Lukas 22:54-62
Wanneer Jesus in die tuin gevange geneem word, hardloop al Sy dissipels weg, volgens Matteus se beskrywing van die gebeure (Mat 26:56). Hulle het Jesus nét daar en dan in die steek gelaat. Een van hulle het egter die moed gehad om op ‘n afstand agter Jesus se vervolgers aan te stap. Hy kon nou darem nie sy Meester sommer so versaak nie, veral nie nadat Jesus voorspel het dat hy sy Meester sou verloën nie. Ons wil so maklik vir Petrus veroordeel oor die feit dat hy Jesus verloën het, maar ons vergeet van die ander dissipels wat almal totaal afwesig was, wat net aan hulleself gedink het en gevlug het toe hulle Meester hulle die nodigste gehad het. Het selfs Jesus se dissipels nou teen Hom gedraai?
Die toneel verskuif nou na die ruim binnehof van die hoëpriester se huis, waar daar vanaand sommer baie aksie is. Daardie Man wat die kerk so baie hoofbrekens besorg het is mos gevang, en Hy wag vir die verhoor om te begin. Almal is nuuskierig om te sien wat gebeur, dus is daar van slaap vannag géén sprake nie. ‘n Ysige luggie byt geniepsig. In die middel van die binnehof brand ‘n vuurtjie, en die manne koek daar saam vir ‘n bietjie warmte en geselligheid. Petrus skuif ongemerk tussen die manne in, niemand sal hom mos hier in Jerusalem herken nie, hy is immers 'n vreemdeling hier uit Galilea. Eenkant, in die verste hoek van die binnehof is ‘n paar manne besig met Jesus.
‘n Jong diensmeisie loop verby. Sy steek in haar spore vas. Sy ken almal hier rond, maar daardie vreemdeling? Sy het hom voorheen al êrens gesien, maar waar? Haar nuuskierigheid kry die oorhand. Skielik onthou sy: “Haai, jy is mos een van die kêrels wat altyd so saam met hierdie Jesus was!”
Petrus probeer sy kleed laer oor sy oë trek: “Nee juffrou, jy maak 'n fout, ek ken Hom nie!” Sy hart klop in sy keel. As hulle hom darem nou hier moet herken is sy doppie geklink! Sy draai om en skud haar kop. Hy wás saam met die sogenaamde Profeet, sy is séker daarvan!
Petrus se gedagtes is in ‘n warboel. Hy verstaan nie mooi wat besig is om te gebeur nie. Alles wat so mooi was die afgelope drie jaar, is besig om te verkrummel. Is dit dan nou die einde van die pad? “Haai jy! Jy is mos ook een van hierdie Man se aanhangers?” ‘n Man konfronteer Petrus skielik uit die bloute. Hy skrik hom yskoud: “Man, ek is nie!”
Harmansdrup-stadig sleep die tyd verby. Dit is die langste nag óóit in Petrus se lewe, waar hy sit en worstel met sy emosies. Dáár aan die anderkant van die binnehof kan hy sien hoedat hulle met sy Meester die spot dryf, Hom verneder. Petrus kry seer diep in sy hart, maar hy durf nie nader staan om Jesus te help nie. Hoe verskriklik eensaam moet sy Meester nie voel tussen daardie gevoellose spul skurke nie!
Hy voel mense se oë op hom brand. Petrus kan sien hoe fluister hulle vir mekaar terwyl hulle in sy rigting kyk. “Wat!?” wil hy nog vererg vra, maar dan wys een van die manne ‘n vinger rég in sy gesig: “Jy is mos ‘n Galileër! Sowaar, jy wás saam met daardie Man!”
“Is nie! Is nie!” Petrus is rooi van woede. “Ek weet nie waarvan jy praat nie!”
Dan kraai die haan!
Jesus draai stadig om en kyk reguit vir Petrus. “Petrus, Ek bid vir jou,” wil Sy sagte, liefdevolle oë sê.
“Wat het ek gedoen!” Rou snikke skeur deur Petrus se verwarde liggaam terwyl hy die nag inhardloop met trane wat oor sy wange stroom.
Daardie verskriklike nag sou Petrus nooit, óóit in sy lewe kon vergeet nie, die nag van sy verraad teen sy geliefde Meester.
Maar die Here is genadig en almagtig, en dieselfde Petrus wat so verskriklik hard geval het word skaars ‘n maand later uit hierdie pikdonker put van ellende opgehef tot die hoogste hoogtes om as onverskrokke leier van die nuwe kerk uit te troon. Toe hy op sy eie krag staatgemaak het, was dit ‘n katastrofe, maar toe hy homself aan die Heilige Gees oorgegee het, was sy Bron van krag onuitputlik, eindeloos.
Dalk sit jy vandag in daardie put waarin Petrus beland het. Jy weet nie meer herwaarts of derwaarts nie. Dalk lyk dit vir jou na die einde van jou geloofspad, wil jy ook soos Petrus die nag inhardloop, huilend. Dan het ek vir jou baie goeie nuus: dieselfde Heilige Gees wat vir Petrus later so opgehef het, wag ook vir jou om jouself aan Sy sorg oor te gee. Dieselfde Heilige Gees het vanoggend toe ek vir Hom sê: “Here, ek weet nie wat om te skryf nie!” my gedagtes kom vul met hierdie boodskap aan jou.
Ja, Hy is in jou, en Hy hunker daarna om die bestuur van jou wankelrige lewe oor te neem. Maar Hy sal dit slegs doen as jy vir Hom die stuurwiel gee. Doen dit - jy sal nooit, óóit spyt wees nie!
Gebed:
Here, neem my totale lewe oor, en gebruik dit tot U eer.