Sara Beraam ‘n Plan

6 April, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sara Beraam ‘n Plan

Genesis 16

Video

Audio

Dit is alreeds tien jaar wat Abraham en Sara die belofte van die Here in hulle harte dra - die belofte van ‘n groot nageslag. Abraham is 85 en Sara 75. Abraham het so pas bevestiging gekry van die Here dat die belofte steeds vas staan. Maar Sara? Het die Here dalk van haar vergeet? Die frustrasie van wag en wag, en niks gebeur nie bou op tot ‘n breekpunt in die ou vrou. Dit is nou maar eenmaal so dat die samelewing ‘n vrou beoordeel volgens die aantal kinders wat sy in die wêreld bring. En wat kan sy aan hierdie beoordelende samelewing wys? Niks! ‘n Ronde nulletjie! God het haar beslis vergeet! Sy kan nie langer die verskriklike skande van kinderloosheid verduur nie. Dalk het hulle vir God verkeerd verstaan oor hierdie nageslag-belofte. Haar ou man se geloofsore hoor dalk nie meer so lekker nie. Het hy nie dalk verkeerd gehoor nie?

Stadigaan begin ‘n plan in Sara se kop vorm aanneem. Wat van surrogaatmoederskap? Dit was tog algemene gebruik in die Ooste dat ‘n kinderlose vrou haar slavin vir haar man gee om kinders te kon verwek namens haar. Daardie kind word dan as die vrou se eie aangeneem. Sou dit nie dalk ‘n goeie oorweging wees nie? Almal doen dit tog!

“Ou Man,” skud sy vir Abraham wakker. “Slaap jy?” Natúúrlik slaap Abraham, maar nou is hy mos klaar wakker, en hy luister: “Ek het ‘n plan!” Sara verduidelik. Ek is seker dat die ou gryse eers wou teenstribbel, maar as ‘n vrou so opgewonde is oor ‘n plan soos Sara nou is, dan praat ‘n man mos nie terug nie! Om die vrede te bewaar, stem Abraham in met haar slim plan. En so word Hagar dan gebruik as surrogaatmoeder vir Abraham en Sara se baba, en boonop verhoog haar status tot “vrou.”

En dis net dáár waar die moeilikheid begin, want skaars was Hagar swanger, of die intriges steek kop uit. Hagar dink sy is beter as haar baas, Sara en sy minag haar. ‘n Onhoudbare situasie het nou totaal ondraaglik geword, want nou was daar nie alleen die duiwel van kinderloosheid nie, maar boonop ook die demoon van verwerping en minagting. Wat doen sy? Natúúrlik is dit alles Abraham se skuld! Al wat die arme Abraham kon doen, was om in desperaatheid maar net sy hande in die lug op te gooi. Dit laat ‘n mens nogal terugdink aan die tragedie wat in die Tuin van Eden afgespeel het, nê? Ja, dit wás Eva wat die vrug gepluk het, en dit wás sy wat dit ook vir Adam gegee het, maar Adam kón immers nee gesê het. Het hy nie van beter geweet nie? Was dit nie hý wat persoonlik met God gepraat het nie?

En Abraham? Vasgevang tussen twee bitsige vroue, doen Abraham presies wat Sara vir hom sê. Hy swig voor die tong van sy vrou, en degradeer vir Hagar weer tot doodgewone slaaf. Met haar nuwe posisie as “vrou” daarmee heen, besluit sy om weg te loop.

Hagar word nou die derde vrou uit die Bybel waaroor ons skryf. En weereens het hierdie merkwaardige vrou ‘n reuse impak op die wêreld geskiedenis. Dalk lyk hierdie maar na ‘n nietige gebeurtenissie, maar die gevolge was astronomies, want hierdie enkele insident het vir eeue daarna spanning veroorsaak tussen die nasate van Hagar en Abraham. Bloedige oorloë is geveg, en selfs vandag, 4000 jaar later, loop die spanning steeds hoog tussen die twee afstammelinge van Abraham.

Dink dus baie mooi oor die gevolge wanneer jy iets onbesonne aanvang!

Hagar het koers gekies na Egipte, haar geboorteland. ‘n Eensame, mismoedige swanger vrou alleen op reis deur die dorre wildernis. Waarom het Abraham ooit toegelaat dat sy haar op hierdie moordende selfvernietigingsreis begewe? Sou Hagar ooit hierdie verskriklike tog oorleef? Sou die Here haar ook genadig wees? Sy is immers nie deel van die bloedlyn van die volk van God nie? Daaroor sal ons DV in die volgende dagstukkie gesels.

Maar nou eers die belangrike les wat ons leer uit vandag se verhaal: Dikwels gebeur dit dat die Here vir ons beloftes gee, en dan raak ons ongeduldig wanneer die beloftes ‘n bietjie te lank na ons sin draai. So maklik wil ons dan maar sake in ons eie hande neem - net om God so ‘n bietjie aan te help. Die gevolge kan katastrofies wees!

Kom ons neem ‘n eenvoudige voorbeeld: Die Here sê vir my dat Hy vir my sal sorg terwyl ek sendingwerk doen. Daar is geen inkomste nie, en ek is totaal afhanklik van mense wat die Here op my pad stuur vir my onderhoud. Dan gebeur dit op ‘n dag dat niemand opdaag nie, en ek sit in groot nood. Ek besluit dat ek die Here so ‘n bietjie gaan aanhelp deur te kyk of ek die R100 wat ek nog oor het kan laat groei by die kasino. Ek bid hard dat die Here my sal laat wen (baie edel!) Iemand wat ek bearbei op die sendingveld, sien my daar raak, en dink dat dit ‘n goedkeuring is om maar te dobbel. Nou is dit nie meer net ek sélf wat beïnvloed word deur my besluit nie, maar ook ander mense. Die gevolge is legio!

Kom ons plaas ons volle vertroue vandag op God, en wees geduldig as Hy dinge op Sy eie tyd doen.

Gebed:

Here, ek wou al so baie keer my eie kop volg en U aanhelp met U beloftes. Vergewe asseblief, Here.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026