Lukas 22:31-34
Dit is die dissipels se heel laaste aand saam met Jesus voor Sy teregstelling, en ‘n beklemming gryp my aan die hart as ek besef dat hierdie manne nog stééds nie verstaan waaroor dit alles gaan nie! Daar is nog al die tyd die onderlinge struwelinge, en boonop is daar ‘n adder in hulle midde, Judas!
Jesus kyk vir Petrus in die oë. Ja, die duiwel probeer verbete om hom en sy mede-dissipels tot ‘n val te bring. “Petrus, die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif!” Ek dink die duiwel was desperaat, want hy het gesien waarheen die ding met Jesus op pad was. Hy het desperaat probeer om God se verlossingsplan te verongeluk, maar hy was magteloos. Nou wend hy hom tot Jesus se volgelinge, en hy begin by die binnekring dissipels, die twaalf manne wat die hele pad elke dag saam met Jesus gestap het, en met wie Hy 'n besonderse verhouding opgebou het. Hy het klaar gesien waar elkeen se swak punte is, en daardie dinge wil hy uitbuit sodat hulle uitmekaar sal spat wanneer Jesus se teregstelling verby is. Sy desperate laaste poging is om die hele verlossingsplan nét daar te laat skipbreuk ly en te laat doodloop!
Die duiwel het egter nie met Jesus rekening gehou nie. Hy het nie gedink dat Jesus na dese nog aan hierdie manne sou dink en vir hulle bid nie. Menslik gesproke moes Jesus al lankal moed opgegee het met hierdie klomp, maar Hy het die krag van gebed ál te deeglik besef. Hy het die potensiaal raakgesien van hierdie rowwe visserman, Petrus, die een met die vinnige bek, wat praat voordat hy dink. “Petrus, Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie.” Dan verduidelik Hy dat Petrus die een sal wees wat sterk sou staan en sy mede-dissipels sou versterk wanneer dinge dreig om uitmekaar te val. Maar dit sou eers gebeur nadat Petrus tot bekering gekom het!
Petrus verstaan nie. Het hy dan nie al lankal tot inkeer gekom nie? Hy is immers Jesus se regterhandman! Hy wil nie weet dat daar swakhede in hom opgesluit is nie. Daardie eienskappe wil hy liewer hééltemal vergeet! Maar dan praat hy alwéér voordat hy dink: “Here, ek is bereid om saam met U tronk toe te gaan. Ek sal selfs saam met U sterf!”
Hoe bitterlik sou Petrus nie nog daardie selfde nag van hierdie troontjie van hom aftuimel nie. “Voordat die haan kraai gaan jy My drie maal verloën”, blaas Jesus die selfversekerde Petrus se borreltjie. “Jy gaan sê dat jy My nie ken nie!”
Petrus kan sy ore nie glo nie! Sy ego is geknak! Hoe kan sy Jesus dan so 'n verskriklike ding van hom sê? Hy word baie hard aarde toe gebring.
Dikwels is dit nodig dat jy ‘n slag van jou troontjie wat jy vir jouself gebou het moet afval, sodat jy weer jou afhanklikheid van God kan besef. Daardie nag sou vir Petrus seker die bitterste een in sy lewe wees, maar hy sou weer opstaan, Jesus het dit immers Sélf vir hom belowe. Wanneer ek en jy so hard aarde toe neerdaal, dan voel jy seergemaak en verwerp. Maar dan is daar die een Anker van hoop wat keer dat ons nie totaal uithaak nie: Jesus! Soos wat Hy vir Petrus gebid het, so bid Hy ook vir my en ook vir jou. In Matt. 28 het Hy belowe dat Hy met ons sal wees tot aan die voleinding. Wat ‘n wonderlike troos! Veral wanneer jy nie meer weet watter kant toe nie!
Soos die duiwel destyds gepoog het om die dissipels tot ‘n val te bring, so probeer hy vandag steeds baie hard om ons as gelowiges te laat struikel en val sodat ons nie weer sal kan opstaan nie. Die ironie is dat ‘n gelowige wat maar net ‘n passassier op die geloofstrein is, en net lekker saamry, nie sommer groot las van die duiwel sal kry nie. Hy is vir die duiwel geen bedreiging nie, dus los hy hom uit om sy vrugtelose rit te voltooi.
Dit is egter die gelowige wat sélf aan die werk spring en die masjienerie van die geloofstrein aan die gang probeer hou, wat die teiken van die duiwel se aanslae is. So ‘n persoon maak die duiwel baie bekommerd, want al sy harde werk word ongedaan gemaak. Iemand wat mense na Jesus toe lei, word veral geteiken, want so sien die duiwel hoe die siele uit sy gretige kloue glip!
Wanneer die aanslae van die duiwel jou dus tref, moet jy nie bekommerd wees nie. In die eerste plek weet jy dat jy op die duiwel se tone getrap het, en dat hy nie daarvan hou nie. Maar die belangrikste is dat jy kan wéét dat Jesus by jou is om jou staande te hou. Hy sal jou nooit, óóit begewe of verlaat nie, en Hy bid vir jou. Maar daar is ook die wonderlike wete dat die Heilige Gees in jou is om jou die wysheid en krag te gee om elke situasie te kan hanteer. Dikwels lyk dinge vir jou totaal onmoontlik. Jy voel asof dit ver bokant jou vermoë is. Maar dan is daar die wonderlike wete dat jy die Heilige Gees het wat vir jou leiding sal gee en wysheid en krag om suksesvol anderkant uit te kom. Hy het nooit belowe dat dit maklik sou wees nie, maar Hy sal jou staande hou, selfs deur die swaarste beproewing, en jou as oorwinnaar uit die stryd laat tree.
Gebed
Liefdevolle Vader, dankie dat U vir Jesus en die Heilige Gees in my lewe gebring het!