Lukas 1:5-25
Wanneer ek ‘n sprokie vertel, begin ek met “Eendag, lank, lank gelede....” Wanneer Lukas die verhaal vertel van Jesus, is dit egter géénsins ‘n sprokie nie. Hy plaas dit in ‘n spesifieke tyd in die geskiedenis, tydens Herodus die Grote se regering in Judea.
Lukas se verhaal begin met ‘n bejaarde priester uit die priesterorde van Abia, met die naam Sagaria. Priesters het twee keer per jaar vir ‘n week lank tempeldiens gedoen.
Sagaria was ‘n baie vroom man, getrou aan die Wet van God, in groot teenstelling met baie van die ander kerkleiers met wie Jesus later te doene sou kry. Die grootste verskil was dat sy vroomheid uit sy hart gekom het. Dit was ‘n opregte liefde vir God en nie soos met die meeste ander waar dit gegaan het om eiegeregtigheid nie.
Sagaria en Elisabet het een baie groot probleem gehad: hulle was kinderloos, iets wat in daardie tyd ‘n skande was. Die feit dat albei al ver aangestap het in die jare, het die probleem vir hulle hopeloos gemaak. Hoe ironies, dat die ouers van die seun wat die voorloper vir die langverwagte Messias sou word, niks gehad het om te wys nie, niks wat daardie droom sou kon verwesenlik nie!
Lukas se verhaal begin in die Tempel in Jerusalem, en dit eindig 33 jaar later weer in dieselfde Tempel. Vir die Jode was dit die woonplek van God op aarde. Dáár het Hy Sy teenwoordigheid onder die volk bekend gemaak in die koms van die Christus. Daar is egter ook ‘n ander uiters belangrike aspek waarop Lukas ons aandag wil vestig: die belangrikheid en krag van gebed. Lukas se verhaal begin waar Sagaria in die tempel besig is, en die volk buite besig is om te bid. Alhoewel hulle nie sélf kan deelneem aan die priesterlike handelinge nie, kan hulle deur hulle gebed deel wees daarvan. Vir ons as lesers van die Evangelie skep dit ‘n verwagting: dáár waar mense saam bid kan iets baie dramaties gebeur! Nee, ons kan nie vir God manipuleer deur gebed nie, maar deur ons gebed kan ons besef hoe afhanklik ons waarlik van God is. En dan ervaar ons Sy liefde in sy volle intensiteit.
Op ‘n dag word Sagaria aangewys om die wierook op die altaar te gaan brand. Buite kon hy hoor hoe die volk besig was om te bid. Dit was vir hom ‘n doodgewone werksdag. Met groot toewyding begin hy sy taak verrig, en hy sit ‘n wierookoffer op die altaar soos hy al vir baie jare gedoen het. Maar dan kry hy skielik ‘n gewaarwording wat sy hare laat regop staan: hy is nie alleen in die heiligdom nie! Regs van die altaar staan daar skielik iemand. Sagaria skrik hom boeglam as hy geskok hierdie vreemde persoon aangaap. Dan praat die man, en dadelik weet Sagaria dat hierdie nie maar ‘n gewone man is nie, maar 'n engel van die Here, niemand anders nie as die engel Gabriël. Hy is een van die troon-engele wat nie alleen in God se teenwoordigheid mag verkeer nie, maar ook namens God mag praat. Die verskyning van ‘n engel gebeur slegs by baie uitsonderlike geleenthede, en daarom dat Sagaria so beangs is!
Die engel stel Sagaria egter dadelik gerus, en dan deel hy hom mee dat hulle gebede vir ‘n kindjie beantwoord is. Hulle sal op hulle oudag ‘n seuntjie hê. Hierdie kind sal egter ‘n baie besonderse plek vervul in God se groot Raadsplan. Hy sal met die Heilige Gees vervul wees van sy geboortedag af, en op sy skouers sal die taak rus om die pad voor te berei vir die Messias, die Seun van God. Hierdie kind het die taak om die volk se gedagtes op God te fokus sodat hulle die Messias sal herken. Die Heilige Gees sal hierdie kind die krag gee om ‘n ware profeet van God te word, een wat selfs Elia se skoene sal volstaan.
Sagaria skud sy kop in ongeloof. “Dis onmoontlik! Hoe weet ek dat dit waar is?” God bewys Sy almag deur Sagaria stom te maak.
Die menslik onmoontlike het gebeur, en Elisabet, ‘n stokou vrou, het swanger geword. Vir God is absoluut niks onmoontlik nie. Sy almag is sonder perke. Terwyl die arme Sagaria sy tong kan afbyt dat hy getwyfel het, jubel Elisabet, want sy het geweet dat God se belofte besig was om in vervulling te gaan.
Johannes het uiteindelik 'n groot profeet geword, en hy het inderdaad sy taak om die pad vir die Messias voor te berei, baie deeglik gedoen ten spyte van baie teenstand. Hy sou letterlik sy lewe aflê vir hierdie taak!
Wonderwerke het nie opgehou by Sagaria of selfs by Jesus se bediening nie. Dag-vir-dag beleef ek God se asemrowende wonderwerke in my lewe. As jy jou oë oopmaak vir dit wat rondom ons afspeel elke dag, sal ons Sy almag, voorsiening en genade raaksien. Kom ons leef in totale afhanklikheid van Hom en kyk in verwondering na die God wat voorsien.
Gebed:
Dankie Here, dat U my so op U liefderyke hande dra elke dag van my lewe!