Paulus

21 June, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Paulus

Galasiërs 1:11-24

Video

Oudio

Paulus is seker een van die interessantste mense uit die ganse geskiedenis. Daar is dan ook al verskeie boeke oor hom geskryf. Ek het sélf ‘n paar jaar gelede die stoute skoene aangetrek om ‘n reeks oordenkinge oor die ondervindinge van Paulus te skryf. Jy kan hom gratis aflaai op ons webwerf.

Paulus is waarskynlik die Bybelfiguur waarvan ons die meeste weet, want deur Handelinge en die talle briewe van hom wat bewaar gebly het, leer ons hom ken, met al sy vreugdes, sy smarte, sy vrese en die riller-dramas waardeur hy telkens gegaan het. Inderdaad het hy verskeie kere die dood in die oë gestaar en selfs getart! Hy is gegésel, opgesluit in die tronk, met klippe bestook, uitgejou, deur ‘n slang gepik, ‘n paar keer skipbreuk gely en uit stede gejaag!

Maar daar was ook die talle mooi tye in sy lewe. ’n Menigte heidene het onder sy prediking tot bekering gekom en gemeentes regoor die wêreld het tot stand gekom onder sy hand. Vurige leraars het onder sy leiding ontwaak. Daar was ook humor, soos die nag toe sy preek so lank aangehou het dat een kêrel aan die slaap geraak het en by die venster uitgeval het. Eintlik was dit half ‘n tragedie, want die man het homself te pletter geval, morsdood! Paulus het egter vir hom gebid, en hy het ontwaak uit die dood! Daarna het Paulus doodluiters voortgegaan met sy preek!

Paulus het grootgeword in Tarsus, en as jong seun het sy pa hom na Jerusalem geneem om te studeer onder die beroemde leermeester Gamaliël. Daar het hy ‘n uiters deeglike kennis van die wet en al die geskrifte opgedoen, iets wat in sy later lewe vir hom van onskatbare waarde was.

Paulus het sy prediking baie ernstig opgeneem, en in hierdie paragrafie van sy brief verduidelik hy waarom. Daardie Damaskus-ervaring wat hy gehad het, het sy ganse lewe omgeswaai. Hy was ‘n fanatiese Fariseër wat die kerk wreed vervolg het. Hy het talle Christene in die tronk gesmyt, want hy kon hierdie “sekte” net eenvoudig nie verdra nie! Hy was selfs deels verantwoordelik vir die moord op Stefanus, hy het toegekyk hoedat sy kollegas Stefanus wreed doodgooi met klippe. Dit kon nie anders as moord beskryf word nie!

En toe kom Jesus in ‘n visioen na hom op die pad na Damaskus, op net nóg een van sy fanatiese vervolgings-ekspedisies. Die opgestane Jesus raak vir Paulus só dramaties aan dat daar ‘n oombliklike ommekeer in sy lewe is. Dit was beslis nie maklik vir Paulus nie, want nou het die Jode hom verwerp omdat hy skielik “sag” geword het en homself aan die “vyand” se kant geskaar het. Aan die ander kant het die Christen-gelowiges hom steeds gewantrou. Hulle het gewonder of dit nie maar net ‘n slinkse skelmstreek was om hulle by te kom nie? Dit het gekos dat hy moes uitwyk na Arabië, waar hy waarskynlik ‘n deeglike studie gemaak het van hierdie nuwe geloof waarin hy hom bevind het. Eers drie jaar later kon hy terugkom. Algaande het sommige gelowiges hom eers baie skepties begin vertrou. Vir Paulus het dit bitter harde werk beteken om die gelowiges se vertroue te wen.

Maak al hierdie harde werk en dít wat hy moes deurmaak van hom ‘n “goeie Christen”? Paulus reken nie so nie. Dit was God wat in Sy groot genade vir Paulus geroep het om hierdie dinge te vermag. Paulus vertel hierdie dinge vir die Galasiërs, nie om te wys hoe hard hy gewerk het of hoe goed hy was nie, maar om daardeur vir hulle te bewys dat die evangelie wat hy verkondig waar is en van God af kom. Maar ook dat hy met die gesag van ‘n ware Apostel die dinge aan hulle verkondig. Hulle moet dus deeglik kennis neem dat die “alternatiewe evangelie” wat hulle gehoor het daarom vals is. Tweedens wil hy hiermee ook God se groot genade beklemtoon, selfs oor ‘n eertydse fanatiese kerkvervolger soos hy. Niemand se sonde is te groot vir God om te vergewe nie!

Die lewensverhaal van Paulus lees soos ‘n boeiende roman wat jou hartsnare roer. Dit is propvol spanning, maar het terselfdertyd ook oomblikke wat so mooi is dat jy die trane van aandoening nie kan keer nie. Dit is egter veel meer as net ‘n storie, want uit hierdie verhaal leer ons van God se groot genade en liefde en dus slaag Paulus se verhaal daarin om sinvol te wees vir elke leser.

Paulus se lewensverhaal moet ook vir jou en my as gewone mense aanspoor om ons lewe aan die Here te wy. Jy hoef nie ‘n voltydse predikant te wees om vir Hom te kan werk nie. Paulus was ‘n tentmaker van beroep, en hy het daarmee genoeg verdien om die evangelie regoor die wêreld te verkondig. Jy kan voltyds werk en steeds die evangelie uitdra, wees net kreatief! Ek weet van baie mense wat op uiters kreatiewe maniere die Woord so verkondig. Ek self is nie ‘n predikant nie, ek werk deeltyds vir die kerk en vul my inkomste aan deur boeke te publiseer. Maar die dagstukkies wat ek elke oggend skryf bereik daagliks duisende mense. Die groot geheim lê daarin dat jy dit nie uit jou eie krag moet doen nie, maar in totale afhanklikheid van God, want sonder Hom is absoluut niks moontlik nie. Alle eer gaan alleen aan God!

Gebed:

Here, maak my asseblief vandag bruikbaar vir U Koninkryk. Gee my die ywer om op alle moontlike maniere die wonderlike boodskap van die evangelie uit te dra aan die wêreld rondom my.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Verraad in die Nag
30 October, 2026
Getsemane
29 October, 2026
Die Wingerdstok
28 October, 2026
Die Paasmaal
27 October, 2026
Voorberei vir die Dood
26 October, 2026