1 Samuel 19:1-18
Toe Samuel die dag die salfolie oor die rooigesigseun Dawid se hoof uitgiet, het die Gees van God oor die seun gekom en kragtig in hom begin werk. Die tragiese is egter dat die Gees van God terselfdertyd van Saul gewyk het.
Dit is nou maar eenmaal só, dat die Heilige Gees Hom op niemand afdwing nie. Jy moet ontvanklik vir Hom wees en Hom nooi om jou lewe te beheer. Ja, inderdaad is die Heilige Gees deel van elke gelowige se lewe, maar die mate waarin die Gees manifesteer in ‘n persoon se lewe, hang af van tot hoe ‘n mate jy Hom toelaat om in en deur jou te werk. As sonde jou lewe oorheers, kan daar nie plek wees vir die Heilige Gees om in jou te werk nie. Saul se sonde het die deur vir die Gees toegemaak!
Samuel het met groot kommer in sy hart die gerugte gehoor van koning Saul wat baie vreemd begin optree het. Die mense het gefluister van ‘n “boosaardige gees” wat in hom gevaar het sodat hy die allerverskriklikste woedeuitbarstings begin kry het. Met groot skok moes hy later verneem dat die einste jong Dawid, die een wat hy in die geheim gesalf het tot koning, vir Saul op sy lier speel om hom te kalmeer. As Saul moes uitvind van sy salwing….. hy wil nie eers daaroor dink nie!
Almal het boonop gepraat van Dawid se wonderlike talent om musiek te maak en om selfs boonop die wonderlikste musiek te skryf! Iemand het eendag vir hom een van Dawid se liedjies kom sing: “Die Here is my Herder, Hy bring my na groen weivelde en waters waar daar rus is.” Net ‘n skaapwagtertjie kan sulke mooi goed uitdink!
Toe, op ‘n dag is daar ‘n groot beroering in Rama. Samuel wou weet wat aangaan. “Het u dan nie gehoor van die jong seun Dawid nie?” vra die mense hom verbaas. Dan hoor hy die verhaal van die afskuwelike reus wat Saul se soldate so geteister het, ‘n volle drie meter lank in sy sokkies! En hy het die Israeliete verkleineer. En toe kom daardie jong seun en hy gooi die reus dood met ‘n klein klippie uit sy slingervel! En só oorwin die kêreltjie man-alleen die hele Filistynse weermag, want toe hulle reus dood neerval, skrik hulle só groot dat hulle almal die hasepad kies!
Samuel het eers langtand gekou aan hierdie storie, maar toe besef hy skielik dat hy mos vir Dawid as koning gesalf het. Hier begin die jong Dawid se koningskap, presies net soos die Here beloof het. “Dankie Here!” prewel Samuel. God is getrou!
‘n Hele ruk later het nóg nuus oor Dawid Samuel se ore bereik. Almal het gepraat oor die wonderlike vriendskap wat daar ontstaan het tussen die koning se oudste seun, Jonatan en Dawid. Jy het die twee dikwels saam gesien. Boonop het Dawid in Saul se paleis ingetrek om naby te kon wees as Saul hom nodig kry.
Samuel het in sy mou gelag, want skielik sien hy presies hoe die Here besig was om te werk. Dawid woon in die paleis en soedoende leer die jong man alles oor wat in ‘n koning se paleis gebeur. Hy sien hoe die administrasie werk, die beplanning, die tesourie. En so gee Saul hom onwetend opleiding om die koningskap eendag oor te neem. “Maar wat dan van Jonatan?” wonder Samuel. “Maar die Here sal mos voorsien op die regte tyd en manier. Waaroor bekommer ek my dan?” Met ‘n laggie skuif Samuel die kommergedagte uit sy kop uit.
Weereens sien ons hoe wonderlik die Here alles beplan. Ek en jy moet ook ons oë oopmaak daarvoor om te sien hoe die Here gedurig besig is om in ons lewens in te gryp om Sy doel te bereik. Dikwels sien ons dit nie raak nie, en dan kla ons oor die ongemak. Ons moet egter selfs vir swaarkry dankbaar wees, want dalk nét is die Here besig om my daarmee voor te berei vir iets baie groter......
Later hoor hy van Dawid se welslae as soldaat. Saul en Jonatan het hom selfs opgelei in die fynere dinge van die gevegskuns. Dawid was só ‘n goeie leerling dat Saul hom as offisier aangestel het oor ‘n klomp soldate. Boonop het hierdie jong man uiters gewild geraak onder die meisies. Almal het van hom gesing. Saul was hieroor blykbaar nie baie gelukkig nie: “Op hierdie trant gaan hy nog eendag koning word in my plek!” het Saul glo eendag woedend teenoor sy amptenare uitgevaar. “Saul het nie eers ‘n idee hoe profeties sy woorde is nie!” het Samuel in stilligheid gelag.
Op ‘n dag kom Dawid by Samuel aan in Rama. Hy sien sommer dadelik dat die jong man doodsbenoud is. “Wat is fout Dawid?” wil Samuel weet.
Dan pak Dawid af. Hy vertel vir Samuel dat Saul moontlik snuf in die neus gekry het, want hy het hom al ‘n paar keer probeer doodmaak. Aan die begin het dit baie goed gegaan, en hy het selfs met Saul se dogter, Mikal getrou. Maar skielik het alles begin verander. Saul het hom selfs probeer doodgooi met sy spies, en dit nogal terwyl hy besig was om vir die koning op sy lier te speel. Eers het hy gedink dat dit maar net ‘n bevlieging was, maar algaande het dinge slegter en slegter gegaan, totdat hy uiteindelik vir sy lewe moes vlug.
“Moenie verder bekommerd wees nie,” het Samuel Dawid gerusgestel. “Kom saam met my, dan gaan kry ons vir jou ‘n plek om weg te kruip in Najot, die profetekwartiere in Rama.”
Gebed:
Dankie Here, ook vir die swaarkry in my lewe, want ek vertrou dat U my daardeur voorberei vir iets groot.