Putte Spel Net Moeilikheid

5 January, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Putte Spel Net Moeilikheid

Genesis 26:16-33

Ryk - ryker - rykste! Dit was die gang van Isak se lewe. En dit is ook die einste ding wat hom in onguns laat kom by die koning. Is dit nie snaaks nie, dat toe Isak met sy liegstories kom en vir Rebekka voorstel as sy suster, Abimelek hom maar net oor die vingers tik, en hom nog boonop daarvoor beloon en vir hom beskerming gee. Maar as hy die dag begin ryk word, word hy weggejaag. Isak se welvaart hou vir Abimelek ‘n baie groter bedreiging in as sy morele oortredings. Mense heg baie meer waarde aan materiële prestasie as morele waardes. By God is dit egter baie anders. Vir Hom is morele waardes onverhandelbaar.

Wat is in ‘n kurkdroë land jou kosbaarste besitting? Water, natuurlik! In ‘n land waar riviere, stroompies en fonteine ‘n bitter skaars ding is, is ‘n put met water in van onskatbare waarde. En hoe slaan jy iemand die seerste? Jy sny sy waterbron af! In hierdie geval, sy put. En dit is presies wat die “Filistyne” doen (nie werklik Filistyne nie). Wanneer Isak vir hulle ‘n bedreiging begin word, slaan hulle hom bitter seer deur die putte wat Pa Abraham nog gegrawe het toe te gooi en sodoende sy water af te sny.

Wanneer Isak dan wegtrek van Abimelek af en by die Gerarspruit gaan kamp maak, is die eerste ding wat hy doen, om sy slawe aan te sê om die put in die droë bedding van die spruit weer oop te grawe. Tot hulle verbasing kry hulle daar baie sterk water. En nét daar begin die moeilikheid. Met groot begeerte in hulle oë kyk die manne van Gerar na daardie put met sy baie water. “Ons moet plan maak om dáárdie put in die hande te kry!” Begeerte is ‘n gevaarlike ding! Dit kan tot lelike dinge lei. En dit is presies wat gebeur, en die manne van Gerar gaan eis die put vir hulleself op, al het hulle hom nie gegrawe nie.

Soos Pa Abraham is Isak ‘n vredeliewende mens, en gelate gee hy die eienaarskap van die put op. Dit is immers nog nie sy land nie! Sy slawe word aangesê om ‘n ander put te grawe. Die arme slawe was sékerlik moedeloos, want put grawe is harde werk. Hulle sal nóóit weer ‘n put kry met soveel water nie! Maar hulle harde werk is nie verniet nie, en wanneer die put klaar is, is daar oorgenoeg water vir hulle vee. Maar weereens begeer die “Filistyne” daardie oorvloedige put met sy inhoud, en Isak is genoodsaak om weereens te trek. Hierdie slag slaan hy tent op by Berseba. En uiteindelik laat die “Filistyne” hom daar in vrede. Jy sal seker onthou dat Abraham daar in Berseba ‘n put gegrawe het, en toe koop hy die put. Dit het met ander woorde sy heel eerste stukkie eiendom in hierdie land geword. Daar by die put het hy toe ook ‘n boom geplant, en daar het hy die Here aanbid. Dit is ook op hierdie plek waar die Here vir Abraham sy grootste toets óóit laat skryf het - die toets om sy seun Isak te gaan offer. Dit is hierdie einste plek met groot herinneringe vir Isak waarheen hy trek.

Isak se trek na Berseba, is een wat hy nooit sou vergeet nie. Daar aangekom, slaan hulle tent op. Daardie aand sit Isak by sy kampvuurtjie en dink aan die dag toe hy en Pa Abraham hiervandaan gegaan het na Moria, daardie verskriklike dag toe hy gedink het hy word lewendig geslag. O, hoe wonderlik het die Here daar voorsien!

Terwyl Isak nog sit en droom oor die gebeure uit sy kleintyd, kom daar ‘n stem, helder en duidelik: “Ek is die God van jou vader Abraham.” Isak word vervul met groot ontsag: “Die Here praat met my!”

Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou seën en jou ‘n groot nageslag gee ter wille van My dienaar Abraham.

Die volgende dag bou Isak ‘n altaar en aanbid die Here, wat na al hierdie jare steeds getrou is en steeds aan hom dink ten spyte van al sy foute.

Isak sou later eers besef wat die Here se belofte aan hom daardie aand werklik inhou, want kort na hierdie verskyning van God aan hom, kry hy besoek van ‘n baie hoë afvaardiging. Koning Abimelek kom persoonlik na Isak se nederige tent om hom te kom spreek. Dieselfde koning wat hom, nie lank tevore nie uit sy stad weggejaag het, kom nou bakhand na Isak om te smeek vir ‘n ooreenkoms. Hy is duidelik baie bang vir Isak omdat hy gesien het hoe God vir Isak op die hande dra. “Moet ons asseblief nie aanval nie, behandel ons goed,” smeek die koning. Isak neem sy kans waar en slaan hom met ‘n paar bitsige woorde oor sy laakbare gedrag. En dan stem hy toe tot ‘n vredesverdrag, en hulle vier dit met ‘n heerlike maaltyd.

Isak word oorval met seëninge. En dit ten spyte van sy foute. Dit is beslis nie op eie verdienste dat hierdie dinge met hom gebeur nie. Oor en oor word God se beloftes aan hom herhaal sodat hy dit nie sal vergeet nie. Oor en oor word God se beloftes ook aan my en jou herhaal sodat óns dit nooit sal vergeet nie. Net soos met Isak is daardie beloftes nie omdat óns so goed is nie, maar uit God se onverklaarbare genade alleen. Die vraag is: wat doen ons daaromtrent?

Gebed:

Here, ek verstaan nie die genade wat U aan my bewys nie. My lewe is nie eers náástenby goed nie. Steeds oorlaai U my elke dag met ryke seëninge! Help my asseblief om ‘n beter kind vir U te wees, en om U gebooie beter uit te leef uit dankbaarheid vir wat U alles vir my doen.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026