Reiniging van die Tempel

26 March, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Reiniging van die Tempel

Lukas 19:45-48

Jesus het pas die stad Jerusalem binnegery onder groot gejuig van sy duisende palmswaaiende, lofliedsingende aanhangers. Pas nadat Hy die stadsdrumpel oorsteek kom die eerste konfrontasie. Jesus gaan reguit na die tempel, en die boodskap wat Sy handeling uitstuur is dat Hy aanspraak maak op die tempel as woonplek van God. Van die dag toe Moses die eerste tent van aanbidding opgeslaan het, is hierdie tent, en later die tempel wat dit vervang het, simbolies gesien as God se woonplek.

Wat Jesus egter by die tempel aantref is alles behalwe ‘n heilige terrein. Die probleem het ontstaan by die talle pelgrims wat gedurigdeur die tempel besoek. Hulle moes offers bring vir die Here. Dit was egter baie moeilik om dae of selfs weke lank te reis met offerdiere. Boonop was die voorskrifte vir hierdie offerdiere baie streng. Hulle moes vlekkeloos wees, sonder enige gebrek. ‘n Lang reis het gewoonlik maar sy tol geëis en die diere het maar in ‘n gehawende toestand daar aangekom.

n Paar manne het hier die potensiaal gesien om ‘n lonende besigheidjie te begin. Natúúrlik het hulle offerdiere voorsien vir die mense wat nie hulle eie kon saambring nie, teen ‘n prys natuurlik! Terselfdertyd het hulle die gehawende diere wat sommige mense daar aangebring het, kopskuddend aangekyk: “Daai misrabele skaap sal baie beslis nie vir die Here aanvaarbaar wees nie!” En toevallig het hulle darem nou ‘n lekker vet, aanvaarbare skapie hier agter, en hulle sal dit met plesier verruil vir sy ou maer skaap. Teen ‘n prys natuurlik! En dan was daar die mense uit die buiteland met hulle vreemde geld, wat natuurlik totaal onaanvaarbaar sou wees in die tempel as dankoffer. Hulle was bereid om die geld om te ruil vir regte egte aanvaarbare Joodse geld. Teen ‘n prys natuurlik!

Mense was liederlik uitgebuit, en dít reg in die tempel voorhof! Die armes het die ergste hier deurgeloop. Toe Jesus sien wat hier aangaan, het Hy die spul rowers uitgesmyt. Johannes vertel dat Jesus so kwaad was dat Hy ‘n sweep gevleg het en die spul daarmee uitgejaag het nadat Hy hulle tafels omgesmyt het. Só ernstig was Hy oor die bedrogspul wat besig was om die “woonplek van God” te ontheilig.

Nou kom ‘n ander baie interessante verwikkeling: Jesus maak hierdie einste tempel, wat Hy so pas skoongemaak het van konkelaars, Sy hoofkwartier van waar Hy begin om die mense te leer en die finale voorbereidings te tref vir die groot dag. Bedags kry ons vir Jesus in die tempelvoorhof, besig om te preek, en saans gaan Hy en sy dissipels na die Olyfberg waar hulle onder die knoetsige ou olyfbome oornag. Tydens Sy groot intog het Hy die stad verdoem in ‘n baie hartseer uitspraak. Tóg probeer Hy steeds om die mense van Jerusalem so ver te kry om die evangelieboodskap te aanvaar. Jerusalem kry ‘n laaste kans om haar saak met God reg te maak. Die vraag is: sal die stad dit ooit doen?

In die agtergrond sien ons hoe die ringkoppe in ‘n kringetjie staan, koppe bymekaar in ‘n baie ernstige gesprek. As ons nader gaan, hoor ons hoe die kerkleiers, die priesterhoofde, Skrifgeleerdes en volksleiers onder mekaar brom en planne maak om finaal van Jesus ontslae te raak. Hy moet dood! Daar is egter een baie groot probleem: die ganse volk staan steeds bankvas agter Jesus. In die volk se oë het Jesus net baie mooi dinge gedoen. Hulle oë glinster steeds oor die asemrowende wonderwerke wat hulle telkens aanskou het. Hulle klou steeds krampagtig vas aan die gedagte dat Hy as Messias hulle sal verlos van die Romeine. Groot skares stroom steeds dag-vir-dag na die tempel om Jesus te hoor. Hulle hang gretig aan Sy lippe.

Na aanleiding van die gebeure in die tempel wil ek vanoggend ‘n klip in die bos gooi: Is ‘n kerkgebou vandag nog ‘n heilige plek? Ja, nou sny ek dalk ‘n lat vir my eie agterent! Jare gelede het die gemeente waar ek gebly het in Waterbron ‘n nuwe kerk gebou. Toe die gebou die dag ingewy word, is die argitek se woorde dat hierdie gebou nie die “huis van God” is nie, maar eerder die Here se werkswinkel. Dit is immers hier waar mense opgelei gaan word om die Evangelie uit te dra na die ganse wêreld, soos Jesus se opdrag was in Mat. 28. Dit is hier waar gelowiges bymekaarkom om mekaar se geloof te versterk deur saam lofliedere te sing en saam te aanbid.

Inderdaad was die tempel steeds gesien as die woonplek van God, maar dit was in sy laaste stuiptrekkings. Enkele dae later sou alles verander, wanneer God die voorhangsel oopskeur. Dan sou elke gelowige die tempel, oftewel die woonplek van God word. Vandag is ek en jy daardie tempels, nou nie meer kliptempels nie, maar lewende kerke en tempels wat die woonplek van God simboliseer. Ons durf nie toelaat dat hierdie tempel in ‘n rowersnes ontaard deur sonde nie. Kom ons gee Jesus vandag vrye toegang om ook ons tempel te reinig sodat ons vir Hom bruikbaar kan wees.

Gebed:

Kom Here Jesus, en reinig my lewe. Ek wil U gehoorsaam en dien met my lewe.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026