Satan se Einde

6 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Satan se Einde

Openbaring 20

Die gedeelte wat ons vanoggend lees het al tot sommer baie verskillende interpretasieverskille gelei, en gelowiges was al in vurige debat gewikkel hieroor. Die verskille is egter van só ‘n aard dat dit nie die wesenlike van ons geloof raak nie. Sommige mense sien hierin dat daar nog ‘n duisendjarige vrederyk voorlê (die “chiliaste”). Ander glo dat Jesus tweemaal sal kom. Dan is daar boonop die kwessie van die “wegraping”. As ons hierdie gedeelte op sy eie lees of dit te letterlik probeer interpreteer, dan kan jy baie maklik tot allerhande gevolgtrekkings kom. Hierdie perikoop moet egter binne die raamwerk van die geheelboodskap van Openbaring gelees word om dit reg te kan verstaan.

Ons het nou gekom by die einde van Satan en die bose, asook by die finale oordeel. Johannes sien in sy visioen ‘n engel wat van God af kom - hy het toegang tot die onderaardse diepte, oftewel die woonplek van die bose. Die engel kom en bind Satan vas met ‘n groot ketting. Dit is simbolies om sy mag te beperk. Hy word in die onderaardse diepte gehou vir ‘n duisend jaar, en dan word hy vir ‘n kort rukkie vrygelaat. Ons kan nie die duisend jaar as ‘n letterlike tyd vertolk nie, maar weereens, soos ons al so dikwels in Openbaring gesien het, is hierdie ‘n simboliese getal wat daarop dui dat hy vir die volle tydperk wat God vir hom bestem het, gebind is. In die lig van die boodskap van Openbaring as ‘n geheel, kan ons hieruit verstaan dat Satan gebind is vir die tydperk tussen Jesus se eerste koms (2000 jaar gelede) en sy wederkoms. Deur Jesus se sterwe en opstanding, het Hy Satan oorwin. Hy is dus gebind. Die klein rukkie wat hy losgelaat word dui op die verskriklike intensiteit van sy aanslag kort voor die einde.

Jy kan jouself dalk die vraag afvra, waarom ons dan so baie van die duiwel se aktiwiteite sien as hy in boeie in die verdoemenis sit? Dikwels sien jy dat ‘n baie invloedryke gevangene wel in die tronk toegesluit is, maar steeds sy invloed buite die tronk kan uitoefen. Hy het sy meelopers wat sy werk vir hom doen. Hy is toegesluit, maar geensins magteloos nie. As ons egter die boosheid van die wêreld om ons vandag aanskou, wonder jy of ons nie dalk reeds in die tydperk begin leef waar die duiwel losgemaak is nie! Persoonlik dink ek dat die eindtyd nou baie naby moet wees, want alles versnel net eenvoudig met ‘n duiselingwekkende spoed.

Intussen sien Johannes ook in sy visioen “siele” op trone sit en regeer. Dit is mense wat vir hulle geloof gesterf het, asook al die gelowiges wat reeds te sterwe gekom het. Hulle het die eerste opstanding beleef pas nadat hulle dood is. As ek hierdie gedeelte reg verstaan, dan is daar géén eerste opstanding vir die ongelowige nie, en bly hy dood tot met die wederkoms. Lees ons egter die gelykenis wat Jesus vertel het van die ryk man en Lasarus (Lukas 16), dan lyk dit anders. Ons kan dus eintlik maar net raai. Daar sal ook ‘n tweede dood wees, maar gelowiges wat die eerste opstanding beleef het, sal nie die tweede dood beleef nie, hulle is mos vrygespreek!

Uiteindelik breek die groot dag vir Satan aan, waar hy vrygelaat word. Vir oulaas wys hy sy spiere as hy die goddelose nasies van regoor die hele wêreld bymekaar roep vir die oorlog van alle oorloë. Die nasies word Gog en Magog genoem, simbolies daarvan dat die goddelose nasies so baie soos die sand van die see is. In hulle miljoene trek hulle op teen Jerusalem, die geliefde stad, totdat die hele stad omsingel is. Dan tref God hulle met swael en vuur uit die Hemel, en die ganse leër word deur God se vuur verteer. Die duiwel word saam met die dier en die vals profeet in die poel van vuur gegooi, waar hulle vir ewig gepynig word.

Uiteindelik breek die laaste oordeel aan. Op ‘n groot wit troon sit God. Só groot is die mag en majesteit van God se verskyning, dat die ganse skepping voor Hom padgee. Die ou bedeling met sy sondesmet kan nie bestaan voor God se heerlikheid nie. Almal verskyn voor die troon vir die finale oordeel. Niemand word oorgeslaan nie, en twee boeke word oopgemaak. Elkeen word geoordeel volgens wat hy met sy lewe gedoen het. Dit beteken nie noodwendig dat sy dade hom kan verlos nie. In die tweede boek is die name geskryf van húlle wat die ewige lewe het, dié wat in Christus is. Dit is die burgerskapsregister. As jou naam nie daar is nie, dan het ‘n goeie lewe géén invloed op jou redding nie! Diegene wie se name nie in die Boek van die Lewe verskyn nie, word in die vuurpoel gegooi. Kort en saaklik! Maar wat van die ander? Wat gebeur met hulle? Daardie antwoord sien ons binnekort!

Is jou naam in die Boek van die Lewe? Myne is beslis - ek weet!

Gebed:

Dankie, genadige Hemelse Vader, dat U ook my naam in die Boek van die Lewe geskryf het. U kry al die eer daarvoor, want dit is nie my dade wat dit meegebring het nie, maar slegs die losprys wat U Seun, Jesus, aan die kruis vir my betaal het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026