Rebekka se Lieflingkind

13 April, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Rebekka se Lieflingkind

Genesis 29:1-12

Video

Audio

Rebekka het haar prins gekry, en sy en Isak is gelukkig getroud. Maar alles was nie al die pad maanskyn en rose nie. Alles het begin toe Rebekka swanger raak. Toe die groot dag van haar eersteling se geboorte kom, is dit nie ‘n baba nie, maar sommer twee, altwee seuns. Eers kom klein Esau te voorskyn, maar toe kom die eerste moeilikheid al, want styf om sy hakskeen geklem, is die handjie van sy boetie Jakob. Hakskeengryper! Van dag een af kon Rebekka nie met die twee seuns huishou nie, want daar was gedurig struweling.

Esau was Isak se gunsteling kind, maar Rebekka het weer vir Jakob voorgetrek. Hy het gedurig aan haar rokspante vasgehou en haar in die huis gehelp. Só erg het sy hom voorgetrek, dat sy hom uiteindelik gehelp het om vir Isak te bedrieg om die eersgeboortereg van Esau te steel. Dit was pas na die lensiesop-episode.

Gevolglik moes Rebekka sien hoedat haar gunsteling seun moes vlug vir sy lewe.

Tydens sy vlug ontmoet Jakob by Bet-El vir die eerste keer die Here. En dan is dit in werklikheid die begin van Jakob se lewensreis, ‘n reis wat begin met ‘n drie maande lange tog, stoksielalleen deur die dorre woestyn. Snags lê Jakob en droom van ‘n beeldskone meisie wat vir hom wag in Haran. Daar het Oupa Abraham sy vrou gekry, en hulle sê dat sy beeldskoon en begeerlik was, selfs toe sy al stokoud was. Moeilik om te glo! Ja, en Pa Isak het ook in Haran sy vrou gekry, ma Rebekka. En ook sy was ‘n beeldskone vrou, sy is vandag nog steeds! Hoe gaan die vrou lyk wat vir hom, Jakob, daar in Haran wag? Dit lyk asof al die meisies daar beeldskoon is! Natúúrlik gaan syne ook so mooi wees soos Pa en Oupa s’n!

En dan, skielik, as Jakob oor ‘n sandduin kom, is daar ‘n groenigheid hier vlakvoor hom. Hy loop hom vas in ‘n groot trop skape en bokke. En daar is ‘n put! Jakob is oorstelp van vreugde. Jy loop nie elke dag hier in die woestynwêreld in ‘n put vas nie. Maar snaaks genoeg is dit nog maar vroegmiddag, waarom sou die veewagters dan nou al hierdie tyd van die dag met hulle kleinvee by ‘n put sit en wag?

En dan merk hy dit: Op die bek van die put lê ‘n groot plat klip wat dit verseël. Die wagters verduidelik: “Ons wag tot al die vee van die omgewing hier is, dan maak ons die put oop en laat hulle suip.”

“Simpele klomp!” dink Jakob in sy stilligheid “Waarom laat hulle nie die vee wei tot dit tyd is om die put oop te maak nie? Hulle verwaarloos mos hulle skape!”

“Waarvandaan kom julle?” wil Jakob weet, en dan gee sy hart ‘n bokspring as hulle beduie dat hulle van Haran af is. “Haran!” juig dit in Jakob se binneste, “Haran! Ek het dit toe tóg uiteindelik gemaak tot by Haran!”

“Julle ken nie dalk vir Laban nie?” vra Jakob uit. “Hy is ‘n kleinseun van Nahor.....”

“O ja, almal hier rond ken hom maar al te goed,” lag hulle. “Dit is nou juis sy jongste dogter, Ragel wat daar onder aankom met sy vee.” Een van die manne beduie na ‘n trop skape wat stof opskop in die vlakte. “’n Mooie meisiekind,” sug een ou kêrel. “Sal nie omgee as sy myne was nie....”

Jakob kan sy oë nie glo as hy die skoonheid van hierdie skaapwagtertjie, Ragel aanskou nie. Dit is liefde met eerste oogopslag. “Daar waar ek vandaan kom is daar nie sulke mooi goed nie,” dink hy. Drie maande van oorlewing in die woestyn het Jakob se sagte kombuishandjies hard en taai gemaak. Met brute krag rol hy vir Ragel die klip van die put se bek af sodat haar vee kan suip.

“Jy is Ragel, Laban se dogter?” stamel Jakob. Sy glimlag en knik haar kop instemmend, en haar oë skitter betowerend soos sterre. Tot haar verbasing gryp hierdie vreemdeling haar, en nog voordat sy tot haar sinne kan kom, soen hy haar. En dan kan Jakob sy emosies nie meer beteuel nie, en hy bars in trane uit. “Uiteindelik het ek jou gekry,” snik hy sodat Ragel half verleë daar staan en nie weet wat om te doen nie.

En dan, as Jakob sy stem terugkry, begin hy vir haar verduidelik. Hy kom van baie, baie ver af, en hy is naarstigtelik op soek na sy familie. En hier het hy hulle nou gekry. “Jou pa en my ma is broer en suster,” begin hy familie uitlê. “Sestig jaar gelede het my oupa Abraham iemand gestuur hier na Haran toe om vir my pa ‘n vrou te kom haal. Daardie vrou is jou pa, Laban se suster.”

Ragel gaap die man aan. Sy kan nie glo dat enigiemand soveel moeite sal doen vir familie nie. Sy spring op, los haar skape nét daar by die put en hardloop so vinnig sy kan om vir haar pa die nuus te gaan vertel. Jakob het aan die einde van sy reis gekom!

Dit is uiters gevaarlik om ‘n kind voor te trek! Daar mag nie ‘n witbroodjie wees nie, anders kan dit uiteindelik dalk selfs op ‘n ramp uitloop, soos met Isak en Rebekka gebeur het. Dankie tóg dat God óók in hierdie verhaal ingegryp het! Ten spyte van Rebekka en Jakob se korrupsie, het die Here die verhaal ‘n mooi einde gegee. Ja, die Here kan jóú verhaal óók ‘n mooi einde gee ten spyte van jou verlede. Al wat Hy vra is dat jy in Jesus glo!

Gebed:

Here, dankie dat U met my is op hierdie lewensreis. Laat elke dag asseblief vir my ‘n splinternuwe begin wees.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026