Maleagi 2:1-9
Moenie in diens van die Here probeer staan tensy jy bereid is om die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan ten volle te aanvaar nie.
In hierdie perikoop gaan dit oor die priesters. Wat was hulle hoof funksie? Maleagi som dit op met die woorde: “om My Naam te eer.” Priesterskap het daaroor gegaan om eer te bring aan God almagtig en hulle hele taak was verweef rondom hierdie enkele opdrag. Volgens die uitsprake in Maleagi kon hulle egter geensins daarin slaag om God te vereer met hulle handelinge nie.
In die vorige gedeelte het ons gesien dat die offers aan die Here dikwels baie halfhartig gedoen was, slegs om die Here tevrede te stel. Eintlik het dit nog baie erger gegaan, want in Maleagi 1:12 sien ons hoedat die altaar van God ontwy was en die offers met minagting behandel was deur die priesters. Die eerbied en respek vir God het totaal ontbreek en daar was nie meer werklik die erkenning van God as die Here nie.
God se heilige Naam was dus in die gedrang, dus sê die Here vir hulle dat Hy 'n vervloeking oor hulle sou bring. Daar sou vir hulle géén nageslag wees nie en die einde van hulle priesterskap was onafwendbaar.
En dan sê die Here dat Hy die pensmis van die offerdiere in hulle gesigte sou spat. “Agge-nee, sies!” wil ons dadelik reageer. Vir hierdie priesters was dit egter nog véél erger, want dit sou beteken dat hulle reinheid in gedrang sou kom. Om met die pensmis van diere deurmekaar te raak, het jou onrein gemaak en dus was jy nie meer geskik vir diens in die tempel nie.
Maar dit gaan selfs verder: Hulle sal saam met die pensmis weggedra word! Omdat hulle nou onbevoeg is om tempeldiens te verrig, word hulle buite die heiligdom uitgedra na die plek wat slegs goed genoeg is om diere se pensmis weg te gooi. Wát 'n vernederende ervaring vir iemand wat eens net die hoogste respek en aansien van die volk geniet het!
In die volgende paar verse sê die Here vir die priesters wat die oorspronklike vereistes vir hulle amp was. Die verhouding tussen priesters en die Here was só 'n hegte een dat dit in werklikheid as 'n verbondsverhouding gesien was. Dit het beteken dat hulle 'n lewe kon hê wat gevul was met die seën van die Here en dat hulle in harmonie en vrede met God kon lewe.
Dit was verwag van 'n priester om te beskik oor 'n groot kennis van God en Sy wil vir die mense. En dan moes hy hierdie kennis aan die volk oordra en hulle leer van God en wat Sy wil vir die volk was. 'n Priester was dan ook 'n boodskapper van die Here genoem. Sulke dinge kon egter alleen gebeur wanneer daar 'n ware lewende verhouding tussen die priester en die Here was. Wanneer al hierdie dinge in plek was, kon die volk opsien na die priester en dit sou dan ook die gevolg hê dat mense van hulle sondes sou afsien.
Hierdie priesters wat Maleagi aangespreek het, het egter in skrille kontras met die ideale beeld van 'n priester gestaan. In plaas daarvan dat hulle die mense op die regte pad gelei het, het hulle sélf die regte pad bystergeraak en veroorsaak dat die volk tot 'n val gekom het. Hulle het totaal die verkeerde pad gekies! Van daardie wonderlike, egte verhouding wat daar tussen die priester en God moes wees, was daar géén sprake nie. Waar daar van hulle verwag was om die volk te leer, het hulle eerder die volk oor die afgrond gelei!
Hulle het die kosbare verbond wat God met hulle gemaak het, geskend! En nou het die volk hulle respek en aansien vir die priesters verloor. Presies dít wat hulle aan die Here gedoen het, het hierdie priesters nou sélf ervaar!
Is hierdie gedeelte vandag spesifiek aan die leraars gerig? Nee, dit is aan elke gelowige gerig, want net soos die priesters destyds die taak gehad het om die Woord van God betroubaar aan die volk oor te dra, so het elke gelowige vandag die taak om die Woord aan ander te bring.
Priesters moes destyds versoening bewerkstellig tussen God en die volk en so is dit ook die gelowige se taak vandag om versoening te bewerkstellig tussen God en sy medemens.
Presies dieselfde ideaal wat vir die priesters gegeld het, geld ook vir jou en my. Ons moet ook in 'n hegte verhouding met die Here staan en Hom met eerbied en ontsag dien. Daar moet by ons dieselfde egtheid wees wat destyds vir die priesters gegeld het.
Ongelukkig is dit meer as dikwels nie die geval nie, en meeste van ons (ek inkluis) staan skuldig voor die Here vanweë ons laksheid en selfs disrespek teenoor God.
Ek wil jou uitdaag om spesiaal moeite te doen om jou verhouding met die Here só te kry soos wat dit Hom sal behaag. Kom ons begin vandag nog om werk te maak daarvan om die Woord op elke moontlike manier uit te dra. Jy kan begin deur hierdie dagstukkies verder te versprei of vir my adresse of foonnommers te stuur van mense wat nog nie die dagstukkies ontvang nie. Jy kan ook ‘n uitnodiging stuur om vir die dagstukkies in te teken deur die skakel: bit.ly/dsBrood aan mense stuur.
Gebed:
Here, help my asseblief om my verhouding met U 'n lewende een te maak en om my priesterlike pligte met entoesiasme en ywer uit te voer.