Ragab die Prostituut

16 April, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ragab die Prostituut

Josua 2:1-24

Video

Audio

500 Jaar gaan verby voor ons die volgende vrou ontmoet. 

In die kamp van Israel is alles in rep en roer: “Ons trek!” is die woord op almal se lippe. Die Jordaanrivier wink vir hulle om oor te steek om die beloofde land in ontvangs te gaan neem. Josua besluit om twee spioene te stuur om uit te vind wat oorkant vir hulle wag.

En so steek die twee spioene die grens oor. Die stadspoorte van Jerigo staan oop en hulle glip ongesiens in. Maar hulle is vreemdelinge in 'n klein stadjie waar almal mekaar ken. Met groot ontsteltenis sien hulle hoedat die mense hulle met wantroue aankyk. “Ons sal 'n plan moet maak!” sê die twee vir mekaar. En dan sien hulle dit: op 'n bordjie by een van die huise in die stadsmuur staan die uitnodiging: “Besoek Ragab vir 'n goeie tydjie.”

Desperaat om van die nuuskierige oë weg te kom, glip hulle daar in. En dan, tot hulle groot ontsteltenis, moet hulle uitvind dat hulle hulleself in 'n prostituut se bordeel bevind. “Wat nou?” wonder hulle hardop.

Ek weet nie wie van hulle die grootste geskrik het nie, Ragab die prostituut of die twee spioene. “Wat maak julle hier?” Sy herken hulle sommer dadelik as Israeliete. Jy kan hulle 'n myl ver uitken! En die dinge wat sy gehoor het van Israeliete is dat hulle 'n gevaarlike klomp is. Hulle reputasie het hulle vooruitgeloop. Die wonderwerk toe hulle deur die Rietsee getrek het en toe al die Egiptenare versuip het, is veertig jaar later steeds op almal se lippe. En kyk net hoe hulle van die ander groot vyandelike volke totaal uitgewis het sodat daar nie 'n lewende siel oorgebly het nie. Maar hierdie twee lyk dan gladnie so wreedaardig nie! Hulle is doodgewone manne. “Spioeneer julle op ons?” wil sy weet. “Gaan julle Jerigo ook kom uitwis?”

Die twee manne besef sommer dadelik dat hulle doppie geklink is. “Assblief, moenie ons weggee nie!” pleit hulle.

Haar hart word sommer dadelik sag vir die twee weerlose manne. Boonop het sy gehoor van hierdie God wat hulle aanbid en van die groot wonderdade wat Hy gedoen het. Sy wou meer weet van Hom, want sy het nou al agtergekom dat die klipgode wat hulle aanbid, 'n mite is. “Julle kan maar hier wegkruip. Wees gerus, ek sal niks sê nie!”

Dan is daar 'n gehamer aan haar deur. “Gou! Hardloop op na die dak toe!” beveel sy hulle. “Kruip onder die hoop vlas weg!”

Dit klink asof die manne haar deur wil afbreek. Met 'n gesig wat oorloop van vriendelikheid, maak sy die deur oop vir haar “kliënte”.

“Waar is hulle?” bulder die soldaat. “Lewer dadelik daardie twee manne uit wat hier by jou is!”

“O, daardie twee?” vra sy onskuldig, en dit lyk asof botter nie in haar mond kan smelt nie. “Hulle is netnou al hier weg. Is daar 'n probleem?”

“Waar is hulle heen?” wil hy woedend weet. “Hulle is spioene en hulle wil ons land kom verken!”

Gemaak verbaas vertel sy vir hulle dat sy nooit besef het wie hulle is nie, maar dat die twee manne hier uit is net voor die stadspoorte gesluit het. As hulle gou maak, haal hulle dalk nog die twee in! Wanneer die soldate weg is, sluit sy die deur en hardloop op na die dak waar die twee spioene steeds onder die vlas wegkruip.

“Ek weet die Here gee vir julle die land, almal is skrikbevange vir julle. Elke inwoner van Kanaän bewe uit vrees vir julle!” Ragab is hoogs ontsteld. “Asseblieftog, ek het julle baie goed behandel. Ek pleit by julle dat julle met 'n eed voor julle God sal belowe dat julle my familie ook goed sal behandel wanneer julle die stad bestorm!” Sy smeek, want sy wéét sommer al wat die gevolge sal wees. Die manne belowe haar plegtig dat sy niks sal oorkom nie. Sy moet net sorg dat haar familie by haar in die huis is en dat sy 'n rooi lap by haar venster sal laat uithang. Op haar beurt belowe Ragab dat sy niks sal uitlap nie.

Wanneer alles bedaar het, laat sak sy die twee manne met 'n tou deur haar venster buite die stadsmuur af met die opdrag dat hulle eers vir drie dae in die berge moet wegkruip om seker te maak dat hulle nie agtervolg word nie.

Wanneer die twee spioene weer veilig oor die Jordaan is en by Josua aankom, is hulle woorde aan hom: “Die Here gee die hele land oor in ons mag. Al die inwoners van die land bewe van vrees vir ons.” Hoe anders as die vorige ekspedisie waar die verspieders so verskriklik negatief gestaan het teen die inval!

Ons ken die verhaal van die mure van Jerigo wat verbrokkel het en inmekaar getuimel het toe Josua en sy manne om die stad stap. Terwyl alles intuimel kyk Josua op en hy sien dat een enkele stukkie muur wonder bo wonder ongeskonde bly staan te midde van alles wat rondom inmekaar tuimel. Baie opvallend in die stukkie heel muur is ‘n groot helderrooi lap wat by ‘n venstertjie uithang, dié van die prostituut, Ragab! Sy is gered, en sy het deel van God se volk geword.

Gebed:

Here, dankie vir die voorbeeld van Josua wat U ten volle vertrou het. En dankie vir ‘n vrou soos Ragab wat uit die heidendom haar hart vir U gegee het, en so ook deel geword het van die geslagsregister van Jesus.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026