Markus 1:29-39
VIDEO * OUDIO
Dit was vir Petrus ‘n doodgewone Sabbat. Hy was egter baie bekommerd oor sy skoonma. Nee, hy het nie skoonma-probleme gehad nie, maar sy was siek. Sy het die hele nag ‘n hoë koors gehad. Maar hy het nie rêrag tyd gehad om aan haar aandag te skenk nie, want sy nuwe Rabbi het vir hom en boetie Andreas gewag, en hulle moes haastig maak om betyds by die sinagoge te kom.
Sy bors het geswel van trots omdat hy ‘n leerling van daardie Rabbi is. En toe gebeur daardie skrikwekkende ding met die besetene. Petrus het hom asvaal geskrik toe die man skielik tussen al die mense opspring en begin gil en tekere gaan. Hy wou opspring en die man nét daar uitsmyt, maar Rabbi Jesus het vir hom beduie om te bly sit. Hy het hom só bloedig vererg vir die man wat so ‘n hartroerende preek van sy spesiale Rabbi so kom staan en bederf het.
Die manier wat Rabbi Jesus egter die saak hanteer het was absoluut fenominaal! Niemand het nog óóit so ‘n ding beleef nie! Almal was in ekstase!
Nou is alles egter verby, en die groepie stap huistoe. Skielik onthou Petrus van sy skoonma, en die bekommernis kom sit weer soos ‘n vrot kol op Petrus se maag. Hy hoop dat sy dit darem oorleef het, en dat die koors haar gelos het. Petrus sit ‘n bietjie meer veerkrag in sy stap, sodat hy voor die ander uitloop. Rabbi Jesus het gevra dat hulle na sy huis gaan. Wat ‘n eer! Maar Skoonma sal mos nooit vir hulle kan regstaan in haar toestand nie!
Wanneer Petrus die huis binnestap, kry hy vir Skoonma waar sy steeds in die kooi lê en worstel met die koors. ‘n Vrees pak vir Petrus, want hy sien sommer dat dinge baie lelik lyk. Skielik tref ‘n gedagte vir Petrus: as Rabbi Jesus daardie besete man kon genees, kan Hy sékerlik ‘n gewone sieke ook gesond bid?
“Rabbi, bid asseblief vir my skoonma!” Jesus vat die vrou se hand. Haar koors is hemelhoog, en die sweet tap haar bleek gesig af. Sy is dodelik siek! Sou dit haar einde wees? Maar wanneer Jesus haar hand vat, gebeur die wonderwerk. Die kleur kom terug na haar gesig, en sy sit regop asof sy nooit iets makeer het nie. Petrus wil nog keer dat sy opstaan, hierdie vrou was mos baie siek! “Ma, lê maar nog ‘n rukkie.....” Maar hy is te laat want sy het klaar flink uit die kooi gespring, blakend gesond. Die manne kan hulle oë nie glo nie. Só vinnig is haar herstel, dat sy dadelik aan die werk spring en vir hulle ‘n ete voorberei!
In ‘n ommesientjie begin die bostelegraaf gons: “Het jy gehoor van Simon se skoonma? Dis ‘n wonderwerk soos niemand nog óóit gesien het nie!”
“Kom ons gaan kyk wat gebeur het!”
“My seuntjie is siek - dalk kan die Rabbi hom óók gesondmaak.”
Binne ‘n uur weet die ganse Kapernaum van Petrus se skoonma. Vanuit elke hoek van die stad stroom die mense om vir hulleself te kom sien wat gebeur het. “Hoe is dit moontlik?” By die minuut groei die skare aan voor Petrus se eenvoudige huisie, totdat daar meer as ‘n duisend mense in die nou straatjie saamgedrom staan!
“Rabbi, help my asseblief,” klink dit hier en daar op. Jesus is maar net té gewillig om elke sieke te help, en elke keer as daar ‘n genesing plaasvind, dan dreun dit deur die skare soos ‘n swerm bye. Tot laatnag toe duur dit voort, totdat Petrus uiteindelik vir die mense moet sê dat dit darem nou tyd is dat hulle huiswaarts moet keer. Die Rabbi is mos maar net ‘n mens! Hy het óók mos rus nodig!
Vroeg die volgende oggend - dit is nog pikdonker - hoor Petrus dat iemand in die huis beweeg. Hy sien die silhoeët van die Rabbi as Hy saggies uitloop na buite. Later moet hy verneem dat Jesus ‘n stil plekkie gaan opsoek het om te gaan bid. Wanneer dit begin lig word, wil almal weet waar Jesus dan is? Petrus beduie net dat Hy uit is, iewers daar buite.
“Kom ons gaan soek Hom”, besluit hulle. As hulle Hom uiteindelik kry wil hulle weet: “Waar was U? Almal soek U!”
Maar Jesus ontwyk hulle vraag: “Kom, ons het werk om te doen. Ons gaan die naburige dorpies bearbei. Ek wil daar gaan preek, want dit is waarvoor Ek immers gekom het.”
Gedwee pak die manne op. Watter opwinding wag daar op hulle? Gisteraand se dinge het hulle laat bruis van opgewondenheid. Hier kan dalk nog groot dinge gebeur! Galilea, hier kom ons!
Vandag is dit vir ons moeilik om te begryp hoe nuut en vars Jesus se prediking en optrede vir daardie mense was. Ons ken al hierdie verhale al van kleintyd af, en dis vir ons ou nuus. Maar Jesus het gekom om alles te verander en alles nuut te maak, nie net vir daardie tyd nie, maar nét so ook vandag. Moontlik was die nuwe dissipels opgewonde oor die verkeerde redes. Ons weet egter vandag wat die ware agtergrond was, en dit behoort vir ons nog destemeer meer rede te gee om opgewonde te raak oor Jesus. Is Jesus vir jou “ou nuus”? Dan het dit nóú tyd geword dat ons met nuwe oë begin kyk na Hom en ons verhouding met Hom, en dat ons weer borrellend opgewonde raak oor Jesus!
Gebed:
Here, laat dit asseblief vandag bruis in my gemoed van opgewondenheid oor U. U is steeds so wonderlik soos daardie tyd saam met die dissipels!