Reiniging van die Tempel

4 November, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Reiniging van die Tempel

Lukas 19:45-48

VIDEO OUDIO

Pas na die groot intog toe Jesus die stad Jerusalem triomfantlik binnegery het onder groot gejuig van duisende palmswaaiende, lofliedsingende aanhangers, kom die eerste konfrontasie alreeds. Daar het Hy baie duidelik die boodskap uitgestuur dat die tempel die woonplek van God was. Van die dag toe Moses die eerste tent van aanbidding opgeslaan het, was hierdie tent, en later ook die tempel wat dit vervang het, simbolies gesien as God se woonplek.

Wat Jesus egter by die tempel aangetref het was alles behalwe ‘n heilige terrein. Die probleem het ontstaan by die talle pelgrims wat gedurigdeur die tempel besoek het. Hulle moes offers bring vir die Here. Dit was egter baie moeilik om dae of selfs weke lank te reis met offerdiere. Boonop was die voorskrifte vir hierdie diere baie streng. Hulle moes vlekkeloos moes wees, sonder enige gebrek. ‘n Lang reis het gewoonlik maar sy tol geëis en die diere het dikwels in ‘n gehawende toestand daar aangekom.

n Paar manne het hier die potensiaal gesien om ‘n lonende besigheidjie te begin! Hulle kon ‘n diens lewer en offerdiere voorsien vir die mense wat nie hulle eie kon saambring nie. Teen ‘n prys natuurlik! Hulle het sékerlik die gehawende diere wat sommige mense daar aangebring het meëwarig aangekyk en dan kopskuddend vir die mense vertel dat són lamlendige skaap baie beslis nie vir die Here aanvaarbaar sou wees nie. En héél toevallig het hulle darem nou ‘n lekker vet, aanvaarbare skapie in die kampie gehad wat hulle met plesier sou verruil vir sy ou maer skaap! Teen ‘n prys natuurlik! En dan was daar die mense wat uit die buiteland daar aangekom het met vreemde geld, wat natuurlik totaal onaanvaarbaar sou wees in die tempel as dankoffer. Teen ‘n prys (natuurlik!) was hulle bereid om die geld om te ruil vir regte egte aanvaarbare Joodse geld!

Mense was uitgebuit, dikwels deur die tempelbeamptes sélf wat moes toesig hou. En dit het rég in die tempel voorhof gebeur! Dit was natuurlik die arm mense wat die ergste hier moes deurloop. Toe Jesus sien wat hier aangaan, het Hy die spul rowers uitgesmyt. Johannes skryf in sy Evangelie dat Jesus so kwaad was dat Hy ‘n sweep gevleg het en die spul daarmee uitgejaag het nadat Hy hulle tafels omgesmyt het, so ernstig was Hy oor die bedrogspul wat besig was om die “woonplek van God” te ontheilig!

Nadat Jesus die tempel skoongemaak het van konkelaars, maak Hy dit sy hoofkwartier van waar Hy begin het om die mense in die tempelvoorhof te leer. Saans het Hy en sy dissipels na die Olyfberg gegaan waar hulle oornag het.

In die vorige oordenking het ons gehoor hoe Hy die stad verdoem het in ‘n baie hartseer uitspraak. Maar steeds het Hy probeer om die mense van Jerusalem te oorreed om die evangelieboodskap te aanvaar. Jerusalem hetn laaste kans gekry om haar saak met God reg te maak. Sou die stad dit ooit doen?

As ons daar was, sou onsn groepie ringkoppe in ‘n kringetjie sien staan het, koppe bymekaar in ‘n baie ernstige gesprek. Hulle was die priesterhoofde, Skrifgeleerdes en volksleiers wat onder mekaar staan en brom en planne maak het om finaal van Jesus ontslae te raak. Hy móés dood! Daar was egter een baie groot probleem, dat die ganse volk steeds bankvas agter Jesus gestaan het. In die volk se oë het Jesus net baie mooi dinge gedoen. Hulle oë het steeds geglinster oor die asemrowende wonderwerke wat hulle telkens aanskou het. Hulle het steeds krampagtig vasgeklou aan die gedagte dat Hy as Messias hulle sou verlos van die Romeinse onderdrukking. Groot skares het steeds dag-vir-dag na die tempel gestroom om Jesus te hoor. Almal het gretig aan Sy lippe gehang.

Na aanleiding van die gebeure in die tempel wil ek vanoggend ‘n klip in die bos gooi en die vraag vra ofn kerkgebou vandag nog ‘n heilige plek is? Ek was eendag by die ingebruikneming van ‘n nuwe kerkgebou waar die argitek in sy toespraak gesê het dat daardie gebou nie die “huis van God” was nie, maar eerder die Here se werkswinkel! Dit is immers die plek waar mense opgelei sou word as volwaardige dissipels om die Evangelie uit te dra na die ganse wêreld, soos Jesus se opdrag was in Mat. 28. Die kerkgebou is die plek waar gelowiges bymekaarkom om onder meer mekaar se geloof te versterk deur saam lofliedere te sing en saam te bid.

Inderdaad was die tempel steeds gesien as die woonplek van God, maar dit was in sy laaste stuiptrekkings. Enkele dae later sou alles verander, toe God die voorhangsel oopgeskeur het. Daardie handeling sou maak dat elke gelowige die tempel, die woonplek van God sou word. Vandag is ek en jy daardie tempels. Inderdaad is dit nie meer kliptempels nie, maar lewende kerke en tempels wat die woonplek van God simboliseer. Ons durf nie toelaat dat hierdie tempel in ‘n rowersnes ontaard deur sonde nie. Kom ons gee Jesus vandag vrye toegang om ook ons tempel te reinig sodat ons vir Hom bruikbaar kan wees.

Gebed:

Kom Here Jesus, en reinig my lewe. Ek wil U gehoorsaam en dien met my lewe!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026