Samuel Sterf

11 September, 2026

1 Samuel 28:3

Die ouderdom het uiteindelik die gryse ou profeet Samuel ingehaal. Hy kon niks meer vir homself doen nie en hy het meeste van die tyd net gelê. Dan het sy gedagtes hom meegevoer. Met groot nostalgie het hy lê en dink aan al die dinge wat in sy lang, lang leeftyd oor sy pad gekom het. Daardie héél eerste keer toe hy die stem van die Almagtige gehoor het. Eintlik was dit vir hom as klein seuntjie skrikwekkend, want toe moes hy die aaklige nuus aan sy mentor, Eli gaan oordra. Dit was sekerlik die héél moeilikste boodskap wat hy óóit in sy lewe moes oordra. Gelukkig het die Here dit vir hom maklik gemaak toe Eli hom met die warmplek gedreig het as hy nie vir hom vertel presíés wat die Here daardie nag vir hom gesê het nie. Daarna was dit sommer baie makliker om énige boodskap van God oor te dra aan iemand, selfs al was dit bitter slegte nuus.

Maar nou is daar dinge wat hom diep bekommer, waar hy op sy bed lê en rus. Slaap ontwyk hom want dinge is gladnie lekker in sy geliefde vaderland nie. Daar is nie meer huis te houe met Saul nie, en die man raak net elke dag al erger en erger. Hy het al verskeie kere vir die Here gevra waarom Hy dit nog toelaat, en waarom Dawid dan nie maar as koning kon oorneem nie? Maar die Here se antwoord elke keer, was dat die tyd nog nie ryp was nie en dat Samuel maar geduldig moes wees.

Samuel begin lag as hy dink aan die komiese ding wat gebeur het toe hy die laaste keer saam met die jong Dawid in Rama was. Saul het te hore gekom daarvan dat hy vir Dawid in die profetekwartiere laat wegkruip het, en toe stuur hy ‘n afdeling soldate om Dawid te kom arresteer. En toe gebeur die snaakse ding, toe die Here al hierdie soldate laat profeteer het. Die arme manne het nie geweet wát hulle getref het nie! Stel jou voor: ‘n klomp skurwe soldate wat loop en lofliedere sing en die Here loof en prys! Hulle vertel dat Saul briesend was hieroor, en toe besluit hy om sélf vir Dawid te kom haal. En daar gebeur presies dieselfde ding met hom! “Is Saul dan alwéér onder die profete?” het die hele volk met hom loop en spot. Saul het ‘n volle dag en nag poedelkaal op die grond gelê in die profetekwartiere in Rama, en almal was te bang om hom op te help!

Dit het Saul egter nie tot sy sinne geruk toe die Here so helder en duidelik met hom gepraat het nie, want kort daarna moes Dawid weer vlug vir sy lewe. Saul het hom genadeloos begin jag soos wat jy ‘n dier jag. Hy het niks en niemand ontsien in sy pogings om Dawid by te kom nie. Samuel ril as hy dink aan die wreedheid van daai man. Toe hy op ‘n keer hoor dat die priesters in Nob vir Dawid kos gegee het, het hy summier ál die priesters laat doodmaak! Vyf en tagtig priesters van God het daardie aaklige dag met hulle lewens geboet, mans, vrouens en selfs die kinders en onskuldige babas!

Dawid moes in grotte skuil om uit Saul se wrede kloue te bly. Saul het nou net één vyand gehad: Dawid! Met alle mag het hy tevergeefs probeer om Dawid in die hande te kry. Gelukkig was Dawid darem nie alleen nie. Al die beswaardes en drosters en voortvlugtendes het hulle by hom aangesluit. Uit hierdie klomp het hy uiteindelik vir hom ‘n formidabele gevegseenheid van seshonderd parate soldate saamgestel waarmee hy selfs die magtige Filistyne aangedurf het.

Maar vir Koning Saul het Dawid nooit óóit aangevat nie. Hy het eerder elke keer maar gevlug om net konfrontasie met die “gesalfde van die Here” te vermy. Selfs al het Saul hom genadeloos gejag, het Dawid steeds lojaal gebly aan Saul. “Dis absoluut onverstaanbaar!” het Samuel gedink. Maar dan moes Samuel maar net besef dat Dawid se respek vir God só groot was, dat hy nooit God se saak wou skade aandoen nie. O, en hy het beslis ál die kanse gehad om Saul sommer baie maklik te kon doodmaak. Maar hy het elke keer teruggestaan.

Samuel se bors swel sommer op van trots vir hierdie jong gesalfde van God. Nou weet hy dat sy taak op aarde voltooi is. Hy het sy plig gedoen: Hy het vir Saul gesalf as koning op bevel van God om die volk hulle sin te gee. Ja, hy het van die begin af gewéét dat dit nie sou uitwerk nie, maar so het die Here dit mos ook vir hom gesê! Hy het maar net gedoen wat hy moes doen.

En toe Saul sy rug op God draai, het hy weereens sy plig gedoen om vir Saul die boodskap van God te gaan oordra, dat die Here hom as koning verwerp het. Sy laaste groot taak was om Dawid te salf. Hy was bekommerd dat Saul vir Dawid sou doodmaak, maar nou wéét hy dat dit nie sal gebeur nie. Dawid het bewys dat hy eendag ‘n goeie koning sal wees, ‘n man so reg na God se hart, en dat hy selfs vir Saul sal oorleef. Nou kan hy in vrede sterf en die ewige rus ingaan om saam met sy geliefde Vader te wees!

Samuel sterf op ‘n hoë ouderdom, met ‘n glimlag om sy mondhoeke. Die hele Israel was daar om hulle geliefde profeet, priester en rigter te kom groet.

Ons lees dat die hele Israel oor Samuel gerou het. Maar vir Samuel was dit ‘n blye dag, want toe kon hy die Here van aangesig tot aangesig ontmoet. Sien jy ook uit na daardie wonderlike dag om by Jesus te wees?

Gebed:

Here, ek sien met gróót verwagting uit om eendag by U te wees! Dankie dat U my die ewige lewe gegee het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Verraad in die Nag
30 October, 2026
Getsemane
29 October, 2026
Die Wingerdstok
28 October, 2026
Die Paasmaal
27 October, 2026
Voorberei vir die Dood
26 October, 2026