Judas: 20-25
Die boodskap wat Judas vanoggend by ons wil tuisbring, handel oor die reddingsboei van God se verlossing. Nou sal jy dalk protesteer: “Maar ek het mos alreeds God se verlossing gesmaak! Wat moet ek dan met nóg 'n reddingsboei maak?” Nee, hierdie een is nie vir jouself nie, maar God gee dit in ons hande sodat ons dit kan aangee vir ander drenkelinge wat nou in die situasie verkeer waar ons was voordat Hy ons gered het. Ons opdrag is dus om dit uit te gooi na diegene wat besig is om te verdrink in die oseaan van verlorenheid.
Om ‘n reddingswerker te wees, is ‘n liefdes-taak. Maar voordat jy tot so ‘n aksie kan oorgaan, is daar eers bouwerk wat aan jou eie lewe gedoen moet word. Paulus skryf in vers 20: “Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof.” Ek moet dus my geloof opbou sodat ek sterk kan wees om in alle erns met reddingswerk te kan begin. Natúúrlik kan, en móét jy getuig van die verlossingswerk van Jesus van die eerste dag van jou vryspraak af. Om egter 'n ernstige reddingswerker te wees, neem oefening en kennis, want hoe kan jy ander tot redding lei as jy sélf nog wankelrig in die geloof staan?
Elkeen van ons kan ‘n reddingswerker wees. Die vraag is: hoe gaan ek te werk? Wat is die vereistes? Eerstens is ‘n gelowige, biddende, onselfsugtige en liefdevolle lewe in afwagting op Jesus se terugkeer noodsaaklik en onmisbaar as jy ander mense wil red. Terselfdertyd moet jy ook deeglik bewus wees van die verskriklike lot wat wag vir diegene wat nie God se vryspraak gekry het nie. Lees gerus weer vers 6, 7, 13 en 15 van die Judas-brief, waar hy die verskriklike oordeel beskryf. En as jy diep in jou hart jammer voel vir hierdie mense, dan moet jy besef dat dit die werk van die Heilige Gees is in jou wat jou aanspoor om iets te doen. ‘n Mens is van nature net oor jouself bekommerd, maar die Heilige Gees gee jou ‘n passie vir ander mense.
Jesus se liefdesgebod sê nie dat ek myself net so lief moet hê soos my naaste nie. Dit gaan juis oor liefde vir jou medemens! Boonop beteken hierdie liefde maar net gedeeltelik dat ek sy liggaamlike nood moet raaksien. Dit gaan véél meer oor sy geestelike nood, want die fisiese het tydelike waarde, maar die geestelike het ewigheidswaarde.
Judas noem drie reddingsboeie, dinge wat ek nie durf huiwer om te doen nie. Die eerste is om my te ontferm oor diegene wat twyfel. Eintlik kan ek nie anders nie, want as ek net terugdink hoe God Hom oor my ontferm het in die tye toe ek getwyfel het, dan moet daar 'n drang in my wees om dieselfde vir ander te doen wat twyfel. Baie gelowiges ervaar twyfel! Dikwels is dit mense wat ontmoedig is deur die een of ander ramp wat hulle getref het. Dit is vir so 'n persoon wat ek met woord en daad moet bystaan en hom of haar verseker dat ‘n lewe van volle vertroue in God nie alleen moontlik is nie, maar ook vir jou vrede en blydskap gee.
Die tweede reddingsboei wat God my gee, is om diegene wat op pad is na die verderf uit die kloue van die duiwel te ruk. Judas stel dit só ernstig dat dit is soos om hulle uit die vuur te ruk. Dit vat baie moed en oortuiging om die stap te neem om met ‘n ongelowige te praat en hom te oortuig dat hy eintlik verlore is. Niemand wil weet dat sy paadjie na die ewige verderf lei nie! Dit is egter die wonderlikste voorreg op aarde om vir so ‘n persoon te kan wys dat daar ‘n reddingsgordel beskikbaar is, en dat hy net bereid moet wees om dit te aanvaar. Dit is egter van uiterste belang dat ons besef dat om die boodskap oor te dra, slegs die begin is. Daar moet 'n pad gestap word met so 'n persoon totdat die volle waarheid van die Evangelie vasstaan in hom.
Dit is ook baie belangrik om te onthou dat ek en jy slegs die boodskappers is, en dat ons nooit iemand kan oortuig nie, selfs nie met jou beste redenasies nie. Dit is slegs die Heilige Gees wat iemand kan oortuig. As iemand dus jou boodskap verwerp, is dit nie vir jóú wat hy verwerp nie, maar vir God.
Die derde reddingsboei het betrekking op my as reddingswerker. Dit is 'n ernstige waarskuwing om baie versigtig te wees wanneer jy reddingswerk doen, dat jy nie dalk sélf op die een of ander manier in die moeilikheid raak nie. Sonde is die aansteeklikste siekte op aarde! “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie!” waarsku Paulus in 1 Kor. 10:12. En dan moet jy natuurlik ook onthou dat jy baie seker moet maak dat jy slegs Bybelse metodes gebruik vir jou reddingspogings. Vergeet van die Doom!
Judas sluit sy brief af met ‘n lofprysing. Dit is baie belangrik dat ons te alle tye sal onthou dat dit nie gaan oor party mense wat beter is as ander nie, maar dat dit uitsluitlik gaan oor die verheerliking van God. As gelowige het ek en jy ‘n verantwoordelikheid, maar God Sélf is in beheer. Wie dus vir die ware geloof stry, stry saam met God, en daarom is die oorwinning ‘n sékerheid!
Gebed:
Dankie Here, dat ek in U diens mag staan, en dat ek vanoggend kan weet dat U my die oorwinning gegee het. Ek wil graag U blye boodskap van verlossing met almal met wie ek in aanraking kom, deel.