Ragab die Prostituut

29 October, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ragab die Prostituut

Josua 2

Die twee vroue het lank gesukkel om die donkie deur die rivier gesleep te kry, met die gevolg dat die son al laag gehang het agter die hoë berge wat voor hulle uittroon. Hulle besluit om net daar in die beskutting van die oorblyfsels van Jerigo kamp te maak vir die nag. Rut verwonder haar aan die oorblyfsels van die stad. As sy die rommel wat van die mure oorgebly het, aanskou, dan kan sy haar indink hoe groot en sterk en verskriklik hoog die mure moes wees. Al die manjifieke mure is platgevee, asof ‘n reuse hand dit net eenvoudig van die aarde af wou wegvee. Alles buiten een enkele stukkie van die muur wat ongeskonde die lug uittroon.

Ek wonder darem oor daardie stukkie muur. Hoekom het dit nie ook geval nie?”

Naomi lag: “O dit? Dis Ragab se huis! Sy was ‘n prostituut! Aangetroude familie van my, nogal. Maar dis ‘n baie lang storie. Ek vertel jou anderdag!”

Nou is Rut baie nuuskierig. “Asseblieftog Naomi! Vertel my nou terwyl ons hier is.”

Nou goed dan. Toe die groot leier Josua die volk tot by die Jordaan bring, besluit hy om twee spioene die land in te stuur om behoorlik te kon beplan vir hulle inval van Jerigo. Die twee manne sluip toe die stad binne, en hulle besluit om die nag daar te gaan oorslaap. Al plek wat veilig was, was die huis van die prostituut, Ragab.”

Dit klink vir my ‘n bietjie verdag!”

Nee, dis nie wat jy dink nie! Hulle wou net onder die nuuskierige oë van die soldate uitkom. Maar die soldate het snuf in die neus gekry en toe gaan soek hulle die twee. Ons God moes sékerlik maar met Ragab gepraat het, want toe besluit sy om die twee spioene weg te steek vir die soldate. Op haar dak het sy ‘n hoop vlas gehad wat sy besig was om te droog. Sy laat hulle toe onder die vlas wegkruip totdat die soldate weg was. En so is hulle gered van ‘n gewisse dood.”

Wonderlike storie! Wat het toe van hulle geword?”

Die twee manne was só dankbaar dat hulle haar belowe het dat hulle haar en haar familie se lewens sou spaar wanneer hulle die stad kom inneem. Ragab se huis was in die stadsmuur. Al wat sy moes doen, was om ‘n rooi doek uit haar venster te hang wanneer hulle aanval. Sy het hulle twee daardie nag met ‘n mandjie aan ‘n tou deur haar venster buite die muur laat afsak om te ontsnap.”

En is sy toe gered? Het hulle hulle belofte gehou?”

Natuurlik, Rut! Daardie dag toe die mure van die stad intuimel, het nét die stukkie muur met Rut se huis staande gebly. Al die Israeliete het die rooi doek in haar venster sien wapper. Haar hele familie is gered, en hulle was die enigste oorlewendes in die hele stad!”

O, wat ‘n mooi verhaal! Maar wat het van haar geword, Naomi? Is sy ooit deur die mense aanvaar?”

O ja! Sy het later met ‘n Israeliet getrou, en hulle was só ‘n gelukkige paartjie. Sy naam is Salmon, en hulle het ‘n seuntjie gekry en hom Boas genoem. Hy is nou al ‘n volwasse man, ‘n baie mooi man! En welvarend! Hy het sommer vooruit geboer, en hy het baie grond gekoop. Waarlik ‘n man wat sag op die oog val! Boonop is ons so verlangs familie, jy sal hom nog sékerlik ontmoet.”

Hulle kampvuurtjie brand laag, en die twee vrouens besluit om maar in te kruip vir die nag. Maar slaap ontwyk vir Rut. In die maanlig sien sy Ragab se toring afgeëts teen die helder hemelruim. Sy wonder oor daardie Boas waarvan Naomi haar vertel het. Sy het nooit gesê of hy getroud is nie. “Sag op die oog,” het Naomi hom beskryf. Sy glimlag. Sy mag maar droom!

Maar daar is ander dinge wat aan Rut knaag. Hoe gaan die mense haar aanvaar? Gaan hulle haar goedgunstig wees? Gaan hulle haar ooit toelaat om deel van die volk te word? Hulle het vir Ragab die prostituut ontvang. Maar sy? Sy is ‘n Moabiet, en hulle en Israel is mos al jare lank vyande!

En toe, vir die eerste keer besluit Rut om tot hierdie God van Naomi en van Israel te bid. As Hy groot en magtig genoeg was om hierdie asemrowende wonderwerke te doen, dan is Hy sékerlik in staat om háár te help! En as Hy vir Ragab, ‘n prostituut kon plekmaak in hierdie volk se harte, dan kan Hy sékerlik ook vir háár, Rut, die Moabiet plek maak in die harte van hierdie vreemde volk!

Die verhaal van Ragab vra van my en jou om ook ander mense wat anders as ons is, ten volle te aanvaar in liefde. Waarom is dit dikwels so moeilik vir ons? Uiteindelik is Rut dan ook aanvaar, en beide Rut die Moabiet en Ragab die Kanaänietiese prostituut is opgeteken in die geslagsregister van Jesus, volledig en volkome deur God aanvaar!

Kom ons doen vandag dieselfde, en vergeet van ons verskille.

Gebed:

Here, ek moet vandag bely dat ek nog dikwels op mense neersien omdat hulle anders is as ek. Ek besef deeglik dat dit eintlik liefdeloosheid is, en ek vra om vergifnis. Lei my asseblief om mense onvoorwaardelik te aanvaar.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026