Jesaja 28
Net om jou geheue te verfris: Jesaja bestaan eintlik uit drie boeke wat saamgevoeg is, en deur verskillende mense geskryf is. Ons is steeds besig met die eerste boek, wat die eerste 39 hoofstukke beslaan, en geskryf is nog lank voor die ballingskap. Hierdie boek is weereens verdeel in 5 onderafdelings, en ons is nou by die vierde afdeling, hoofstukke 28 tot 35, wat handel oor die Verbondsvolk.
Hoofstuk 28 begin met 'n begrafnislied, die oordeel van Samaria. Eintlik spot Jesaja met Samaria, want hulle is só trots op hulle stad. Hulle dink dit is so wonderlik, en die stad troon hoog uit oor die vrugbare vallei. Maar eintlik droom hulle maar net! Hulle is niks anders as 'n spul dronkaards nie! Nee, hulle kan nie onderskei tussen hulle drogbeelde en die werklikheid nie. Samaria is eintlik maar net ‘n krans van verwelkte blomme, en dit is gedoem tot ondergang.
Maar weereens hoor ons nie net die negatiewe nie, maar daar slaan ook 'n positiewe deur. Daar is die spreekwoordelike oorblyfsel wat nie van die Here sal vergeet nie. Hulle stel hulle vertroue op die Here. Keer op keer hoor ons hierdie refrein wat beklemtoon hoe belangrik dit is om op die Here te vertrou.
Vandag is dit steeds nét so belangrik vir jou en my. Ons is baie gou om te sê dat ons in Jesus glo. Maar die vraag is of ons ál ons vertroue op Hom stel? Dis maklik om te glo, maar vertroue kom dikwels nie so maklik nie! Geloof is eers waarlik sigbaar wanneer dit vertroue word.
Verse 7 tot 13 lê 'n aanklag teen die kerkleiers, die priesters en profete van Jerusalem. Hulle hou die hele tyd net partytjie, want hulle het 'n rykmanslewe. Só erg gaan dit, dat hulle selde nugter is! Hulle kom selfs besope by die tempel aan! “Hulle waggel van die wyn en die drank,” wys Jesaja die vinger na die profete wat veronderstel is om die Woord van God aan die volk te bring. En die priesters wat regspraak moet lewer? “die priesters loop twee rye spore wanneer hulle regsbeslissings moet maak.” (v. 7) Hoe kan hulle dan behoorlik regspraak lewer?
As jy 'n (kerk)leier is, verg dit van jou verantwoordelikheid, maar hierdie leiers is net op hulle eie plesier ingestel. Selfs die tafels in die voorhof wat gebruik word vir die gemeenskaplike maaltyd, is bemors as gevolg van hulle dronkenskap! Geestelike leiers is die mense wat vir die volk 'n voorbeeld moet stel. G’n wonder hierdie volk is in so 'n gemors nie!
Die Here het Jesaja na die priesters gestuur om hulle te waarsku om hulleself reg te ruk. Maar wat doen hulle? Hulle maak 'n bespotting van hom! “Vir wie wil Jesaja leer? Ons is nie kinders wat pas gespeen is nie! Wat ons van hom hoor, is 'n bietjie brabbeltaal hier en 'n bietjie brabbeltaal daar!” (v. 9)
God praat met hierdie priesters en profete, maar hulle luister nie na Hom nie, dus gaan hy voortaan in 'n onverstaanbare taal met hulle praat, sodat hulle gladnie verstaan nie, die taal van die buitelandse verdrukker! Hy gaan met hulle óók “'n bietjie brabbeltaal hier en 'n bietjie brabbeltaal daar” praat! As jy wéét wat reg is, en jy ignoreer steeds God se stem, moet jy Hom nie kwalik neem as Sy stem vir jou stil word nie!
In vers 16 waarsku die Here die leiers: “Ek gaan in Sion 'n klip neersit, 'n uitgesoekte klip, 'n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie.”
Jerusalem is deurtrek met valsheid, daarom besluit die Here om hierdie “hoekklip” in Jerusalem neer te sit. 'n Hoekklip is baie meer as net 'n stewige fondasie. Dit is die anker, maar ook die beginpunt van die gebou, die maatstaf waaraan die gebou gemeet word.
God stel dus 'n maatstaf waarvolgens die leiers en die volk hulle lewens moet bou. Wanneer God egter die maatstaf aanlê teen hierdie leiers van Jerusalem, dan skiet hulle ver tekort! Hulle gaan egter héél onbekommerd voort want hulle het 'n “ooreenkoms met die dood en 'n verstandhouding met die doderyk.” (v. 15). Hulle het allerhande diplomatieke ooreenkomste met ander volke gesluit om hulleself uit die moeilikheid te kry. Maar al hulle mensgemaakte plannetjies gaan skipbreuk ly, want hulle vertroue is nie op God nie. Weereens die groot woord: vertroue!
Hierdie mense verwerp egter ál Jesaja se woorde. Hulle weier om na hom te luister, en hulle vertrou eerder op hulleself en hulle eie plannetjies as op God!
Die vraag wat elkeen van ons onsself vandag moet afvra, is tot hoe 'n mate is my vertroue op my eie kennis, vermoëns, plannetjies ens? Telkemale het Jesaja nou al gewaarsku dat ons slegs op die Here moet vertrou vir absoluut alles wat ons aanpak, anders sal dit gedoem wees tot totale mislukking!
Gebed:
Here, ek is swak wanneer dit by vertroue op U kom. Heilige Gees, rig asseblief my gedagtes om volkome my vertroue op U te stel.