Lukas 23:1-7
"Ja Petrus," vertel die man hom, "en toe die spul hoogheiliges klaar was met Jesus, toe vat hulle hom na daardie vieslike heiden, Pilatus toe!"
"Maar natuurlik! Die Joodse Raad kon Hom mos nie die doodstraf oplê nie. Toe moes Pilatus dit maar vir hulle doen!"
Petrus was nie by nie, so hy moes die gebeure maar van iemand anders hoor.
"Ja Petrus, dis net so. Maar toe probeer Pilatus mos die situasie op Herodus afsmeer en dit ontaard toe in 'n heen-en-weer gestuurdery!"
"Maar presies wat het dan gebeur?" Nou is Petrus baie nuuskierig.
Die Joodse Raad het Jesus van Kajafas se huis af na die ander uiteinde van die stad geneem, na Pontius Pilatus, sodat Hy eerder deur die Romeine verhoor kon word. Dit was immers die enigste manier om vir goed van Jesus ontslae te raak, om Hom vir die Romeine te gooi.
Hierdie manne was baie desperaat, want hulle het nou nie juis ooghare gehad vir Pilatus nie. Herodus was natuurlik nog koning oor die provinsie Galilea, maar in plaas daarvan om ‘n koning aan te stel in Judea, het die Romeine besluit dat dit beter sou wees om daar eerder ‘n Prokurator of Prefek in beheer te sit. So is Pilatus dan in 26nC daar aangestel. Hy was nou nie juis die Jode se liefling nie! Hy was hard, gevoelloos en gierig. Per geleentheid het hy ‘n waterleiding na Jerusalem gebou en toe verwag hy dat die ryk Jode moet help betaal. Toe hulle weier, het hy summier die geld uit die skatkis in die tempel laat haal! Natuurlik het die mense in opstand gekom, en toe gee hy sy soldate opdrag om hulleself te vermom en tussen die oproeriges in te sypel. Daar het hulle die niksvermoedende mense met knuppels aangeval. Talle mense is daardie dag doodgeslaan of doodgetrap in die warboel.
Dit is dus ironies dat die Joodse Raad hulle tot Pilatus wend vir hulp om van Jesus ontslae te raak. Hulle aanvanklike aanklag teen Jesus was natuurlik Godsdienstig van aard: Hy beskou Homself as die Seun van God! Volgens hulle is dit mos Godslastering! By Pilatus kom hulle egter met ‘n gans ander prentjie, want hy sou hulle net uitlag as hulle met daardie soort van klag by hom aanklop. Nou skielik het hulle aanklag ‘n sterk politieke kleur. Drie klagte kon hulle formuleer:
1. Jesus het die volk opgesweep (mislei).
2. Hy het die volk belet om belasting te betaal.
3. Hy het beweer dat Hy die koning is (die Christus.)
Op die eerste aanklag het Pilatus seker maar net sy kop geskud, want wanneer het Jesus ooit die volk opgesweep? Die naaste daaraan was toe Hy hierdie manne wat hom verhoor ‘n spul giftige slange genoem het!
Ook die tweede klag is absurd en absoluut lagwekkend, want Jesus het presies die teenoorgestelde gesê as wat hulle beweer. In Lukas 20:20-26 lees ons dat die skrifgeleerdes vir Jesus probeer vastrek het op die vraag van belasting en dat Sy antwoord aan hulle was: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” Duideliker kon Hy dit nie gestel het nie, dat jy jou belasting maar moet betaal, want dit is net reg! Waar het hulle dus aan hierdie leuen gekom?
Aanklag nommer drie is egter iets totaal anders en ek dink nie dat Pilatus mooi geweet het wat om met hierdie klag te maak nie, want eintlik was dit Godsdienstig van aard en dus totaal buite sy veld van kennis. Hy vra dus vir Jesus: “Is jy die koning van die Jode?” Hierop gee Jesus eintlik ‘n baie ontwykende antwoord. Jy sal onthou dat Jesus regdeur Sy bediening baie vaag was teenoor die volk oor Sy ware identiteit. Teenoor die binnekring dissipels was Hy egter meer reguit.
Pilatus het dus geen ander keuse as om Jesus onskuldig te bevind nie. Op géén enkele aanklag wat die manne voor hom gelê het, kon Pilatus enige waarheid vind nie. Maar nou begin die manne benoud raak omdat hulle sien dat die ganse verhoor deur hulle vingers glip. “Maar Hy stook die ganse volk op met sy leer!” Die manne pleit by Pilatus. Hy moet asseblieftog net nie nou, na al hulle moeite hierdie saak van die rol skrap nie!
En dan vang Pilatus se oor die woordjie Galilea. “Kom Hy van Galilea af?” wil hy weet, want as dit die geval is, dan is Hy mos onder ou Herodus se jurisdiksie! Pilatus slaak ‘n groot sug van verligting: laat Herodus maar met hierdie tameletjie opgeskeep sit! Nou is dit dankie-tog uit sy hande uit!
Pilatus het ál die mag gehad om hierdie verhoor net daar kort te knip en Jesus vry te laat, maar hierdie magtige man was te papbroekig om hierdie besluit te neem, wat die waarheid sou laat seëvier.
Jy wil graag vir Pilatus veroordeel oor hierdie lamsakkige besluit. Maar moenie oorhaastig wees nie, want ons land dikwels in dieselfde soort situasie. Dan doen ons presies wat Pilatus gedoen het. Sodra ons onseker begin raak, skuif ons liewer die onus oor na iemand anders.
Daar is egter iets anders wat ons nooit mag vergeet nie: God het Pilatus presies laat doen wat Hy wou hê hy moet doen. As Pilatus daardie dag sy man gestaan het, sou die geskiedenis dalk tragies anders verloop het, en sou ek en jy nie die vryspraak kon kry wat God daardie swart dag vir ons bewerkstellig het nie. Ja, Hy het selfs die goddelose Pilatus gebruik om Sy doel te bereik!
Gebed:
O Here, die gebeure daardie dag maak my diep seer, maar ek besef dat alles so moes gebeur vir my vryspraak. Dankie Here!