Ses Seëls

29 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ses Seëls

Openbaring 6

Jesus, die Lam van God het die boekrol ontvang. Dit was verseël met sewe seëls, en nou begin Hy die seëls oopmaak. Soos hulle oopgemaak word, hoor ons van allerhande oordele wat die aarde tref. Hierdie is egter nie die finale oordele van God nie, maar slegs inleidende plae wat die mensdom tref voordat die finale oordeel van God plaasvind.

Die vraag wat ons instinktief wil vra, is waarom daar dan ’n oordeelsvoltrekking nodig is? Die rede is eintlik voor-die-hand-liggend. As jy maar net dink aan die verskriklike sonde waarin die wêreld verval het, dan is dit heeltemaal te verstane. Die nasies volhard in sonde, en God kan dit net eenvoudig nie duld of ongestraf laat bly nie. Vandag borrel en kook die wêreld absoluut oor van sonde, en elke dag word jy geskok deur die allergruwelikste gebeure.

Wanneer ons van hierdie oordeel van God lees, dan wil jou hart inmekaar krimp, want ons verwag net ellendes. Maar gelowiges word júís gedurigdeur herinner aan God se groot genade oor ons, en dat ons bestemming alreeds deur die verlossing van die Lam geborg is. Let byvoorbeeld op, dat wanneer Johannes skryf oor die oopmaak van die sewe seëls, daar eers ‘n tussenspel is na die sesde seël, waar gelowiges verseker word van hulle verlossing voordat die sewende oopgemaak word. Dieselfde geld ook later vir die sewe trompette.

Die Lam maak self die eerste seël oop, en dan verskyn daar ‘n wit perd wat die simbool is van oorwinning. Daar is nie eensgesindheid oor die verklaring van hierdie seël nie: volgens die Bybellennium is dit die vals profete wat ‘n oorwinningstog oor die wêreld voer. Dr. Jan Blignaut se mening was weer dat dit die Simbool is van Jesus Christus as die Oorwinnaar, met die Oorwinningstog van die Evangelie deur die hele wêreld. Vergelyk dit gerus met parallelle gedeeltes in Matteus 24:14 en Openbaring 19:11-21. Die uitdra van die Evangelie gaan die eindoordeel vooraf. Persoonlik glo ek ook dat hierdie uitleg van Jesus die Oorwinnaar die korrekte een is.

Ná die uitdra van die Evangelie, word nóg seëls oopgemaak. Die tweede seël laat ’n ruiter op ’n vuurrooi perd vry. Dit spel oorlog en bloedvergieting, en hy beroof die aarde van sy vrede.

Die derde seël laat ‘n ruiter op ‘n swart perd vry. Die gevolge van oorlog is gewoonlik uiterste hongersnood en inflasie wat handuit ruk. Die opmerking oor die olyfolie en die wyn, het te doen met die feit dat soldate gewoonlik die wingerde en oflyfboorde vernietig het in oorlogstyd, en hierdie is ‘n pleidooi om dit asseblieftog te laat staan.

Die vierde seël laat ‘n vaal perd vry, eintlik vaalgroen, die kleur van ‘n lyk. Een van die gevolge van ‘n oorlog is allerhande siektes veroorsaak deur hongersnood. So ook werkloosheid, geweld, moord en mense wat op groot skaal doodgaan. 'n Kwart van die mense wat die aarde bewoon word deur die dood weggeruk, maar tog begrens of beperk God hierdie slagting. God bly steeds in volle beheer! Hierdie is dan ook 'n simboliese uitdrukking van God se groeiende toorn en Sy oordeel oor die goddeloses.

Die klem op die vernietiging, dood en oordeel is slegs die voorspel tot die finale oordele van God. Maar ons moet ook in gedagte hou dat die ewige teenwoordigheid by God direk hierop volg vir almal wat kinders van God is. Dit is ons troos in lewe en in sterwe! Dit is duidelik dat die oordele van God die goddeloses tref! Vir die gelowiges het Jesus Christus as die LAM VAN God versoening en vrede met God gebring deur Sy bloedoffer. Wat ookal, niks kan ooit weer hierdie versoening en vrede vernietig nie.

Die vyfde seël handel oor martelaarskap. Inderdaad het baie mense reeds gesterf as gevolg van hulle geloof, en dit gebeur vandag nog steeds. Die troos is egter dat hulle aan die voet van die altaar, dus naby God is. Hulle gebed is dat God se oordeel gou moet kom sodat geregtigheid kan geskied. Hulle ontvang lang wit klere wat reinheid en geregtigheid voor God simboliseer. Hulle oorwinningsklere is in die bloed van die Lam gewas. Hulle moet egter nog ‘n klein rukkie wag, want God se groot plan moet eers ten volle uitgevoer word.

Wanneer die sesde seël oopgemaak word, breek die oordeelsdag aan. Die vernietiging van die heelal is deel van God se oordeelsvoltrekking. Groot aardbewings, die son en maan wat soos bloed word, sterre wat val, die hemel wat verdwyn, berge en eilande verdwyn. Hierdie dinge beteken dat God se groot dag aangebreek het. Die groot vraag is: wie sal staande bly? Die volgende hoofstuk is ‘n tussenspel. Hier word die vraag beantwoord. Gelowiges weet immers dat Jesus diegene wat aan Hom behoort vashou gedurende hierdie verskriklike tyd van beproewing wat die hele aarde oorspoel. Watter wonderlike troos!

Gebed:

Dankie Here, dat ek vandag kan weet dat ek ook in U geborge is, en dat U my vashou tydens die verskrikking wat kom. Kom, Here Jesus, kom gou!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026