Handelinge 10:23-48
Gister het ons gehoor van Petrus se visioen van die onrein diere, en hoe hy moes uitvind dat sy stoere Joodse tradisies begin wankel het. Daardie nag slaap die drie gesante wat Cornelius gestuur het om hom te laat haal, by hom en Simon die leerlooier aan huis. Maar ek dink dat Petrus die hele nag nooit ‘n oog toegemaak het nie! Hy het nie geweet wat om te verwag nie. Vir die eerste keer in sy lewe moes hy nou by nie-Jode - heidene tuisgaan. Sê nou maar hulle leefwyse is radikaal verskillend van syne? Sê nou maar hulle bied hom kos aan wat nie strook met die wette wat hy al die jare so getrou onderhou het nie! Wat moet hy dán doen? As hulle byvoorbeeld vir hom varkvleis sou voorsit - moet hy dit maar gedweë eet? Die Here het immers so pas in ‘n visioen vir hom laat weet dat hy nie onderskeid mag tref nie. Hy moes hoor dat alles rein is, selfs die onrein diere wat in Moses se wet so duidelik beskryf is. Dit sou slegte maniere wees as hy dit sou weier!
Petrus besluit dat hy gemakliker sou voel as hy ‘n paar vriende kon saamneem na Ceasarea en vroegoggend sleep hy ses manne by. Dit moes seker baie mooi verduideliking van Petrus se kant af gekos het om daardie manne so ver te kry om saam te gaan. Skielik was dit nou nie net meer Petrus wat sy tradisies moes oorboord gooi nie maar ook sy reisgenote. Hoe moes hy vir hulle verduidelik dat al die dinge wat hulle al die jare beskou het as onrein, nou skielik rein geword het? Die reis het ‘n volle dag geduur en dalk was dit ook maar goed so, want Petrus het baie gehad om aan sy reisgenote te verduidelik!
Toe hulle die volgende dag by Cornelius se huis aankom was hierdie hooggeplaaste soldaat se agting vir Petrus só groot, dat hy voor hom neerkniel uit eerbied vir die "groot prediker." Petrus was skoon onthuts en baie gou moes hy eers die sakie regstel dat hy maar net ‘n doodgewone mens is. Petrus en sy medereisigers word hartik binnegenooi. Dáár wag ‘n groot aantal mense in groot opgewondenheid om hierdie Godsman, waaroor die hele wêreld so gons te ontmoet!
Petrus moes sekerlik eers ‘n slag diep asemhaal voordat hy kon praat. “Julle besef seker dat ek 'n Jood is? Julle weet dat dit vir 'n Joodse man verbode is om met iemand van 'n ander volk te assosieer of hom te besoek. God het egter aan my getoon dat ek geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie. Daarom het ek sonder huiwering gekom toe ek ontbied is.” Petrus moes sy woorde baie mooi tel om op niemand se tone te trap nie!
Dit was ‘n reuse stap in Petrus se lewe. Stel jouself maar voor: as jy as "bevoorregte" in die apartheidsera grootgeword het met tradisies wat oor baie jare in jou ingehamer is oor kleur- en kultuurverskille, nou skielik uitgenooi word deur jou huiswerker om ‘n aand saam met haar gesin deur te bring. Julle klim in jou motor en sy beduie die pad na Soweto. Jy is bang want jy weet nie wat om te verwag nie. Jy was immers nog nooit in Soweto nie! Jy kom naderhand agter dat dit nie so anders is as in ‘n gemiddelde voorstad nie, maar dan beduie sy vir jou in die agterstraatjies in. Hoe verder julle ry, hoe slegter word die pad en hoe kleiner en meer armoedig raak die huisies. Jou hart spring in jou keel as julle uiteindelik ‘n krotbuurt binnery waar daar skaars genoeg plek is vir jou blink motor om tussen die blikhuisies deur te skuur. Haar huisie bestaan uit ou, geroeste sinkplate wat aanmekaargetimmer is. Die toilet is ‘n ent weg en vir ‘n dosyn huishoudings se gebruik. “Dis my paleis!” ruk sy jou terug na die werklikheid. “Kom asseblief binne.” 'n Paar kindertjies met loopneusies borrel by die deur uit en kom hang grootoog om jou bene.
“Moet ek die nag hier deurbring?” Jou gedagtes is verward. “Maar ek kan mos nie! My kultuur …… my agtergrond!” Buite blêr ‘n blikkerige radio Afrika-musiek terwyl jy ongemaklik op ‘n lendelam stoel neersak. “Hierdie gaan ‘n laaaaaang nag wees!”
Moontlik moes Petrus-hulle ook so gevoel het! Ėén ding het Petrus egter geweet: God het hom sélf hierheen gestuur! Cornelius bevestig dit ook, want hy vertel dat ‘n engel van God aan hom ‘n boodskap gegee het om Petrus te laat haal. Moontlik het Petrus ook gedink dat daar vir hom ‘n bitter lang nag sou voorlê. Daar was egter só baie wat hy vir Cornelius en sy gaste wou sê, dat die tyd verbygevlieg het. Hy het hulle vertel van Jesus en van verlossing en van vergewing van sondes. Dan gebeur die groot wonder: mense word gelowig! Diegene wat geglo het in Jesus, word gedoop en hulle ontvang die Heilige Gees.
Die lang nag in Soweto kan ook in ‘n oogwink verbygaan as jy eers begin gesels oor God se genade en verlossing en die ewige lewe. En skielik sal jy agterkom dat die grootste kultuurverskille en selfs die haglike omstandighede waarin jy verkeer, verdwyn wanneer die Heilige Gees deur jou werk en jy die wonderlike boodskap van die Evangelie en ‘n volheidslewe in Jesus Christus met iemand anders kan deel. Skielik is dit nie meer ‘n wit baas en ‘n swart bediende wat sukkel om te kommunikeer nie, maar bloedfamilie in Jesus Christus wat heerlik gesels!
Gebed:
O Here, daar is nog so baie vooroordele in my lewe, so baie dinge wat skeiding maak tussen my en mense wat anders as ek is. Help my asseblief om te breek met daardie tradisies wat keer dat ek die blye boodskap met elkeen kan deel!