Sabbatsblapse

10 January, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sabbatsblapse

Lukas 6:1-11

Dit is ‘n stil Sabbatsoggend. Jesus loop met sy dissipels deur die veld. In hulle pad is 'n wuiwende groen koringland. Die manne kwyl, want hierde evangeliewerk wat hulle saam met Jesus doen betaal maar ‘n hongerloon. En boonop gee die alewige mense wat so om hulle saamdrom hulle nie juis kans om aan kos te dink nie. Nou lyk die vet koringare darem ál te aanloklik. “Mag ons maar?” vra een vir Jesus, en Hy knik instemmend. Natúúrlik is die wet baie duidelik hieroor. As jy deur iemand se koringland stap, dan mag jy maar ‘n paar are pluk. Dit is nie diefstal nie (Deut 23:25).

Maar hulle word fyn dopgehou deur iemand wat net soek vir ‘n enkele misstap: “Ha! Het julle!” sê ‘n groepie fariseërs vir mekaar, en hulle storm op Jesus en sy manne af. Onmiddellik word die arme verbouereerde manne gekonfronteer met die feit dat hulle gewerk het op die Sabbat.

Nou weet ons mos al dat die fariseërs manne was wat ‘n baie diep studie van die Skrif gedoen het, en hulle het veral die wet van Moses intens bestudeer. Ongelukkig het dit vir hulle slegs gegaan om die wet tot in sy fynste besonderhede na te kom, en om nie een enkele stukkie van die wet te oortree nie. Hierdie filosofie het hulle boonop op 'n ieder en elk probeer afdwing.

Alles klink baie edel, en daar is niks mee verkeerd nie. Oor die jare het die fariseërs begin besef dat dit nie so maklik is om wette te onderhou nie. Een van die redes is dat daar soveel skuiwergate is. As die wet byvoorbeeld sê dat jy nie mag doodslaan nie, sou dit dan ook teen die wet wees as jy iemand doodwurg? En so het hulle begin om wette rondom die wette te borduur sodat ‘n mens nie dalk per ongeluk ‘n wet sou oortree nie. Een van die moeilikste wette was die een oor die Sabbat, want daar is soveel skuiwergate. Wanneer is werk dan nou eintlik werk? Almal het geweet dat om te oes, werk is, en dus totaal taboe is. Maklik! Een ou fariseër het waarskynlik een dag vir sy kollegas gesê: “Gisteroggend sien ek my ou vrou op die Sabbat haar ooghare staan en pluk voor die spieël, en toe dink ek mos by myselwers: maar dis mos dieselfde as om te oes! Nou vra ek julle: moet ons nie ‘n wet formuleer dat vrouens nie hulle ooghare op die Sabbat mag uitpluk nie?”

“Kyk”, sê een van die ander ringkoppe, “As sy in die eerste plek nie in die spieël gekyk het nie, sou sy nie haar ooghare eers raakgesien het nie! Kom ons stel dit dus só, dat ‘n vrou nie op die Sabbat in ‘n spieël mag kyk nie, want dit kan lei tot werk!”

“En wat dan nou daarvan as jy ‘n stoel onder ‘n tafel uittrek? Ek het al baie gewonder hieroor. Dit maak voortjies in die stof. En wat anders is dit as om te ploeg? Dis óók mos werk, is dit nie?”

En só was daar uiteindelik 39 wette rondom die Sabbatswet alleen geweef. En die fariseërs het hulleself gesien as die bewakers van die Wet.

Wanneer die dissipels dus “uitgevang” word dat hulle op ‘n Sabbat “werk”, is daar moeilikheid met ‘n hoofletter “M”! Jesus probeer vir hulle verduidelik dat ‘n mens nie so onwrikbaar moet wees nie, en dat selfs Dawid die wet “oortree” het toe daar nood was. Daar moet ‘n balans wees in jou lewe, en boonop het hulle eintlik hier te doen met die Skepper van die Sabbat. Maar dit sou hulle gladnie verstaan nie, want hulle het net één ding op die brein gehad!

Nie lank na hierdie insident nie, sit Jesus een Sabbat in die sinagoge, besig om te preek. Natuurlik was daar weer ‘n paar fariseërs wat nie noodwendig na Jesus se preek kom luister het nie, maar slegs daar was om Hom uit te vang. En toe gebeur dit ook! ‘n Man met ‘n gebreklike regterhand sit tussen die mense, en die fariseërs sê vir mekaar: “Ha! Hier kom ‘n ding!”

Jesus het egter hulle gedagtes gelees, en die man nader geroep. “Mag ‘n mens goed doen op ‘n Sabbat?” Hy kyk die fariseërs reg in die oë. En toe maak hy die man gesond! Hy gee die man ‘n nuwe kans in die lewe om te kan werk en sy gesin te onderhou. Die spul wetsmanne was egter woedend omdat hulle uitoorlê is.

Die vraag is: Het Jesus die Wet as onbelangrik beskou en die Sabbat summier verwerp? Nee, beslis nie!

Maar wat wou Jesus dan hiermee sê? Hy wou vir die fariseërs, en natuurlik ook vir jou en my, wys waaroor die wet werklik gaan. Later het Hy dit pragtig opgesom as liefde vir God en liefde vir jou medemens. Ná Jesus se soenverdienste aan die kruis, het daar nóg ‘n dimensie bygekom – dankbaarheid! Omdat Jesus ons skuld betaal het leef ons hierdie liefde waarvan Jesus gepraat het uit, uit dankbaarheid teenoor God vir die verlossing wat Hy ons gegee het. Dit gaan nou nie meer vir ons soos die fariseërs om die wet te onderhou ter wille van die wet nie. Of nog erger, om só ons saligheid te verdien nie, maar bloot omdat ons God liefhet, en daarom Sy wil probeer doen.

Gebed:

Here, gee asseblief vir my ‘n ware liefde in my hart, ‘n liefde gebore uit dankbaarheid vir U groot verlossingsdaad.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Verraad in die Nag
30 October, 2026
Getsemane
29 October, 2026
Die Wingerdstok
28 October, 2026
Die Paasmaal
27 October, 2026
Voorberei vir die Dood
26 October, 2026