Elke jaar met Paasfees is hulle daar, die mense van Suid-Amerika wat so getrou boetedoen vir hulle sondes. Hulle loop deur die strate met lang, droewige gesigte, al singende terwyl hulle hulleself met swepe slaan totdat die bloed vryelik uit hulle rou wonde vloei. ‘n Paar manne gaan selfs so ver as om hulleself te laat kruisig. Spykers word deur hulle hande gekap, en dan hang hulle daar aan ‘n houtkruis om sodoende te betaal vir hulle sondes. Afgryslik!
In Pamplona in Spanje word daar jaarliks ‘n tipe selfkastyding van ‘n totaal ander aard gedoen, wanneer hordes manne voor ‘n trop woedende bulle hardloop. Dikwels sien ons hoe die manne hulleself voor die pote van die bulle neergooi sodat die diere hulle kan vertrap. Sommige hardloop doelbewus in die skerp horings van die bulle vas. Selfkastyding, Moontlik om hulle manlikheid te bewys? Of dalk omdat hulle skuldig voel, en so wil betaal vir hulle sondes? Baie mense word afgryslik beseer tydens hierdie absurde ritueel.
Natuurlik sal jy met my saamstem dat sulke selfkastyding en boetedoening totaal onnodig is. Hiermee sal die Hindoes wat hulleself deurboor met hoeke en penne deur hulle vel, nooit in der ewigheid die saligheid verdien nie, en die Christene wat hulleself so dramaties martel tydens Paasfees, bereik daarmee selfs nog minder!
Daar is egter baie meer subtiele maniere van selfkastyding wat daagliks in die lewe van baie gelowiges voorkom. ‘n Voorbeeld: Ek het dalk jare gelede ‘n ernstige sonde gedoen. Ek het egter vir die Here vergifnis gevra oor die sonde, maar nou bly ek skuldig voel daaroor, en ek herinner myself kort-kort daaraan. Skuldgevoelens vreet my op en ek kan nie daarvan wegkom nie. Ek bly oor en oor vir die Here vra om my daarvoor te vergewe. Die vraag is, hoeveel keer moet ek om vergifnis smeek oor ‘n sonde wat ek gedoen het? As ek so aanhou vergifnis vra, dan wil ek eintlik vir die Here sê dat Sy vergifnis nie voldoende is nie! Kan Sy kosbare bloed my nie hééltemal skoon was nie? Ek dink jy sal met my saamstem dat Jesus se vergifnis volkome is.
Ons het so ‘n wonderlike voorreg om in ‘n baie spesiale tyd te leef, die eindtyd. Dit is, terloops die tydperk tussen Jesus se geboorte en Sy wederkoms. Tipies mens, probeer ons dikwels om te vergoed vir ons eie swakhede, en steek ons baiemaal só by die verlede vas dat ons nie vir Jesus in die hede kan leef nie. In hierdie Skrifgedeelte vra die skrywer ons om Jesus se eenmalige offer te aanvaar. Dit is absoluut voldoende om jou die ewige lewe te gee.
In die ou Testament word beskryf hoe die hoëpriester elke jaar op die Groot Versoendag die Allerheiligste van die tempel moes binnegaan om offers te bring. ‘n Offerdier is geslag en sy bloed moes dien as versoening van mense se sondes. Vir honderde jare het dit so aangegaan, elke jaar presies dieselfde ritueel.
Dink nou net, as Jesus vir die afgelope 2000 jaar, elke jaar óór gekruisig sou moes word vir ons versoening, wat ‘n absurde gedagte sou dit wees! Nee, Jesus het slegs eenmaal gely en gesterf, maar ook weer opgestaan uit die dood. Sodoende het Hy vir eens en altyd klaargespeel met die sonde. Die tyd dat mense hulleself herhaaldelik moet kasty om hulle eie brouwerk reg te maak, is vir altyd verby.
Met die korrupte lewe wat ons leef, is ons gedoem om eenmaal te sterf. Dit is die lot wat alle mense tref! En dan kom die oordeel. G’n hoëpriester kan ooit genoegsaam namens ons versoening doen nie, al sterf hy ook sélf vir ons, want selfs hý is korrup en vol sonde! Jesus, die Sondelose is egter slegs eenmaal geoffer, want Hy was volmaak en kon versoening bewerkstellig vir al ons sondes. En nou skielik is die oordeel wat vir ons as gelowiges sou wag ná die dood, nie meer daar nie. In Heb 9:28 lees ons: “As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.” Gelowiges hoef dus nie in vrees en bewing te wag op Jesus se wederkoms nie. Hy kom nie om die gelowiges te oordeel nie maar om hulle in heerlikheid weg te voer. Vir diegene wat Jesus se groot offer en geskenk van die ewige lewe egter verwerp het, is dit ‘n totaal ander saak. Oor hulle lot wil ek liewer nie eers dink nie!
Romeine 3:23 stel dit onomwonde: “Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing in Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo.” Selfkastyding, in watter vorm ookal, is totaal onnodig, want Jesus se eenmalige offer was genoeg. Al wat Hy nou van jou vra is om in Hom te glo.
Gebed:
Dankie, Here Jesus, Dankie vir U groot offer. Vul asseblief my lewe met dankbaarheid!