Johannes 12:1-11
Die finale tyd het aangebreek! Jesus-hulle vertrek na Betanië, net buite Jerusalem. Nou is hulle natuurlik ook rég in die gevaarsone, waar die Joodse leiers op hulle wag. Die regte oomblik moet nou net aanbreek om Hom gevange te neem en tereg te stel.
Jesus en Sy dissipels word uitgenooi vir ‘n ete deur Sy dierbare vriende Marta, Maria en Lasarus. Hulle gaan sit aan om die tafel, of dalk moet ons eerder sê dat hulle om die tafel aanlê! Marta is soos gewoonlik die een wat rondhardloop en hulle bedien. En dan, terwyl sy so ywerig aan die werk is, verdwyn haar suster, Maria en kom te voorskyn met ‘n albasteflessie. Alle oë is op haar gerig. Asems word ingetrek want jy kan sommer sien dat hierdie ‘n peperduur fles is. Wat sou sy daarmee wou maak? Sy gaan reguit na Jesus toe, breek die nek van die fles en begin om die ganse inhoud daarvan oor Sy voete uit te giet.
Nardusolie word gemaak van die wortels van die nardusplant wat in Indië groei. Hierdie olie is dus ingevoer uit Indië, en is onbetaalbaar duur. ‘n Enkele druppel of twee is genoeg om ‘n heerlike geur te versprei. Vir Maria is dit egter nie genoeg nie en die hele inhoud, ‘n volle halfliter word vir haar Meester gebruik. Die vertrek en die hele huis word gevul met die hemelse geur van Nardus!
‘n Doodse stilte hang oor die groep, niemand uiter ‘n woord nie. “Weet Maria wat sy so pas gedoen het?” Elkeen stoei met sy eie gedagtes. Maria is egter nog gladnie klaar nie. Sy maak haar hare los en dan begin sy om haar goedversorgde haredos as handdoek te gebruik om Jesus se voete sorgvuldig droog te maak. Nou het sy almal éérs sprakeloos! Jy kan letterlik hoor hoe die toeskouers hulle asems intrek. So ‘n ding word net eenvoudig nie gedoen nie!
Hare was destyds vir vroue baie belangrik en hulle het groot moeite gedoen om dit te versorg. Maria se handeling is dan ook beskou as baie, baie spesiaal, want ‘n vrou sou slegs haar hare so gebruik om ‘n man se voete af te droog as hy vir haar baie spesiaal is - as sy dus aangetrokke is tot hom. Hiermee wil sy vir die man sê dat sy haar héél beste vir hom wil gee. Dit sou egter baie vergesog wees om Maria se aksie teenoor Jesus as ‘n seksuele aangetrokkenheid te sien. Vir haar was Hy haar Meester vir Wie sy enigiets sou doen.
Judas Iskariot is die eerste om die stilte te verbreek. Hy is ‘n bitter ongelukkige man! Hy meet Maria se aksie onmiddellik in geldwaarde, want hierdie duur olie kon eerder verkoop gewees het. Sy redenasie is dat die geld vir die armes gegee kon word. Baie edel, inderdaad! Maar Judas het ‘n verskuilde agenda, hy was geldgierig!
In daardie jare het ‘n Rabbi hom nie bekommer oor die alledaagse dinge soos kos, geld ens. nie, sy volgelinge moes hiervoor sorg en só natuurlik ook met Jesus. Sy dissipels moes sorg dat daar kos en ander noodsaaklikhede was. Judas was die een wat die finansies hanteer het, maar hulle het vermoed dat daar van die geld in sy eie sak beland het. Hierdie flessie nardusolie het Judas se geldgierige ogies laat skitter, want dit was ‘n hele jaar se salaris werd!
Het Maria geweet wat op Jesus gewag het? Het sy vermoed dat haar Meester ‘n paar dae later dood sou wees? Sy sou Hom salf met die beste wat sy gehad het terwyl Hy lewe. Sy het ‘n lewende Here aanbid! In skrille kontras hiermee kom Nikodemus ‘n week later met ‘n volle vyftig liter speserye om Jesus vir ewig in die graf weg te bêre!
Jesus is rustig oor Maria se handeling. As Judas haar oor die vingers wil tik oor sy so mors, is Jesus se reaksie dat Maria hierdie reukolie spesiaal moes hou vir hierdie dag, want dit is om Hom te salf vir Sy begrafnis. Vir die armes kan hulle maar weer anderdag iets gee, maar nou is Jesus die héél belangrikste.
Vir Maria was dit van uiterste belang om haar álles te gee vir ‘n lewende Here. Nie alleen offer sy baie duur reukolie op nie, maar sy waag ook haar reputasie deur haar hare te gebruik. So maklik kon iemand dalk iets anders gelees het in haar handeling, maar sy het nie omgegee nie. Sy het besef dat Jesus se tyd om was en dat daar dalk later nie weer ‘n geleentheid sou wees nie.
Ek dink dit is baie belangrik dat ons Jesus moet dien terwyl daar vir ons nog ‘n geleentheid is om dit te doen. So maklik wil ons sê dat ons wél eendag aan Sy voete sal sit, eendag ná die wederkoms. Maar dit is ook belangrik dat ons hier en nou alles in die stryd moet werp en al ons lof en verheerliking aan Hom, die Koning van alle Konings sal bring! Maria was dankbaar vir wat Jesus vir haar gedoen het, en sy het haar dankbaarheid op ‘n tasbare wyse getoon. Is jy dankbaar vir wat Jesus vir jou gedoen het en steeds elke dag doen? Dan is dit mos net reg om ook op ‘n tasbare wyse vir Hom dankie te sê! Nie maar op ‘n halfhartige wyse, deur ‘n paar druppeltjies olie aan Hom af te staan nie, maar om jou álles vir Hom te gee. Géén offer is te groot om vir Jesus te gee nie!
Gebed:
Here, ek gee dikwels so halfhartig, en my dankbaarheid is so flou. Ek wil U dien met alles wat ek het!