Verstommende Onthullings

31 August, 2026

.

1 Samuel 9:20-10:9

Saul raak sommer dadelik daarvan bewus dat hierdie profeet Samuel ‘n baie spesiale persoon is! Dit wil voorkom asof Samuel alles van hom af weet, al het hulle nog nooit ontmoet nie! Niemand hier rond weet van die donkies nie, maar Samuel weet presies wat aangaan.

“Die kosbaarste goed in die hele Israel behoort aan jou en jou familie,” kondig Samuel nou aan. Weereens is Saul skoon uit die veld geslaan. Ja, hulle is beslis nie ‘n arm familie nie, maar daar is ook nie juis iets spesiaal omtrent hulle nie. Nou praat die profeet beslis in raaisels! Samuel se aanmerking oor die kosbare dinge in sy familie, sou eers later na vore kom wanneer Saul koning word.

“Ek is maar net 'n Benjaminiet, uit die swakste stam van Israel. Boonop is my familie die kleinste in die hele stam! Waarom praat u so met my?” Soos die gewoonte is, verkleineer Saul homself om darem te wys dat hy nog sy nederigheid behou het. Ja, inderdaad is Benjamin een van die kleiner stamme. Dis belangrik, want wanneer hy eendag koning is, sou dit verhoed dat sy stam, Benjamin oor die res van Israel sou heers.

En so stap Saul en sy slaaf saam met die profeet Samuel teen die hoogte op waar die godsdienstige rituele uitgevoer word. En hier hang Saul se mond weereens oop van verbasing, want hier is ‘n feesmaal voorberei waar dertig mans alreeds aansit. Maar wat hom totaal verstom, is dat die ereplek alreeds vir hom uitgehou is. Hoe het hulle geweet dat hy sou kom? En wat maak hom dan nou so spesiaal dat hy die ereplek moet kry?

Wanneer die kos voorgesit word, is dit weereens sulke tyd, want voor Saul word ‘n hele skaapboud neergesit nét vir hom! “Hierdie is spesiaal vir jou gebêre vir hierdie geleentheid,” verduidelik die gryse ou profeet.

Saul is nou totaal uit die veld geslaan. “Wat is hier aan die gang?”

Laatmiddag, na die heerlike feesmaal, stap Saul saam met Samuel af na die dorp. In die laaste strale van die laatmiddagsonnetjie sit die twee en ontspan op die platdak van die ou profeet se huis. “Jy is welkom om hier op die dak te slaap vannag,” bied Samuel aan, en Saul verwelkom dit. Hier is dit heerlik koel.

Vroeg die volgende oggend toe die rooidag breek, klim Samuel die trappe op na die dak. “Saul, staan op! Ons twee het vanoggend ‘n afspraak. Ek wil hê dat jy ‘n ent saam met my gaan stap.”

Natuurlik moet Saul se slaaf saam, want hy gaan nêrens sonder sy getroue hulp nie. En so stap die drie van hulle in die vars oggendlug terwyl die hemel rooi gekleur is met die dagbreek. Die slaaf stap natuurlik so ‘n paar treë agter die twee. Wanneer hulle die stadsgrense bereik, vra Samuel dat Saul sy slaaf so ‘n entjie vooruit stuur. Hier is ‘n uiters vertroulike ding wat hy met Saul moet bespreek, iets wat nie vir ander ore bedoel is nie. “Ek het vir jou ‘n boodskap van God af,” verduidelik Samuel.

Nou is Saul éérs nuuskierig! Wat kan dan nou só belangrik wees? Hy is mos maar net ‘n baie doodgewone jong man. Sy hart klop onstuimig in sy keel!

Wanneer die slaaf buite hoorafstand is, steek Samuel sy hand onder sy mantel in en bring ‘n kruikie olyfolie te voorskyn. Hy draai na Saul en giet die olie oor die verdwaasde man se kop uit: “Die Here het jou tot regeerder oor Sy besitting gesalf,” hoor hy die profeet se stem, half deur ‘n waas. Saul voel lam in sy knieë. Dit wil nie mooi tot hom deurdring wat nou hier besig is om te gebeur nie. Ja, hy het lankal gehoor hoe die mense praat oor ‘n nuwe koning, maar dis tog gans onmoontlik dat hy, eenvoudige Saul as koning gesalf kan word. Het hy ooit reg gehoor?

Rustig gaan Samuel egter voort: “Wanneer jy vandag hier weggaan, sal jy by die graf van Ragel twee mans teëkom. Hulle gaan jou vertel dat die donkies gevind is en dat jou pa baie bekommerd is oor jou en jou slaaf.”

“Hoe weet hy?” wil Saul uitskree. Maar Samuel is nie klaar nie: by El-Tabor gaan drie mans hom tegemoet kom en hom twee brode aanbied. En by die wagposte van die Filistyne gaan hy ‘n groep profete kry wat musiek maak en daar sal die Heilige Gees kragtig oor hom kom en sy totale lewe sal verander!

Nou duisel Saul se kop. Alles het net te veel geword vir hom om in te neem. Droom hy nie dalk nie?

“Nadat hierdie dinge met jou gebeur het, moet jy vir my by Gilgal gaan wag. Ek sal jou later daar ontmoet.” So sluit Samuel die gesprek af en hy draai om en stap terug na sy huis.

Saul draai verslae om. Op daardie oomblik gebeur iets binne-in hom, iets totaal onverklaarbaar. Hy is nie meer die jong Saul van ouds nie. Binne hom wel daar ‘n krag op wat hy alleen aan God kan toeskryf. So ‘n ding het nog nooit met hom gebeur nie!

Hy roep sy slaaf en dan begin hulle aanstap in die rigting van Selsag waar die graf van Ragel is. Saul sweef letterlik op ‘n wolk!

Wanneer die Here die dag in jou lewe kom, is dit asof jy in ‘n ander wêreld is. Ek onthou soos gister toe dit met my gebeur het, nou al 52 jaar gelede. Dit was beslis die héél grootste gebeurtenis óóit in my lewe!

Gebed:

Dankie Here, dat U ook in my lewe gekom het! Dankie dat U my dag-vir-dag toerus om hierdie dagstukkies te kan skryf!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026