Petrus en die Engel

29 October, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Petrus en die Engel

Handelinge 12:1-25

VIDEO | OUDIO

Dit was Aprilmaand. Met Paasfees wat so pas verby verby was, was die Jode nou besig om die Fees van Ongesuurde Brode te vier waartydens hulle slegs ongesuurde brood mag eet.

In Jerusalem het daar groot kommer geheers onder die Christengelowiges want Herodus Aprippa I was op die oorlogspad teen hulle. Skokgolwe het die gemeenskap getref toe Herodus se eerste teiken, Jakobus so pas onder Herodus se swaard geval het. Wie sou volgende wees, dalk nog een van die Apostels?

Die gelowiges is asvaal geskrik as Herodus se soldate opdaag: "Ons soek vir Petrus!" blaf die bevelvoerder. Almal is verslae wanneer die soldate vir Petrus gryp. Gaan dieselfde lot hulle charismatiese leier tref as vir Jakobus? Haastig word hy gegroet terwyl die soldate hom wegsleep. Nie minder nie as sestien soldate is opgekommandeer om Petrus te kom vang want Herodus het gehoor hoe Petrus die Hoëpriester se wagte ore aangesit het die vorige keer wat hulle hom gevange geneem het. Herodus het hom voorgeneem dat dit beslis nie met hom sou gebeur nie! Hierdie keer sou hy sorg dat dit totaal onmoontlik sou wees vir Petrus om wéér te ontsnap!

En só, terwyl Petrus weggelei word begin die gelowiges alreeds vir hom bid. “Here, bewaar asseblief vir Petrus! Ons het hom só nodig, hy doen soveel vir die uitbreiding van U Koninkryk!” Van slaap was daar beslis nie eers sprake nie, want hier was nou ‘n noodsituasie! Ernstige gebede het daardie nag vanaf ‘n baie bekommerde gemeente opgestyg tot die hemeltroon!

Intussen is Petrus hardhandig die tronk ingesleep. Die soldate was behóórlik die Leviete voorgelees sodat die vorige verleentheid nie herhaal sou word nie. Daar sou géén kanse gewaag word met hierdie “uiters gevaarlike” krimineel nie!

Grootoog vertel een soldaat: “Ek het gehoor dat hy sommer nét só uit sy boeie kan glip!”

“Nie híér nie!" lag sy maat vulgêr terwyl hy vir Petrus in twéé stelle kettings vasknoop. "Hier gaan hy baie beslis nie uitkom nie!”

Die manne bekyk hulle "kunswerk" van 'n spinnerak van staal krities en dan besluit hulle dat géén mens óóit daaruit sou kon ontsnap nie! Net om egter dóódseker te maak, besluit hulle dat daar te alle tye twee soldate by Petrus sal wees. As hy dit ooit gaan regkry om in hierdie kettings te slaap, dan slaap hy tussen twee soldate!

Daardie nag kry Petrus dit tóg wonder-bo-wonder reg om aan die slaap te raak, ten spyte van sy bittere ongemak. Weerskante van hom lê sy wagte rustig, want Petrus is mos veilig tussen hulle! Die tronksel is gegrendel en gesluit en buite staan nóg twee wagte, net vir ingeval. Skielik skrik Petrus wakker. Voor hom staan ‘n hemelse wese, ‘n engel. “Hoe salig!” dink Petrus. “Wat ‘n wonderlike droom!” In sy “droom” val die kraaines van kettings sommer vanself van hom af. Petrus trek saggies sy klere aan, sodat die soldate nie dalk wakker word nie. In ‘n waas swaai die swaargegrendelde tronkdeur voor hom oop en hy word deur die engel uitgelei na buite. Die deurwag se aandag is elders en stilletjies sluip Petrus en sy engel verby hom sonder dat hy eers iets agterkom. Petrus skrik hom nugter-wakker as hy ‘n tweede wag sien. Skielik besef hy dat hierdie beslis nie ‘n droom is nie maar die ware werklikheid. Maar ook die tweede wag kom nie agter dat daar twee persone is wat by hom verbysluip nie. Dan is hulle buite in die straat en Petrus kan asemhaal. Hy wou nog vir die engel dankie sê maar skielik is hy net weg - verdwyn soos mis voor die son!

Eers nóú dring die werklikheid tot Petrus deur. Haastig draf hy na die plek waar die gelowiges gewoonlik bymekaar kom, die huis van Maria, Johannes Markus se ma. Hy hamer aan die deur: “Maak oop, dis ekke!”

Rodé, die diensmeisie gaan hoor wie dié tyd van die nag klop: “Wie’s daar?” Sy is maar baie skrikkerig met Herodus se soldate wat nou so tydig en ontydig mense arresteer!

“Dis ek, Petrus! Maak oop!”

“Maar dit kan mos nie wees nie!” dink sy en sonder om eers vir hom oop te maak hardloop sy opgewonde na die biddende gemeente.

“Petrus is vry!” babbel sy dit uit, “Petrus is by die deur!”

Intussen skud die arme Petrus net sy kop. Hy staan nog stééds buite en hy klop weer 'n slag.

Die gemeente is erg ontwrig deur die meisie se onderbreking: “Stil, Rodé! Kan jy nie sien dat ons besig is om te bid nie? Dis Petrus se gees - sy engel.”

“Nee, is nie!” hou sy vol. “Petrus is by die deur, kom kyk sélf!”

Die vreugde was natúúrlik baie groot om Petrus lewend en vry te sien! Nie almal het egter oorgeloop van blydskap nie. Herodus wou slange vang! Hy was woedend oor die “onbeholpenheid” van sy soldate en hulle moes baie duur daarvoor betaal. Hulle het met hulle lewens geboet vir daardie onverskoonbare misstap. En Herodus? Selfvoldaan het hy op sy troon gesit en regeer met ‘n gebalde vuis. Sy bewonderaars het hom vereer as ‘n god en Herodus Agrippa I het hierdie aanbidding ingedrink. Maar hy het nie met die ware God rekening gehou nie. ‘n Afgryslike einde het op hom gewag: hy is later lewend deur wurms verteer …….

Ten spyte van Herodus se wrede vervolging, het die kerk geblom en uitgebrei!

God se liefde is oneindig groot en nét so groot is Sy wonderlike genade. Hy maak bemoeienis met Petrus in die tronk. Nét so maak Hy ook bemoeienis met my en jou! Een ding moet ons egter onthou en dit is dat jy nie met God mors soos Agrippa gedoen het nie! Al is Hy bereid om na ons vlak neer te daal, is en bly Hy steeds die Koning van alle konings én die Almagtige, Heerser oor die heelal!

Gebed:

Dankie Here, dat ek ‘n groot en almagtige God kan aanbid, die enigste ware God, die Een vir Wie absoluut niks onmoontlik is nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026