se ervaring laat ons onwillekeurig terugdink aan die Israeliete wat deur die barre woestyn getrek het op pad na die beloofde land. Hulle het bitter swaar gekry, hoofsaaklik oor hulle eie hardkoppigheid, en uiteindelik het hulle terugverlang na die oorvloedige vleispotte van Egipte. Die feit dat God vir hulle gesorg het met manna en kwartels, het hulle baie gou vergeet. Hulle wou vir hulleself sorg en sonder God se voorsiening klaarkom. Nou wil die duiwel dieselfde soort gesindheid by Jesus skep. Die duiwel het gemeen dat Jesus mos baie maklik vir Hom brood kon skep uit ‘n klip, hy was immers ten volle by magte om dit te doen en later sien ons ook dat Hy vir 5000 mense brood skep uit feitlik niks! Dit is soos om met ‘n motor langs ‘n uitgeputte maratonatleet te ry en dan vir hom aan te bied dat hy ‘n entjie kan saamry. Dit sou hom mos diskwalifiseer!
Jesus antwoord met ‘n aanhaling uit Deuteronomium 8:3, wat daarop neerkom dat die Here op Sy eie manier en met Sy eie besonderse gawes sal voorsien.
Dalk is jy ook vandag in die “woestyn”, en die duiwel wink vir jou met ‘n wonderlike uitkoms. Wéét vandag dat God op die regte tyd sal voorsien op Sy besonderse manier. Moenie toegee nie!
Gebed:
Dankie Here, dat ek vandag weet dat ek op U kan vertrou, en dat U sal voorsien op U tyd.