‘n Volk Kom tot Inkeer

25 August, 2026

1 Samuel 7:2-12

Die verbondsark was steeds in Kirjat-Jearim, waar dit toe al twintig jaar staan. Met die volk het dit nie goed gegaan nie. Hulle was van alle kante onderdruk, en dinge het vir hulle te veel begin word. Die Jong Samuel het intussen ‘n volwasse man geword, ‘n man wat in toewyding aan die Here geleef het. Vir jare al moes hy met groot kommer sien hoe die volk agteruitgaan, maar hy kon niks daaraan doen nie omdat hy maar net ‘n kind was en géén sê gehad het nie.

Uiteindelik kan hy egter nou sy stem laat hoor, en nou vertel hy die volk kaalkop die waarheid:. “Hierdie verdrukking waaroor julle so kerm, is net julle eie skuld! Dis oor daardie afgode wat julle aanbid!” Hierdie was ‘n baie ou probleem waarvan ons regdeur die Rigtertydperk lees, en hier slaan dit nou weer uit!

Dan spel Samuel dit uit vir die volk in 1 Sam 7:3: “As julle met julle hele hart na die Here wil terugkeer, verwyder dan die vreemde gode uit julle midde, en ook die Astartes. Rig julle hart op die Here en dien Hom alleen, sodat Hy julle kan red uit die hand van die Filistyne.

Die vraag is: hoe raak hierdie boodskap van Samuel ons vandag hier in Suid-Afrika? Is dit ook vir ons bedoel?

Dan moet ons eerlik antwoord: “Sékerlik ja!”

Is dit nie dalk waarom dit so sleg gaan met ons nie? Ons volk het totaal weggedryf van die Here af!

Nou praat ek nie met die magdom van ongelowiges wat ‘n swetterjoel afgode aanbid nie, want nie een van hulle sal hierdie dagstukkie lees nie, asook nie die Hindoes met hulle miljoene gode, Moslems, voorvaderaanbidders en ‘n swetterjoel ander Oosterse gelowe nie.

Ons praat egter met gelowiges, want baie het weggedryf van die Here af. Talle gemeentes sterf ‘n stadige dood bloot omdat daar nie meer genoeg lidmate oorgebly het om die gemeente in stand te hou nie. Mense raak bloot uit die kerk uit weg!

Dan is daar dikwels mense wat nog steeds lidmate in naam is, maar nie meer deelneem aan die werksaamhede van die gemeente nie. Ek praat nie hier van diegene wat deur siekte of ouderdom of dalk werksomstandighede nie meer by ‘n erediens kan uitkom nie. Dit gaan hier oor gesonde mense wat die tyd en vermoë het maar nie meer hulle voete in die kerk sit nie. Hulle eis steeds dat hulle al die voorregte in die gemeente geniet maar kerm baie gou as die kerk te lank neem om hulle te gaan besoek! En gewoonlik is daar stringe kritiek oor die dominee, die kerkraad, die sang ensovoorts, maar hulle is net nie meer betrokke nie.....

En dan vra ons nog waarom dit sleg gaan met ons land?

Samuel het die hele volk byeengeroep by Mispa. Dan volg Samuel se vuurdoop wanneer hy as jong profeet/priester die volk vir die eerste keer moet toespreek.

Die hele Israel is in hulle duisende bymekaar by Mispa, wanneer Samuel voor die volk gaan staan. In groot afwagting spits hulle hulle aandag op hierdie jongman van wie hulle al so baie gehoor het. Is hy nie miskien die een wat vir hulle verlossing sal bewerkstellig nie? Samuel skep ‘n kruik water en baie dramaties giet hy dit uit voor almal. “Dit is vir die Here,” verduidelik hy. Die water simboliseer die feit dat die volk hulle harte in berou voor die Here uitgiet.

Die volk het swaargekry onder die Filistyne, en daarom kom hulle tot inkeer en begin weer die Here dien.

Dit is tog só jammer dat dit dikwels eers swaarkry kos om ons weer terug te kry by die Here! Dit moet eers moeilik gaan voordat ons weer begin om die Here met ‘n opregte hart te dien. Só dikwels loop ons uiterlike omstandighede en ons geestelike lewe hand-aan-hand! Wanneer dit die dag goed gaan, vergeet ons baie gou om steeds ‘n pad in volle afhanklikheid met die Here te stap.

Die volksvergadering by Mispa is vir Israel nie alleen ‘n Godsdienstige byeenkoms nie, maar ook die begin van hulle verlossing. Toe die Filistyne hoor van hierdie vergadering, besef hulle dat hierdie volkie nou hulle juk wil afskud. Hulle sal sommer gou-gou die sakie moet regstel voordat die Israeliete idees in hulle koppe kry. Dan trek hulle weermag op om die spul ‘n les te leer. Samuel bring egter rustig ‘n offer aan die Here en hy bid dat die Here hulle uitkoms sal gee.

Dan gebeur die wonder: ‘n Hewige donderstorm bars los oor die Filistyne en dit veroorsaak grootskaalse verwarring onder die parate soldate. Die gevolg is dat die Israeliete die magtige Filistynse leër maklik verdryf en hulle totaal verslaan. Skielik is die bordjies verhang!

Die Here het bewys dat dit nie die Israeliete se gevegskuns is wat die oorwinning gee nie, maar Sý voorsiening. Hulle moet egter ook besef dat die Here van hulle verwag om óók húlle deel te doen. Hy gee wél die oorwinning maar hulle moet dit finaliseer. So verwag die Here vandag van ons ook om nie maar net gelate uit Sy hand te ontvang nie, maar ons is Sy hande en voete en mond hier op die aarde en Hy vra van ons om ons deel te doen!

Gebed:

Here, vanoggend wil ek ons afvallige volk aan U opdra, dat ons weer na U sal terugkeer. Begin by ons gelowiges, Here, dat ons sal doen wat U van ons vra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026