Lukas 22:31-34
Dit is die dissipels se heel laaste aand saam met Jesus voor Sy teregstelling, en ‘n beklemming gryp jou aan die hart as jy agterkom dat hierdie manne nog stééds nie verstaan waaroor dit alles gaan nie. Daar is nog al die tyd die onderlinge struwelinge, soos ons gister gelees het, en boonop is daar ‘n adder in hulle midde in die vorm van Judas.
Jesus praat nou direk met Petrus: Ja, die duiwel is nie baie ingenome met hom en sy mede-dissipels nie. “Hy het daarop aangedring om julle soos koring te sif”, sê Jesus vir Petrus. Ek dink die duiwel was desperaat, want hy het gesien waarheen die ding met Jesus op pad was. Hy het so hard probeer om God se verlossingsplan te verongeluk, maar hy was magteloos. Nou wend hy hom tot Jesus se volgelinge, en hy wil begin by die dissipels. Hy het klaar gesien waar al hulle swak punte is, en daardie dinge wil hy uitbuit sodat hulle uitmekaar sal spat wanneer Jesus se teregstelling verby is. Sodoende sal die hele verlossingsplan nét daar skipbreuk ly en doodloop!
Die duiwel het egter nie met Jesus rekening gehou nie. Hy het nie gedink dat Jesus na dese nog sou omgee vir hierdie manne en selfs vir hulle bid nie. Menslik gesproke moes Jesus al lankal moed opgegee het met hierdie klomp, maar Hy het die krag van gebed ál te deeglik besef. Hy het die potensiaal raakgesien van hierdie rowwe visserman Petrus, die een met die vinnige bek, wat praat voordat hy dink. “Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie, Petrus!” Hy gaan aan en verduidelik dat Petrus die een sal wees wat sterk sal staan en sy mede-dissipels sal versterk wanneer dinge dreig om uitmekaar te val. Maar dit sal eers gebeur nadat Petrus tot bekering gekom het!
Petrus verstaan nie. Hy besef nie dat daar swakhede in hom opgesluit is nie. Eintlik wil hy nie eers weet van sulke swakhede nie! Weereens is dit dié Petrus wat praat voordat hy dink, wanneer hy vir Jesus sê dat hy bereid is om saam met Jesus gevange geneem te word en selfs te sterf vir sy geloof! Hy is baie selfversekerd!
Hoe bitter seer sou Petrus nie nog daardie selfde nag van hierdie troontjie van hom afval nie! “Voordat die haan kraai gaan jy My drie maal verloën, Petrus! Jy gaan sê dat jy My nie ken nie!”
Petrus kan sy ore nie glo nie! Sy ego is geknak! Hy is baie hard aarde toe gebring!
Dikwels is dit nodig dat ‘n mens ‘n slag van daardie troontjie wat jy vir jouself gebou het moet afval, sodat jy weer jou afhanklikheid van God kan besef. Daardie nag sou vir Petrus seker die bitterste een in sy lewe wees, maar hy sou weer opstaan! Jesus het dit Sélf vir hom belowe. Wanneer ek en jy so hard aarde toe neerdaal, dan voel jy seergemaak en verwerp. Maar dan is daar die één Anker van hoop wat keer dat ons nie totaal uithaak nie - Jesus! Soos wat Hy vir Petrus gebid het, nét so bid Hy ook vir ons. In Matt. 28 het Hy belowe dat Hy met ons sal wees tot aan die voleinding! Wat ‘n wonderlike troos, veral wanneer jy nie meer weet watter kant toe nie!
Soos die duiwel destyds gepoog het om die dissipels tot ‘n val te bring, probeer hy vandag steeds baie hard om gelowiges te laat struikel en val sodat ons nie weer sal kan opstaan nie. Die ironie is dat ‘n gelowige wat maar net ‘n passassier op die geloofstrein is, en net lekker saamry, nie sommer groot las van die duiwel sal kry nie. Hy is vir die duiwel geen bedreiging nie, dus los hy hom uit om sy vrugtelose rit te voltooi.
Dit is egter die gelowige wat sélf aan die werk spring en die masjienerie van die geloofstrein aan die gang probeer hou, wat die teiken van die duiwel se aanslae is. So ‘n persoon maak die duiwel baie bekommerd, want al sy harde werk word ongedaan gemaak. Iemand wat mense na Jesus toe lei, word veral geteiken, want so sien die duiwel hoe die siele uit sy gretige kloue glip.
Wanneer die aanslae van die duiwel jou dus tref, moet jy nie bekommerd wees nie. In die eerste plek weet jy dat jy op die duiwel se tone getrap het, en dat hy nie daarvan hou nie. Maar die belangrikste is dat jy kan wéét dat Jesus by jou is om jou staande te hou. Hy sal jou nooit, óóit begewe of verlaat nie, en Hy bid vir jou.
Maar daar is ook die wonderlike wete dat die Heilige Gees in jou is om jou die wysheid en krag te gee om elke situasie te kan hanteer. Dikwels lyk dinge vir ons totaal onmoontlik, en voel jy dat dit totaal bokant jou vermoë is. Maar dan is daar die wonderlike wete dat ons die Heilige Gees het wat vir ons leiding sal gee en krag om suksesvol anderkant uit te kom. Hy het nooit belowe dat dit maklik sal wees nie, maar Hy sal ons staande hou, selfs deur die swaarste beproewing, en ons as oorwinnaars uit die stryd laat tree.
Gebed
Here, dankie dat U vir Jesus op my pad gebring het!