Petrus se Belydenis

6 September, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Petrus se Belydenis

Lukas 9:18-22

Wie is Jesus? Lukas laat hierdie vraag weergalm oor die berge en heuwels en valleie van die woestyn. Eers was dit Johannes die Doper wat half huiwerig die vraag gevra het voordat hy deur Herodus onthoof is. Toe kom Herodus sélf met hierdie tergende vraag. Nou kom gooi Jesus die vraag voor Sy dissipels se voete: “Wie is EK?”

Soos ons al by ‘n paar geleenthede gesien het, was Jesus eenkant alleen besig om te bid - iets wat net weereens die geweldige belangrikheid van gebed vir ons beklemtoon. As Jesus dit nodig gevind het om in gebed te verkeer, hoeveel te meer is dit nie vir jou en my van uiterste belang om te bid nie? Dit is ons geestelike asemhaling. Sonder asem kan ons nie leef nie, en sonder gebed gaan ons geestelik dood.

Wanneer Jesus se dissipels om Hom saamdrom, vang Hy hulle totaal onkant met Sy vraag. Maar Hy stel dit op ‘n baie slim manier, om hulle goed aan die dink te sit. Hy vra eers met ‘n ompad, wat die mense oor Hom dink - wat sê ander mense van Jesus? Die antwoord wat Jesus kry is presies dieselfde antwoord as wat Herodus gekry het, dat Hy die een of ander profeet is of selfs die reïnkarnasie van iemand soos Elia. Maar dan raak dit ongemaklik as Hy die vraag omswaai en direk vir húlle vra wat hulle sélf sê. Daar het sekerlik eers ‘n ongemaklike stilte gehang voordat Petrus dit gewaag het met: “Die Gesalfde van God.”

Maar kon hierdie intieme groepie volgelinge dan nie duidelik sien dat Jesus die Messias was nie? Na alles wat hulle Jesus elke dag sien doen het - al Sy wonderwerke en die dinge wat Hy gesê het moes sékerlik hulle oë oopgemaak het vir die ware Jesus! Hoe is dit ooit moontlik dat hulle dit nie kon raaksien nie? Was Petrus dan die enigste wat hierdie insig gehad het?

Ek dink dat selfs Petrus hierdie belydenis net in ‘n oomblik van helderheid gedoen het, want later sien ons hoedat hy telkemale maar weer in twyfel verval.

Maar voordat jy te gou ‘n oordeel fel, klim eers gou in die sandale van daardie manne. As jy in daardie tyd sou leef en skielik begin hierdie wonderlike Profeet optree en die mees asemrowende wonderwerke doen - maak dit Hom dan outomaties die Messias wat almal verwag? Die probleem is dat Hy gladnie Goddelik gelyk het nie - Hy wasn doodgewone mens! Hy het óók maar honger geword, seergekry, smart beleef, moeg geword en nodig gehad om te bid. En dan het Hy boonop dinge gedoen wat die wenkbroue gelig het, dinge wat die kerkleiers veroordeel het! Hy kon tog sékerlik nie die Een wees nie? Boonop, wat van die profete se voorspellings dat die Messias die volk sou verlos? Kyk net hoe was hulle deur die Romeine onderdruk en dit het beslis nie gelyk asof hierdie Profeet énigsins van plan was om ‘n verlossingsdaad uit te voer nie. Hy wou selfs vir hulle vertel dat hulle hierdie einste Romeine wat hulle soveel sonde besorg, moes liefhê! Nee wat! Ja, Hy wasn baie oulike Profeet, maar die Messias? Nie sommer nie!

Dankie tóg! Vandag weet ons baie anders! Vandag kan ons met sékerheid sê dat ons wéét dat Jesus waarlik die Messias, die Verlosser is en dat Sy verlossingswerk iets totaal anders is as wat die Jode verwag het. Die vraag is egter: Hoe beleef ek en jy vir Jesus? Ja, natúúrlik weet en glo ons almal dat Hy die Verlosser is. Geloof in Jesus beteken egter iets baie meer as dit! Dit beteken omn lewende verhouding met Hom te hê. Staan jy in ‘n lewende verhouding met Jesus?

Na Petrus se belydenis, belet Jesus uitdruklik Sy dissipels om vir die mense te vertel dat Hy eintlik die Gesalfde van God oftewel die Messias is. Hy verduidelik dat dit eers nodig is dat Hy moet lyding verduur en uiteindelik doodgemaak word! Eers dán kan dit aan die hele wêreld uitgebasuin word. Dit maak nie heeltemal vir ons sin nie! Sou dit nie goed gewees het as daar alreeds ‘n reuse skare van mense gewees het wat Hom aanvaar het as die Messias nie? Dink net hoeveel dit vir die verspreiding van die Evangelie kon beteken!

Die antwoord is ‘n besliste “Nee!” God se plan met Jesus was nie om ‘n klomp gelowiges bymekaar te maak nie. Sy plan was om die ganse wêreld die kans op verlossing te bied. Dit kon alleen geskied as Iemand die sondeskuld van die wêreld op Hom sou neem sodat ál die skuld betaal sou wees. Dit sou beteken dat mense dan met vrymoedigheid na God sou kon gaan in die wete dat hulle sonde vergewe is. Jesus was die enigste Een wat so ‘n taak sou kon uitvoer, want Hy was die enigste Mens óóit wat waarlik sonder enige sonde was, sodat daar nie gesê kon word dat Hy maar net gestraf was oor Sy eie sonde nie. Nee, Hy sou die straf van ander mense alléén dra. Die blote feit dat soveel mense die dinge gesien het wat Hy gedoen het, en Hom ten spyte daarvan uiteindelik tóg verwerp het, het net Sy lyding soveel erger gemaak.

Dankie tóg! Daar was ook ‘n ander sy van die saak - dat Jesus op die derde dag opgestaan het uit die dood en vandag heers as Koning. Kom ons eer en aanbid Hom daarvoor.

Gebed:

Here Jesus, ons bring aan U al die eer en dank vir U verlossingswerk!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026