Rituele en Tradisies

17 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Rituele en Tradisies

Hebreërs  9:1-14

Kyk die Video

Dit was 1967, en die kerkkoor moes ‘n groot kooruitvoering lewer. Ons koormeester dril ons dat ons tonge uithang, want alles moes perfek wees. Hy raak opgewonde. “Gaan aan!” beduie hy terwyl hy van die koorgalery af verdwyn. Ons sing dat die biesies bewe, en in die hemel klap die engele hande. Heen en weer hardloop  koormeester deur die kerk om seker te maak dat die koor oral goed klink. “Nooouuu!” bulder hy van êrens af. Dan snak ek na my asem. Dis mos skending van die kerk se heiligheid! Hoe kan hy! Op die kansel van alle plekke staan hy en dirigeer. Niemand durf daar, in die allerheiligste van plekke opklim buiten die predikant nie! Ek is geskok tot in my fondamente!

Om jou godsdiens te veruiterlik, is ‘n baie gevaarlike praktyk. Om ‘n sekere plek as “heilig” te beskou, soos byvoorbeeld die kansel, of selfs die kerkgebou heilig te verklaar, is verkeerd. Ek onthou ‘n tyd toe daar soveel voorskrifte was oor presies hoe jy moet aantrek vir kerk. Die kerkraad was verplig om swart pakke en wit dasse te dra. Die vrouens moes hoede dra en die manne het in die warm dele van die land sit en stoom in hulle pakke klere en dasse. En die arme dominee is boonop nog gestraf met ’n toga bo-oor sy pak klere! Elke Sondag! Daar was ‘n spesifieke verloop van die erediens, waaraan niemand durf verander nie. Wanneer die konsistorie se deure oopgaan, staan die gemeente soos een man op en sing: “Here Jesus, ons is saam” - onthou jy nog? Dan was daar die formuliergebede wat die dominee woord-vir-woord moes aflees tydens Nagmaal. Iemand het dit eenmaal ’n “huigel-huigel, amen” ritueel genoem! Daar was ‘n onbuigsaamheid in die vorm en verloop van die erediens, en hierbinne het mense veilig gevoel, want só aanbid ‘n mens mos vir God.

Natuurlik moet daar orde in Godsdiens wees, maar as daardie orde so rigied raak dat dit jou godsdiens bepaal, dan raak dit gevaarlik. Dan gaan dit oor die Godsdiens en nie oor die Evangelieboodskap nie. As jy die Evangelie suiwer en effektief wil oordra, moet die vorm van die godsdiensoefening aanpas by die boodskap, en nie andersom nie. Vormgodsdiens gee jou ‘n valse sekuriteit. Ek sélf het vir jare veilig gevoel in die kerk, want ek het die regte geluide gemaak en die regte voorskrif gevolg. Op ‘n dag vind ek egter met ’n groot skok uit dat ek eintlik verlore was binne in die kerk!

Ons be-oefen vandag dikwels steeds vormgodsdiens. Om die gewete te sus, lees jy saans ‘n versie uit die Bybel voor slaaptyd, dikwels sonder om eers te dink oor wat jy lees. Die Here práát met ons deur Sy Woord, en om so daarmee om te gaan is vir Hom ‘n klap in die gesig! As jy nie tyd het om waarlik na Hom te luister nie, los dit dan liewer hééltemal uit! Daar is baie soortgelyke voorbeelde, soos wat ons met gebed doen, en waarom ons dankoffers gee. Dit is dikwels net om die gewete te sus of om vir ander mense te wys dat ons darem die regte ding doen.

Een van die grootste probleme van die Ou Testamentiese tempeldiens was die oormatige beklemtoning van die uiterlike vormgodsdiens. Die Hebreërskrywer beskryf hier hoe die dinge verloop het, en ons kom agter dat elke ritueel haarfyn uitgewerk is. Met groot bekoring beskryf hy die meubelment van die tempel: die kandelaar, die tafel en die offerbrode. In die voorste gedeelte van die verbondstent was slegs priesters toegelaat, en daar het hulle die volk verteenwoordig. Hulle moes ook deur sekere reinigingsrituele gaan voordat hulle daar kon ingaan. Dan was daar die voorhangsel waaragter die allerheiligste was waar slegs die hoëpriester kon ingaan, want daar woon God! Daar was die verbondsark en ander heilige voorwerpe, en daar het die hoëpriester elke jaar ‘n offer gebring.

Jesus Christus het egter kom dien as Hoëpriester in die volmaakte hemelse verbondstent. Vir Hom was dit slegs nodig om eenmaal die heiligdom binne te gaan om ‘n offer te bring. Sy offer was nie die bloed van kalwers, bokke en bulle nie, maar Sy eie, kosbare bloed wat Hy vir ons as mense kom stort het as ‘n ewige versoeningsoffer, sodat offers nooit, óóit weer nodig sou wees nie.

Natuurlik het die rituele en offers van die Ou Testament ‘n doel gedien. Dit het vooruitgewys na die groot offer van Jesus. Vandag is rituele totaal onnodig, tensy dit ‘n spesifieke boodskap moet oordra. Wanneer ‘n ritueel uitgevoer word, moet ons uiters versigtig wees om die regte ingesteldheid te hê. Die Nagmaal is so ‘n “ritueel” wat byvoorbeeld maklik misbruik, of uit bygeloof gebruik kan word. Jy kan so maklik dink dat jou sondes afgewas is, net omdat jy Nagmaal gebruik het. Dit is ‘n illusie! Slegs die versoenende bloed van Jesus kan jou van sonde bevry! Die Nagmaal is ‘n gedenkmaal om ons daaraan te herinner. Inderdaad word jou lewe radikaal getransformeer die dag wanneer jy Jesus se versoening smaak, en dit laat jou met totale nuwe oë na die rituele kyk.

Gebed:

Dankie vir U groot offer, Here. Laat my dit nooit vir een oomblik vergeet nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026