2 Timoteus 2:22
Wanneer jy jonk en vol lewenslus is, is daar allerhande dinge waarna jy uitreik: avontuur, rykdom, roem. Menige jong man se jagtersinstink dryf hom na alle uiterstes, veral as daar ‘n jong, mooi bokkie in sy visier verskyn. Ek praat nou van die soort wat ‘n rok dra! Dan begin sy begeertes opvlam. En dikwels raak ‘n jong vrou se hormone óók totaal deurmekaar as die held in haar lewe mooi en sterk en begeerlik is! So sien ons mos ’n paar jaar gelede in die opspraakwekkende hofsaak van daai poppie-mooi blonde advokaatjie en haar slinkse kêrel hoedat daardie jong vrou totaal vir die skelm geval het en as’t ware sy slaaf geword het, boonop nogal heeltemal vrywillig. Haar begeertes het net eenvoudig oorgeneem en haar hele lewe oorheers.
Hierdie is ’n ekstreme geval en natuurlik die absolute uitsondering op die reël. Of is dit werklik? Elke einde van die jaar hou ons hier in Ballito (en elders langs die kus) asem op vir die groot intog, oftewel inval! Eers is dit die matrieks wat totaal uithaak en hulleself oorgee aan drank, dwelms en ‘n walglike, losbandige lewe. Hulle begeerte na “vryheid” is só groot, dat niks en niemand ontsien word nie en so ver as wat hulle gaan, saai hulle verwoesting. Met hulle vertrek sug ons van verligting, maar dit is kortstondig, want dan kom die studente en neem die dorp op horings. Wilde partytjies, uitspattige musiek, drankmisbruik - noem maar op. Die kersie op die koek is natuurlik die nuwejaarspartytjie, waar derduisende jongmense regdeur die nag suip, skree en hulle oorgee aan hulle begeertes. Ek en my seun het een jaar vyfuur op die nuwejaarsoggend gaan kyk en foto’s geneem van die stertkant van hierdie gebeurtenis. Dit was om van naar te word!
Die groot hartseer is dat die ouers van baie van hierdie jongmense, waarvan sommige nog blote kinders is, net eenvoudig nie omgee oor wat aangaan nie. Dikwels word hulle nog gehelp en gesterk in hulle kwaad! 'n Tyd gelede het ‘n pa vir sy seun, wat toe nog op skool was, ‘n ontkleedanser gereël vir sy verjaardagpartytjie! Hoe siek kan ‘n mens wees!
Inderdaad moet ek egter bysê dat daar tóg ‘n groot aantal jongmense is wat te midde val alles staande bly en hulle nie vereenselwig met sulke laakbare gedrag nie!
Timoteus was ‘n jong man in sy laat dertigs toe Paulus hierdie brief aan hom skryf. Paulus vermaan hom: “Vermy die begeertes wat vir ‘n jongmens gevaar bring.” Eintlik staan daar letterlik: “Vlug weg van begeertes”. Dit is veral as iemand aansien in die lewe het, wat hierdie begeertes waarlik gevaarlik kan word. As jy ‘n sport- of musiekster is en die meisies kom gooi hulle voor jou voete neer, dan moet jy begin hardloop, oftewel wegvlug! Dit is só maklik om toe te gee en net jou begeertes te laat oorneem. Dieselfde geld vir die flikkerende liggies van ‘n casino. Net ‘n vyfrandstuk in die gleufie, en nog een en nóg een. En dan val daar ‘n hoop geld voor jou uit die buik van die eenarm nar. As dit so maklik is, durf jy mos nie ophou nie en die begeerte na nóg geld dryf jou om aan te hou en áán te hou. Ek het al gesien hoedat mense ‘n florerende besigheid laat opgaan in rook as gevolg van dobbel. Bly liewer hééltemal weg, of nóg beter, vlúg weg van sulke plekke af! Die betowering van die liggies hipnotiseer jou totaal en al!
Paulus se waarskuwing aan Timoteus is egter nie net negatief nie. Daar is ‘n positiewe deel ook: “Streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” Die woordjie “streef” kan eintlik beter vertaal word met “jaag”. Vlug dus van jou begeertes en jaag die goeie na! Tydens my militêre diensplig, het ek in die verkeerde dinge verval. Skaars was ek egter tuis, of die jongmense van die kerk in Durban Noord gryp my. Hulle het my betrek by hulle heerlike, avontuurlike lewe van bergklim, kampe, speel op die strand en waatlemoenfeeste. Dit was vet pret! Tussendeur is daar Bybelstudie gehou en elke Sondagaand Hallelujaliedere gesing dat die byle huil!
Algaande leer ek dat om ‘n Christen te wees, nie noodwendig beteken dat jy met ‘n stroewe gesig gaan sit en Bybel lees nie, maar dat jy die lewe voluit kan geniet! Ons lewe was propvol opwinding, soos byvoorbeeld die slag toe ons ‘n bus gehuur het en gaan kuier het op ‘n sendingstasie by Bambizana in die Transkei. Buiten vir die feit dat die bus ‘n volle dag lank vasgeval het in die modder, was dit steeds ‘n naweek wat ek vir altyd sal onthou! Die besoeke saam met die sendelinge aan hulle gemeentelede, saambid, saamkuier, saamsing - wat 'n belewenis! En dan was daar die keer ....... Nee kyk, as jy my loslaat, hou ek jou ure besig met vertel!
As jy wil sien wat ons daardie jare alles aangevang het - gaan kyk dan op die webwerf: dagstukkie.co.za/kjv En as jy dalk iewers in die laat sestigerjare in Durban woonagtig was, mag jy jouself dalk net op een van die foto’s herken!
Vandag kyk ek na die jongmense in ons gemeente en ek sien óók die opwinding en entoesiasme en dan wéét ek dat alles nie verlore is nie: daar is steeds jongmense wat bereid is om te vlug van begeertes en opregtheid na te jaag met ’n passie. Dit gee my nuwe moed!
Gebed:
Here, dankie vir jongmense wat steeds bereid is om U met oorgawe en vreugde te dien.